Prinsespop-koek

akkreditasie
Bak self 'n Prinsespop-koek deur ons eenvoudige (maar baie effektiewe) planne met klaarbereide plastiese versiersel te volg.

Resep 1:

Jy benodig:

  • 150 g botter
  • ¾ koppie strooisuiker
  • 1 teelepel vanielje-ekstrak
  • 2 eiers
  • 1 ½ koppies meelblom, gesif
  • 3 teelepels bakpoeier

¾ koppie melk

Maak so:

  1. Voorverhit die oond tot 160 °C.
  2. Gebruik ‘n elektriese koekmenger en klits die botter, vanielje en suiker in ‘n bak tot lig en romerig.
  3.  Voeg die eiers een vir een by en klop tot goed gemeng.
  4.  Voeg die meelblom, bakpoeier en melk by en klits tot gekombineer.
  5.  Skep die mengsel in ‘n koekpan wat uitgevoer is met bakpapier en bak vir 50 minute of tot gaar.
  6.  Laat afkoel in die koekpan vir tien minute voor jy dit uitkeer op ‘n koekrak. Laat heeltemal afkoel voor jy begin versier.

Hierdie resep is genoeg vir ‘n reghoekige pan van 20cm by
30 cm, of ‘n ronde koekpan van 22 cm.

Resep 2:

Jy benodig:

  • 300 g botter
  • 1 ½ koppies strooisuiker
  • 2 teelepels vanielje-ekstrak
  • 4 eiers
  • 3 koppies meelblom, gesif
  • 1 ½ eetlepels bakpoeier
  • 1 ½ koppies melk

Maak so:

  1.  Voorverhit die oond tot 160 °C.
  2.  Klits die botter, vanielje en suiker in die koekmenger tot lig en romerig.
  3. Voeg die eiers een vir een by en klop tot goed gemeng.
  4.  Voeg die meel, bakpoeier en melk by en klop tot gekombineer
  5.  Skep die mengsel in ‘n koekpan, uitgevoer met bakpapier en bak vir ‘n uur en 10 minute of tot gaar.
  6.  Laat afkoel in die koekpan vir 20 minute voor jy dit uitkeer op ‘n koekrak. Laat heeltemal afkoel voor jy begin versier.

Hierdie resep is genoeg vir twee reghoekige koekpanne van
20 cm by 30 cm, of twee ronde koekpanne van 22 cm.

Prinseskoek:

Jy benodig:

  • Pyrexbak of koekpan in die vorm van ‘n romp
  • Ronde koekpan
  • 500 g plastiese versiersel (Sugarbird Ready to Roll)
  • 250 ml botterversiersel
  • Petit Fleur-versierings
  • Pop

Maak so:

  1.  Bak die pop se rok deur jou diep koekpan of bak vol te maak met koekresep 2 se deeg. Bak nog ‘n ronde koek vir die onderkant van die rok met koekresep 1.
  2.  Laat altwee koeke heeltemal afkoel.
  3. Smeer ‘n dun laag botterversiersel op die ronde koek en plaas die romp-koek bo-op. Jy sal die koeke dalk bietjie moet sny sodat hulle mooi pas.
  4. Smeer altwee koeke met botterversiersel.
  5.  Rol die plastiese versiersel uit tot 5 mm dik. Laat lê dit oor jou koekroller en tel dit versigtig op sodat jy dit oor die hele koek kan drapeer en sodat dit mooi voue maak.
  6.  Druk versigtig jou pop in die koek in sodat sy in die koek te staan kom.
  7.  Versier die koek met petit fleurs om af te rond.

WENK: Jy kan die pop se bene verwyder en net haar lyf in die koek indruk.

WENK: Om die petitfleurs aan te bring gebruik ‘n klein bietjie botterversiersel as ‘gom’. Sit die botterversiersel in ‘n plastieksakkie, maak ‘n klein gatjie, en druk dan ‘n bietjie versiersel daardeur op die pop se rok en sit dan die petit fleurs daaraan vas.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees