Voedsame viskoekies

akkreditasie
Viskoekies klink na baie moeite, maar as jy slim kook kan jy sommer ’n klomp maak vir aand¬ete en vir die vrieskas. Vries dit een-een in kleefplastiek met die datum op en haal dit uit vir vinnige middagetes en kosblikhappies.

Genoeg vir 12 – 15 koekies

JY HET NODIG

VISKOEKIES

  • 500 g gaar stokvisfilette
  • 300 g gaar aartappels, fyn gedruk
  • 60 ml gerasperde ui
  • 50 ml gekapte Italiaanse pietersielie
  • 1 wortel, gerasper
  • 125 ml (½ k) ertjies
  • gerasperde skil van 1 suurlemoen
  • sout en gemaalde swartpeper
  • gerasperde neutmuskaat
  • 1 eier, geklop

KORSIE

  • koekmeelblom
  • 1 eier, geklop
  • 250 ml droë broodkrummels
  • 30 ml olyfolie

MAAK SO

  1. VISKOEKIES: Vlok die vis in klein stukkies (wees versigtig vir grate). Voeg die aartappels, ui, pietersielie, wortel, ertjies en suurlemoenskil by. Geur met sout, gemaalde swartpeper en gerasperde neutmuskaat.
  2. Voeg die eier by en meng goed. Vorm die koekies met die hand.
  3. KORSIE: Nou kom die harde werk. Kry sommer die kinders om hand by te sit met die dopery; vele hande maak ligte werk. Doop die viskoekies in die koekmeelblom en skud die oortollige meel af.
  4. Verf die viskoekie met die geklopte eier (gebruik ’n kwassie, dis minder morsig) en doop dit dan in die broodkrummels. Plaas die viskoekies in die yskas vir 15 – 30 min.
  5. Voorverhit intussen die oond tot 200 °C. Pak die viskoekies op ’n bakplaat uit en verf die olyfolie bo-oor. Bak in die oond tot goudbruin en gaar. Draai een keer om.

Kook slim

  • Verdubbel die resep en vries die rou viskoekies. Verpak elke viskoekie in ’n plastieksakkie of met stukkies waspapier tussen-in en maak later ’n vinnige middagete daarvan.
  • Maak dit nog meer voedsaam deur die helfte van die aartappel met soetpatat te vervang.
  • Maak heerlike visburgers: Rooster snye ciabatta en maak ’n lekker salsa van gekapte tamatie, soetrissie en uie. Sit voor met hande vol
  • roketblare.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees