Lamstjopstapeltjies met geurige koeskoesslaai

akkreditasie

Lamstjops

Maak ’n vuur soos gewoonlik. ’n Weber werk goed omdat jy die tjops vir ’n rukkie oor indirekte hitte kan gaarmaak.

Genoeg vir 4-6

JY HET NODIG

  • 12 lamstjops (ribtjops met beentjies in), beentjies skoongeskraap (vra jou slagter om dit te doen)
  • 30 ml (2 e) olyfolie
  • 30 ml (2 e) balsemiekasyn
  • 2 knoffelhuisies, gekneus en gekap
  • sout en gemaalde swartpeper
  • 6 skyfies (ongeveer 300 g) mozzarellakaas
  • 2 ryp tamaties, elk in 4 dik skywe gesny
  • ½ koppie balsemkruidpesto

MAAK SO

  1. Meng die olyfolie, balsemiekasyn knoffel, sout en peper saam en verf dit oor die lamstjops. Gebruik ’n kwassie om die tjoppies aan albei kante te verf.
  2. Pak ’n skyfie tamatie, gevolg deur mozzarellakaas en balsemkruidpesto op ses van die tjoppies.
  3. Sit die ander ses tjops bo-op en bind die stapeltjies met kombuistou vas. Rooster die tjops vinnig oor direkte kole om te verbruin aan alle kante, ook die vetkant. Wees versigtig vir vlamme.
  4. Skuif dit dan vir sowat 15 minute van die direkte hitte af, maar nog steeds naby genoeg om gaar te raak. Bedruip met die oorblywende olie-en-asyn-mengsel en plaas dan weer terug oor die kole en rooster aan albei kante tot gaar.
  5. Sit voor saam met die koeskoesslaai.

Nog idees:

  • Daar is deesdae ’n verskeidenheid pesto’s verkrygbaar. Probeer ’n sondroë tamatie- of Thai pesto.
  • Fetakaas werk ook baie goed. Krummel dit oor die vleis.
  • Rooster groen, geel en rooi soetrissies en plaas dit op die tjops met die kaas en pesto.

Koeskoes

  • 250 ml (1 k) kookwater
  • 1 e olyfolie en 1 e botter
  • ’n knypie sout
  • 250 ml (1 k) koeskoes
  • ¼ k gerasperde parmesaankaas
  • 500 g (1 pakkie) botterskorsie, in blokkies gesny
  • 45 ml (2 e) olyfolie
  • growwe sout en gemaalde swartpeper na smaak
  • vars tiemie
  • ’n handvol salieblare
  • ¼ k fetakaas, gekrummel
  1. Voorverhit die oond tot 200 ºC
  2. Plaas die botterskorsie in ’n bakplaat en giet die olyfolie bo-oor. Sprinkel met growwe sout, gemaalde swartpeper en tiemieblaartjies. Rooster tot goudbruin.
  3. Maak intussen die koeskoes: Verhit die water, olyfolie, botter en sout in ’n klein kastrol tot kookpunt. Verwyder van die hitte en strooi die koeskoes oor. Bedek en laat staan vir 2-3 minute.
  4. Gebruik ’n vurk om die koeskoes los te maak van mekaar en roer die parmesaan deur.
  5. Roer die geroosterde botterskorsie, salieblare en bokmelkkaas deur die koeskoes en geur met sout en gemaalde swartpeper na smaak.

Vir die baba:

Ek hou atyd ’n pak gevriesde, gemengde groente in die vrieskas. Die voedingswaarde van gevriesde groente is net so goed soos vars groente omdat dit binne ’n baie kort tydperk vandat dit gepluk is, bevries word. Koeskoes werk baie goed saam met baba- worteljies, ertjies en mielies wat vinnig in die mikrogolf gestoom is. Sny die lamsvleis baie fyn en meng deur die groente en koeskoes.

Nog idees:

  • Die vrugte kan met crème fraîche, mascarpone of goeie kwaliteit vanielje roomys voorgesit word.
  • Die vrugte kan ook in die oond gebak word. Giet 500 ml muskadel of brandewyn oor die vrugte en bak vir 30 minute teen 200 ºC.

Geroosterde somervrugte

Genoeg vir 6

Sodra jy die tjops klaar gebraai het, kan jy vinnig die rooster skoon borsel en die vrugte op die koel vuur braai. Eet solank rustig want as almal klaar gesmul het, is die heerlike geroosterde vrugte gereed om te geniet.

JY HET NODIG

  • ’n Verskeidenheid vrugte soos nektariens, pruime en appelkose
  • 45 ml (3 e) heuning
  • 60 ml (4 e) gesmelte botter
  • 50 g (½ pakkie) ongesoute pistasieneute, doppe verwyder
  • 250 ml (1 k) Griekse joghurt

MAAK SO

  1. Halveer al die vrugte en verwyder die pitte. Meng die heuning en die gesmelte botter saam en verf die perskes daarmee.
  2. Pak die perskes met die gesnyde kant na onder op die rooster (nie direk op die kole nie) en eet die braaivleis rustig klaar.
  3. Verwyder die vrugte van die rooster, sprinkel met die pistasieneute en sit voor met die Griekse jogurt.

Kies slim:

  • Pistasieneute is soos die meeste neute ’n goeie bron van proteïene. Ongesoute neute is hoog in kalium wat help met die regulasie van bloeddruk, waterbalans en die versterking van spiere. Dis ook ’n goeie bron van vitamiene E wat die immuunstelsel bevorder.
  • Perskes, pruime en appelkose is ’n goeie bron van yster en kalium. Dit is hoog in vesel en laag in kalorieë. Pruime beskerm die liggaam ook teen vrye radikale en is ’n goeie bron van vitamiene E.
  • Heuning is propvol anti-oksidante wat hartsiektes en kanker voorkom. Dit verskaf ook hope energie en is maklik verteer­baar. Rou heuning is jou beste opsie. Babas onder een jaar moet liefs nie heuning eet nie aangesien hulle moontlik  ’n allergiese reaksie kan hê.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees