Pak keurige kosblikke

akkreditasie
Die grootste toets vir ’n lekker kosblik is of dit smiddae leeg huis toe kom. Beproef ons idees en pak heerlike, gesonde kosblikke.

Stylsel moet die basis van jou kind se kosblik vorm, sê Lauren Ponting, ’n Kaap-stadse dieetkundige wat in kinders  spesialiseer. “Kosblikke moet vier boustene hê: ’n stysel soos brood, beskuitjies of pitabrode wat energie verskaf; proteïne soos grondboontjiebotter of suiwelprodukte om die liggaam gesond te hou en te help herstel; vrugte of groente vir vitamiene en minerale; en ’n vloeistof soos verwaterde vrugtesap of melk, maar verkieslik water.”

Onthou dat die kosblik die tweede maaltyd van die dag behoort te wees. “Ontbyt bly die belangrikste maaltyd van die dag,” sê Lauren. “Probeer om die dag te begin met pap wat ’n hoë veselinhoud het, soos hawermout of Weet-Bix. Roosterbrood met eier of grondboontjiebotter is ook maklik en vinnig om voor te berei. Gee daarmee saam ’n vrug soos ’n opgesnyde piesang in die pap of vrugtesap gemeng met water.”

’n Gesonde en interessante kosblik verg beplanning, veral as jy net een keer ’n week by die winkel uitkom. Gebruik vars produkte met ’n beperkte rakleeftyd soos bruinbrood en vrugte vroeër in die week, en dinge soos droëvrugte, grondboontjies en vrugtestafies later. Probeer ook jou week se maaltye in hul geheel sien – gisteraand se oorskietpasta kan môre se pasta-slaai word.

“Probeer om oral ’n bietjie vrugte of groente by te voeg,” sê Lauren.

“As jy ’n hoender-mayonnaise-toebroodjie maak, kan jy opgesnyde kropslaai of gerasperde komkommer bymeng. Vars piesang werk weer lekker saam met grondboontjiebotter of roomkaas.”
Die kanse is goed dat jou kind nie die lemoen gaan eet as sy dit self moet skil nie – doen dus maar moeite, skil self en sit dit in ’n sakkie. En gesnyde appelwiggies is meer gewild as ’n heel appel. As jy die vorige aand vrugteslaai vir nagereg gemaak het, stuur dit die volgende dag in ’n aparte bakkie saam. Haal net verkleurde vrugte uit en vervang met vars piesang.

Die kosblik is amper net so belangrik soos die kos binne-in. Kyk uit vir kosblikke met kompartemente, want baie kleuters hou nie daarvan as verskillende kosse aan mekaar raak nie. Was die houertjies uit wat jy dikwels saam met wegneemetes kry – die klein houertjie met die dekseltjie waarin jou soesji se sojasous kom is perfek vir tamatiesous saam met ’n paar koue visvingers.

Beplan rondom jou kleuter se vermoë en ontwikkelingstadium. Teen twee en ’n half word sy meer selfstandig en word dit vir haar belangrik om dinge op haar eie te doen. Pak ’n klein bakkie jogurt met ’n teelepel in ’n sakkie – suiwelprodukte is ’n belangrike bron van proteïne en sy sal dit geniet om haarself te voer.

Baie skole verbied lekkers en aartappelskyfies in kosblikke. Dit beteken egter nie dat jy geen snoeperye kan inpak nie – kies net gesonde alternatiewe soos ontbytgraanstafies, ryskoekies met ’n jogurtlagie, kaaswiggies en klein pakkies met grondboontjies en rosyntjies.

Onthou om ’n nat lappie in ’n plastieksakkie te sit sodat jou kind self haar handjies kan afvee.    

Laai die kosblikkie.jpg hier af en druk uit!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees