Maklike partytjiekoek: Seerower

akkreditasie
Bak self 'n seerowerkoek deur dié eenvoudige (maar baie effektiewe) plan met klaarbereide plastiese versiersel te volg.

Koekresep 1:

Jy benodig:

150 g botter

¾ koppie strooisuiker

1 teelepel vanielje-ekstrak

2 eiers

1 ½ koppies meelblom, gesif

3 teelepels bakpoeier

¾ koppie melk

Maak so:

1. Voorverhit die oond tot 160 °C.

2. Gebruik ‘n elektriese koekmenger en klits die botter, vanielje en suiker in ‘n bak tot lig en romerig.

3. Voeg die eiers een vir een by en klop tot goed gemeng.

4. Voeg die meelblom, bakpoeier en melk by en klits tot gekombineer.

5. Skep die mengsel in ‘n koekpan wat uitgevoer is met bakpapier en bak vir 50 minute of tot gaar.

6. Laat afkoel in die koekpan vir tien minute voor jy dit uitkeer op ‘n koekrak. Laat heeltemal afkoel voor jy begin versier.

Hierdie resep is genoeg vir ‘n reghoekige pan van 20cm by 30 cm, of ‘n ronde koekpan van 22 cm.

Seerowerkoek

Jy benodig:

22 cm ronde koekpan
500 g plastiese versiersel (ons het Sugarbird se Ready to Roll gebruik, wat beskikbaar is by Pick n Pay)
125 ml botterversiersel
Pienk, swart en rooi kleursel
Rooi vilt
Swart drop
Lint

Maak so:

1. Bak die koek en laat dit heeltemal afkoel. Smeer ‘n dun laag botterversiersel oor die hele koek.

2. Rol ‘n derde van die plastiese versiersel uit tot 5 mm dik en drapeer oor die koek. Sny die randjies netjies. Gebruik die oorskiet, meng met pienk voedselkleursel en rol dit weer uit. Sny die wange en die neus met ronde koekievorms uit.

3. Kleur nog ‘n derde van die versiersel rooi en rol dit uit in ‘n halfsirkel. Drapeer dit oor die boonste deel van die koek om die kopband te vorm. Sny die randjies netjies by die basis en werk af met lint.

4. Die laaste derde van die versiersel moet in gelyke dele swart en wit kolletjies gemaak word.

5. Sny ‘n halfsirkel van die swart versiersel en sit dit in posisie. Maak vas met dun stukkies drop om die oogklap af te rond.

6. Sit kolle op die kopdoek. Sny blaarvorms uit die rooi vilt, knyp dit saam en maak aan die kant van die koek vas met ‘n tandestokkie.

7. Voltooi die seerower se gesig soos dit vir jou goed lyk.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees