Basiese koek

akkreditasie
Een basiese plaatkoek is vir elkeen van die koekvoorbeelde gebruik. As die tyd druk, kan jy sommer 'n onversierde plaatkoek bestel. Dis egter goedkoper om jou eie te bak. 

Die koek is die hoogtepunt van enige kinderpartytjie. En die grootste pret is natuurlik die versierslag. Die geheim van suksesvolle versiering is dat die versiersel nie te hard moet word terwyl jy daarmee werk nie, wat op koue dae 'n probleem kan wees - veral as dit by die afronding van die koek se rand kom. Hou gerus 'n koppie kookwater byderhand en doop die mes elke af en toe daarin. Dit sal 'n egaliger effek skep. Pas net op dat die versiersel nie te nat word nie. Jy kan ook die koek met 'n spuit en 'n spuitsak versier. 

Resep vir basiese plaatkoek

  • 4 eiers
  • 375ml suiker
  • 10ml vanieljegeursel
  • 500ml bruismeel of koekmeelblom 
  • knypie sout
  • 250ml water (jy kan ook 'n halfkoppie melk en 'n halfkoppie water gebruik)
  • 45ml olie
  • 10ml bakpoeier
  1. Klits die eier en suiker saam en voeg die vanieljegeursel by. 
  2. Klits baie goed tot dit lig en romerig is. 
  3. Sif die meel en sout by die mengsel en vou in. 
  4. Voeg die vloeistof en olie saam. 
  5. Voeg die bakpoeier by die vloeistof en klop dit met 'n lepel tot dit goed skuim. 
  6. Vou die skuimende vloeistof dadelik in die beslag.
  7. Giet die mengsel in 'n gesmeerde pan en bak 25 minute teen 180ºC.

Resep vir basiese botterversiersel

  • 500g versiersuiker
  • 250g botter
  1. Versag eers die botter voor jy die versiersuiker bietjie vir bietjie byvoeg. 
  2. Hierna kan kleur- en geurmiddels van jou keuse ook bykom. 
  3. Jy sal sowat 'n driekwart van die versiersuiker vir die versiering van een koek nodig hê.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees