KASERIGE QUESADILLAS

Vir die kosblik

Bestanddele

  • 2 gekoopte tortillas
  • 125 ml (½ k) gerasperde kaas
  • 2 vellose hoenderborsies, gaargemaak en in fyn repies gesny
  • 1 tamatie, gekap

Gaan só te werk

1. Plaas 1 tortilla in ’n verhitte pan.

2. Sprinkel die kaas oor en pak die hoender en tamatie bo-op. Plaas die ander tortilla bo-op.

3. Braai die onderste tortilla vir ‘n minuut of wat. Keer die gereg met die hulp van ’n bord om. Braai die onderste tortilla.

4. Verwyder die gereg van die hitte, sny in wiggies en sit voor of pak in ’n kosblik.

Quesadillas

BABAPASTA

Vanaf 9 maande

Bestanddele

  • 10 ml (2 t) kanola-olie
  • 1 prei, gewas en fyn gesny
  • 50 g vellose hoenderborsie, in fyn stukkies gesny
  • 50 g fyn pastavormpies
  • 125 ml (½ k) hoenderaftreksel (kies een met min sout)
  • 15 ml (1 e) tamatiepasta
  • 30 ml (2 e) maaskaas
  • 15 ml (1 e) gekapte basiliekruid

Gaan só te werk

1. Verhit die olie in ’n kastrol en braai die prei sowat 5 minute tot sag. Voeg die hoender by en braai ’n paar minute. Voeg die pasta, aftreksel en tamatiepasta by, plaas die deksel op en laat 10 minute prut.

2. Verwyder van die hitte en roer die maaskaas en gekapte basiliekruid by.

3. Druk die pasta met ’n vurk ’n bietjie fyner om by jou baba se kouvermoë te pas. As jou baba nog glad nie tekstuur eet nie, kan jy dié maaltyd in ’n puree verander. Jy kan die gereg in twee verdeel – een porsie wat dadelik geëet kan word en een wat gevries kan word.

Pasta

KRUMMELREPIES

Peuter-gunsteling

Bestanddele

  • 250 ml (1 k) broodkrummels
  • 2 vellose hoenderborsies, in lang stroke gesny
  • 125 ml (½ k) gerasperde parmesaankaas
  • 15 ml (1 e) olie
  • 125 ml (½ k) koekmeel
  • 2 eiers, liggies geklits

Gaan só te werk

1. Verhit die oond tot 180 °C.

2. Sprinkel die broodkrummels egalig oor ’n bakplaat en bak tot goudbruin. Sny intussen die hoender in repies.

3. Skep die broodkrummels in ’n vlak bak, voeg die parmesaankaas by, bedruip met bietjie olie en roer om te meng.

4. Plaas die meel en eiers elkeen in ’n vlak bak. (Jy het dus drie bakke: een met die gegeurde broodkrummels, een met die eier en een met koekmeel.)

5. Verhoog die oond se temperatuur tot 200 °C.

6. Plaas ’n draadrak bo-oor ’n bakplaat en spuit dit met kossproei.

7. Werk stuk-stuk en doop die hoenderrepe eers in die meel. Skud oortollige meel af, doop in die eier en laastens in die broodkrummels. Pak die gekrummelde hoenderstukke op die rak.

8. Bak sowat 12 minute tot die hoender gaar is. Draai die repe halfpad om.

Vir makliker hantering: Plaas die gekrummelde hoenderrepe 15-30 minute in die yskas voor jy dit gaarmaak.


Krummelrepies

HOENDERBOLOGNESE

Vir die hele gesin

Bestanddele

Frikkadelle

  • 500 g hoendermaalvleis, so gekoop of in jou voedselverwerker fyngemaak
  • 1 ui, gerasper
  • 1 eier, geklits
  • 60 ml (¼ k) Italiaanse pietersielie, gekap
  • 125 ml (½ k) hawermoutsemels
  • sout en peper na smaak, kanola-olie, olyfolie en meel vir braai

Tamatiesous

  • 1 ui, gekap
  • olyfolie vir braai
  • 2 blikke (410 g elk) heel geskilde tamaties
  • 5 ml (1 t) suiker
  • 60 ml (¼ k) basilieblare, gekap

Vir voorsit

  • gaar spaghetti
  • parmesaankaas vir oorstrooi

Gaan só te werk

1. Voorverhit die oond tot 180 °C.

2. Frikkadelle: Meng die hoender, ui, eier, pietersielie en semels. Geur.

3. Rol in klein balletjies en pak op waspapier. Bedek en verkoel 15-30 minute in die yskas om styf te word.

4. Verhit die olie in ’n pan, doop elke vleisballetjie in meel en skud die oortollige meel af. Braai sowat 4 minute vlak aan elke kant.

5. Dreineer die frikkadelletjies op kombuispapier en bak nog 5 minute in die oond.

6. Tamatiesous: Braai die ui in olyfolie tot goudbruin. Voeg die tamaties by, asook die suiker en basilie. Druk die tamatie met ’n vurk pap en laat 15 minute prut.

7. Vir voorsit: Skep die sous en frikkadelle oor die gaar spaghetti en rasper ’n bietjie parmesaankaas bo-oor.

Bolognese