Melkkos
Melkkos

MELKKOS

Bestanddele

  • 5 ml (1 t) botter
  • 250 ml (1 k) bruismeel
  • 3 eiers
  • knippie sout
  • 250 ml (1 k) water
  • 1 liter (4 k) melk
  • 2 kaneelstokkies
  • suiker en kaneel vir voorsit

Gaan so te werk

1. Vryf die botter met jou vingers by die bruismeel in.

2. Klits 1 eier en die sout liggies in ’n ander bak saam.

3. Meng die meelmengsel goed met die eiermengsel. Voeg net genoeg water by om ’n deeg te vorm.

4. Knie die deeg in die bak tot dit elasties begin word.

5. Strooi meel op ’n skoon, gladde oppervlak en rol die deeg uit tot dit sowat 5 mm dik is. Strooi ’n laag meel bo-op en rol die deeg op.

6. Sny die deeg in dun wiele.

7. Giet die melk in ’n kastrol, voeg die kaneelstokkies by en laat opkook.

8. Klits intussen die twee oorblywende eiers in ’n groot bak en voeg die kokende melk bietjie vir bietjie by tot die mengsel louwarm is. Klits aanhoudend.

9. Giet alles terug in die kastrol. Voeg die deegwiele by en roer versigtig sodat die deeg nie breek nie. Laat 20 tot 25 minute prut. Roer gereeld en hou fyn dop, want melkkos brand baie maklik aan.

10. Sit voor met suiker en kaneel.


Boereworsbroodjie
Boereworsbroodjie

BOEREWORSBROODJIES

Bestanddele

SOUS

  • 3 uie, gekap
  • bietjie olie vir braai
  • 1¼ liter (5 k) water
  • 250 ml (1 k) bruinasyn
  • 250 ml (1 k) tamatiesous
  • 250 ml (1 k) worcestersous
  • 425 ml (1¾ k) suiker
  • 15 ml (1e) mielieblom

BROODJIES

  • 6 worsbroodjies
  • 1 rooi soetrissie, gekap
  • sout
  • gebraaide boerewors

Gaan so te werk

1. Sous Braai die uie in die olie tot sag. Voeg die res van die sousbestanddele behalwe die mielieblom by en laat kook.

2. Meng die mielieblom goed met ’n klein bietjie koue water. Roer dit by die sous en laat weer kook. Die sous sal verdik, maar steeds loperig wees. As dit nie genoeg verdik nie, kan nog mielieblom in water opgelos byvoeg word.

3. Broodjies Vul die worsbroodjies met die soetrissie en wors, besprinkel met sout en sit saam met die sous voor.

WENK

Die sous kan drie maande gevries word.


Paptert
Paptert

PAPTERT

Bestanddele

  • 1,1 liter (4¹/³ k) water
  • 10 ml (2 t) sout
  • 625 ml (2½ k) mieliemeel
  • 30 ml (2 e) botter
  • 10 ml (2 t) olyfolie
  • 250 g spek, in blokkies gesny
  • 250 g sampioene, fyngekap
  • sout en peper na smaak
  • 1 ui, fyngekap
  • 1 blik mielies, gedreineer
  • 250 ml (1 k) room
  • 250 ml (1 k) gerasperde cheddarkaas

Gaan so te werk

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n oondvaste bak met die botter.

2. Giet 1 liter water in ’n kastrol, voeg 10 ml sout by en laat kook. Meng die mieliemeel met die res van die water om ’n gladde pasta te vorm. Voeg nog water by indien nodig. Voeg dit by die kokende water en roer aanhoudend sodat geen klonte vorm nie. Bedek en laat 10 tot 15 minute prut.

3. Verhit die olyfolie in ’n pan en braai die spek, sampioene en ui. Voeg sout en peper na smaak by.

4. Skep die helfte van die mieliepap onder in die voorbereide bak. Skep die spekmengsel bo-op en sprinkel die mielies oor. Bedek met die res van die mieliepap en giet die room oor. Sprinkel die kaas bo-op.

5. Bak 30 tot 45 minute.


Bunny chow
Bunny chow

BUNNY CHOW

Bestanddele

VULSEL

  • 15 ml (1 e) olyfolie
  • 1,5 kg beesvleis, in blokkies gekap
  • 4 uie, fyngekap
  • 30 ml (2 e) matige kerriepoeier
  • 15 ml (1 e) bruinasyn
  • 5 ml (1 t) gemengde kerriekruie van jou keuse
  • ½ klein blikkie tamatiepuree
  • 30 ml (2 e) appelkooskonfyt
  • ¼ groen soetrissie, fyngekap
  • 4 wortels, fyngekap
  • 1½ Granny Smith-appels, gerasper

AFRONDING

  • 30 ml (2 e) blatjang
  • 2 heel witbrode
  • jogurt of piesangskyfies vir voorsit

Gaan só te werk

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en spuit ’n oondvaste bak.

2. Vulsel Verhit die olyfolie in ’n pan en braai die vleis tot gaar. Verwyder die vleis uit die pan en braai die uie. Voeg die kerriepoeier en asyn by en roer deur.

3. Skep die vleis, kerrie-uie en die res van die vulselbestanddele in die voorbereide bak, meng goed en bak sowat 40 minute.

4. Afronding Verwyder uit die oond en meng die blatjang deur.

5. Sny elke brood in twee en hol uit om ’n bak te vorm. Skep die vleis in die holte en sit voor met jogurt of piesangskyfies.


Bobotie
Bobotie

BOBOTIE

Bestanddele

  • 2 uie, fyngekap
  • 1 knoffelhuisie, fyngedruk
  • 1 groen soetrissie, fyngekap
  • 1 wortel, gerasper
  • 30 ml (2 e) olie
  • 500 g maer maalvleis (bees of lam)
  • 2 snye witbrood
  • 250 ml (1 k) melk
  • 2 eiers
  • 1 ml (¼ t) sout
  • 15 ml (1 e) kerriepoeier
  • 15 ml (1 e) borrie
  • 5 ml (1 t) fyn kaneel
  • 2,5 ml (½ t) koljander
  • 30 ml (2 e) asyn
  • 125 ml (½ k) pitlose rosyntjies
  • 125 ml (½ k) gepelde heel amandels
  • 45 ml (3 e) blatjang
  • ’n paar lourierblare

Gaan so te werk

1. Voorverhit die oond tot 180 °C en spuit ’n oondvaste bak met kossproei.

2. Braai die uie, knoffel, groen soetrissie en wortel in ’n bietjie olie tot gaar.

3. Braai die maalvleis in ’n aparte kastrol in ’n bietjie olie tot byna gaar.

4. Doop die brood in melk, druk die oortollige melk uit en breek die brood in stukke.

5. Meng 125 ml (½ k) van die melk met 1 eier en die sout en hou eenkant. Dit word later die bolaag.

6. Meng die maalvleis, brood, uiemengsel en die res van die bestanddele behalwe die lourierblare en die eiermelk.

7. Skep in die bak en rangskik die lourierblare bo-op. Bak 10 minute, verwyder uit die oond, giet die eiermelk oor en bak nog sowat 20 minute.