Smullekker Kerskrans
Smullekker Kerskrans

Smullekker Kerskrans

Bestanddele

  • 12 kersietamaties
  • 5 bocconcini-balletjies
  • 1 heel broccolikop, gewas en in stukke gesny

Vir die doopsous

  • 1 avokado
  • ½ bakkie maaskaas

Gaan so te werk:

1. Stoom die broccoli liggies tot net-net gaar (sowat 5 minute). Dreineer en laat afkoel. 

2. Rangskik die broccoli-blommetjies, kersietamaties en bocconcini-balletjies in ’n groot sirkel op ’n groot plat bord om ’n krans te vorm.

3. Doopsous: Druk die avokado fyn en meng met die maaskaas.


Eiersterre
Eiersterre

Eiersterre

Bestanddele

  • 1 eier
  • 60 ml (¼ k) melk
  • 2 snye dagoue witbrood, in stervormpies gesny 
  • 15 ml (1 e) botter 
  • aarbeikonfyt, vars bessies en versiersuiker vir voorsit

Gaan so te werk

1. Klits die eier en melk saam en giet in ’n vlak bak. Doop die broodsterre in die eiermengsel.

2. Verhit die botter in ’n kleefvrye pan en braai die eiersterre aan albei kante tot goudbruin en gaar.

3. Sit ’n stapeltjie eiersterre voor saam met die konfyt en bessies. Sprinkel die versiersuiker oor. 

Bloubessie-en-boerenkool-puree
Bloubessie-en-boerenkool-puree

Bloubessie-en-boerenkool-puree

Bestanddele

  • 1 appel, geskil, ontkern en in blokkies gesny
  • 60 ml (¼ k) water
  • 250 ml (1 k) bloubessies
  • 60 ml (¼ k) boerenkoolblare, gewas en ontstingel

Gaan so te werk

1. Plaas die appel en water in ’n kastrol en laat opkook. Verminder die hitte tot laag, bedek en laat sowat 8 minute prut tot die appel sag is. Voeg die bloubessies en boerenkool by en laat nog 2 minute prut.

2. Dreineer die vrugte, maar hou die vloeistof eenkant om die puree te verdun indien nodig. Maak die vrugtemengsel glad met ’n stokmenger.

Worsboompie
Worsboompie

Worsboompie

Bestanddele

  • 12 hoender-chipolata-worsies
  • olie vir braai
  • 4 kersietamaties
  • 1 geel soetrissie, in sterretjies gesny
  • 4 kebabstokkies

Gaan so te werk 

1. Maak die worsies in ’n bietjie olie gaar tot goudbruin. Laat effens afkoel.

2. Ryg ’n kersietamatie, soetrissie-sterretjie en drie worsies van kort na lank op die kebabstokkies om boompies te vorm. 

3. Verkoel goed voor jy vir jou baba ’n porsie gee. Vries die res in klein porsies vir latere gebruik. Dit kan tot 9 maande in die vrieskas gehou word.