Baba kos resepte

akkreditasie
Babakos hoef allermins vervelig te wees. Trakteer jou nuwe etertjie op interessante smaakkombinasies wat boonop propvol voedingswaarde is.

Een van die grootste geskenke wat jy jou baba kan gee, is ’n liefde vir gesond en lekker eet. Dis ook ’n geskenk aan jouself, want ’n baba wat vroeg al blootgestel word aan talle genotvolle eetervarings sal nie sommer later as kleuter vol fiemies wees nie.

Vir sukses is daar ’n paar eenvoudige dinge om te onthou ... Die belangrikste is dat jy jou voorneem om ’n positiewe gesindheid teenoor kos en etenstye te openbaar. Jou houding en gesigsuitdrukking gee vir jou baba leidrade oor hoe hy moet reageer op die kos wat jy hom voer.

Jou baba hou jou ook fyn dop om te sien hoe jy reageer as hy dalk iets sou uitspoeg. Hou dus etenstyd lig en ontspanne. Jou doelwit is dat jou baba teen ongeveer 12 maande saam met die res van die gesin begin eet, maar dit sal net gebeur as etenstyd vir hom ’n aangename, positiewe ervaring is.

Moet jou baba nooit dwing om iets te eet wat hy nie wil nie. Vat dit bloot weg, sonder gedoente, en probeer oor ’n paar dae weer, dalk net anders gaargemaak of in ’n ander koskombinasie.

Jy kan gerus maar jou baba se kossies opdollie met dinge soos knoffel, pietersielie, gemmer, kaneel en kruie. Dit sal alles vir interessanter smaakkombinasies sorg en dra ook by tot voedingswaarde. Moet egter nie in die strik trap om suiker en sout by te voeg nie. Suiker en sout is oorbodig en sleg vir jou baba.

Glo ook dat babas van nature gesond wíl eet en werklik ontvanklik is vir nuwe smake en teksture. Moet ook nie lekkergoed as bederfies aanbied nie. Dit skep swak gewoontes wat moeilik is om te breek.

Die gesinsmaaltye op die daaropvolgende blad is vir peuters vanaf een jaar oud, maar die oorskiet kan gerus ook vir baba verpulp word. Onthou net om dan die sout weg te laat.


Eerste kos

Jou baba se eerste kennismaking met kos moet in ’n kalm omgewing geskied. Bied die eerste purees aan as ’n nuwe avontuur vir jou baba om te ontdek en geniet.

Soetpatatpuree

Lewer 300 - 500 ml

  • 2 middelslag soetpatats, geskil en in blokkies gesny
  • 50 ml water
  1. Plaas die soetpatats en water in ’n kastrol en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en prut die patat vir 20 minute of tot sag. Laat effens afkoel en verpulp met ’n stokmenger.
  2. Gebruik die puree as ’n eerste maaltyd vir ‘n baba wat nog leer eet, of meng dit met ander kosse vir ’n baba wat al meer bedrewe is.
  3. Die orige puree kan gevries word.

6-9 maande

Wanneer jou baba al vir ongeveer drie weke goed met purees klaarkom, kan jy begin om nuwe smake en teksture bekend te stel nie. Beskou maaltye as ’n tyd vir nuwe ervarings.

Beet-en-kekerertjies

Lewer 500 ml

  • 1 groot soetpatat
  • 1 klein beet
  • 50 ml water
  • 125 ml (½ k) geblikte kekerertjies, gedreineer
  • 2,5 ml (½ t) kaneel
  • 5 ml (1 t) olyfolie
  1. Plaas die soetpatat, beet en water in ’n kastrol en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en prut die groente vir 20 minute of tot sag. Laat effens afkoel.
  2. Verpulp die kekerertjies, groente, kaneel en olie met ’n stokmenger, maar laat ’n paar klontjies.
  3. Voeg water by om die regte konsistensie vir jou baba te verkry.

9-12 maande

Span baba se groeiende onafhanklikheid in deur vingerkossies voor te sit. Laat sy self doop en eet. Dis goed vir haar ontwikkeling en help keer dat sy nie later fiemies ontwikkel nie. Ontspan oor die gemors.

Baba-salsa

Lewer 150 ml

  • 1 ryp perske, geskil en ontpit
  • 1 middelslag wortel, geskil
  • 1 cm-blokkie vars gemmer, gerasper
  • 15 ml (1 e) suurlemoensap
  • 2,5 ml (½ t) matige kerriepoeier
  • 5 ml (1 t) Dijonmosterd
  1. Kap die perske en wortel fyn in die voedselverwerker.
  2. Voeg die res van die bestanddele by en verwerk weer tot alles gemeng is.
  3. Gebruik dit om vingerkos of hoenderrepies in te doop.
  4. Variasie: Gebruik mango of pynappel.
  5. Wenk: Gebruik 8 perskeskywe uit ’n blik, maar kies die soort wat in sap geblik is.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees