Aftreksel is die voedsame basis van sop en kan ook gebruik word in risotto’s en bredies. Dit vries uitstekend en kan in 2 liter roomys- bakke gevries word of in kleiner ysblokkiehouers. Sodoende kan jy net ‘n blokkie gebruik om ‘n bredie of sous geurig te maak. Onthou dat klaarbereide aftrekselblokkies- of poeier geweldig baie natrium en MNG bevat en eintlik bitter min hoender.

Bestanddele:

  • 1 ui, in kwarte gesny
  • 1 wortel, ruweg gekap
  • 2 stingels seldery, ruweg gekap
  • 2 preie, ruweg gekap
  • 2 heel tamaties, ruweg gekap
  • skil van een suurlemoen
  • 6 peperkorrels
  • 2 naeltjies
  • kruiesakkie: ’n takkie tiemie, roosmaryn, ’n lourierblaar en pietersielie sout na smaak
  • 1 heel werfhoender

Gaan so te werk:

1. Plaas al die groente in ’n groot kastrol. Bind die kruie in ’n bossie saam en bind dit aan die kastrol se handvatsel vas.

2. Voeg ongeveer 3,25 liter water by en geur met sout. Laat die aftreksel vir ongeveer 1 uur liggies prut.

3. Sit dan die hoender by die groente en vul die kastrol met water sodat die hoender heeltemal bedek is. Prut vir nog sowat 45 minute of tot die hoender sag is.

4. Verwyder die hoender. Giet dan die geurige vloeistof deur ‘n sif of moeseliendoek.

5. Jy kan die groente maar weggooi, maar behou die hoender. Laat dit heeltemal afkoel voor jy dit in die yskas stoor.

Kook slim

1. Gebruik ’n groot kastrol met ’n 5 - 6 liter kapasiteit vir die aftreksel.

2. Dis nie nodig om die groente netjies te kap nie. Dit word slegs vir die geur gebruik.

3. Verwyder die kastrol se deksel sodra dit kook sodat die aftreksel meer gekonsentreerd kan raak.

4. Indien jy tyd het, laat die aftreksel oornag afkoel. Die vet sal op die oppervlak set en kan dan maklik afgeskep word.

Wortel-­en-heuningsop

Wortel-en-heuningsop

Genoeg vir 6

Bestanddele:

  • 30 ml (2 e) botter
  • 2 klein preie, gekap
  • 800 g wortels, ruweg gekap
  • 1 middelslag aartappel, geskil en in blokkies gesny
  • 30 ml (2 e) heuning
  • ’n knypie brandrissievlokkies (opsioneel)
  • 1 lourierblaar
  • 2.5 l (10 k) vars hoenderaftreksel
  • 90 ml (6 e) ongegeurde joghurt
  • grasuie, gesnipper

Gaan so te werk:

1. Smelt die botter in ’n middelslag kastrol oor matige hitte. Voeg die preie by en braai tot sag.

2. Voeg die wortels, aartappel, heuning, brandrissievlokkies, lourierblare en hoenderaftreksel by. Laat prut vir 30 minute of tot die groente sag is. Verwyder die lourierblaar.

3. Gebruik ’n stokmenger en verwerk die sop tot glad. Bedien met ’n skeppie joghurt en sprinkel met gesnipperde grasuie.

Kies slim
Beide wortels en botterskorsie is ’n uitstekende bron van betakaroteen. Betakaroteen word in die liggaam omgeskakel na vitamien A, wat ’n anti-oksidant is. Dit beskerm die liggaam teen ’n eindelose klomp kwale onder andere kanker en hartsiektes. Dit bevorder ook die immuunsisteem, sig en is baie goed vir die vel. Moenie bekommerd wees as jou kleinding slegs gaar wortels eet nie aangesien betakaroteen beter uit gaar wortels geabsorbeer word. Roer gerus ’n bietjie botter of olyfolie deur gaar wortels of botterskorsie aangesien vet die liggam help om vitamienes te absorbeer. Slegs ’n halwe koppie wortels voldoen aan jou daaglikse behoefte.
Gebakte risotto
Gebakte risotto

Gebakte risotto

Genoeg vir 6

Om risotto te staan en roer is tydsaam (veral met ‘n baba op die arm) so ons bak dit eerder stadig in die oond.

Bestanddele:

  • 500 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
  • 30 ml (2 e) olyfolie
  • sout en gemaalde swartpeper
  • 375 ml (1 ½) Arborio (risotto) rys
  • 1,25 l (4 ¼ k) vars hoenderaftreksel
  • 250 g (’n pakkie) spek, gekap en brosgebraai
  • 125 ml (½ k) gerasperde parmesaan of pecorino
  • 45 ml (3 e) botter
  • ’n paar vars salieblare

Gaan so te werk:

1. Voorverhit die oond tot 180ºC

2. Plaas die botterskorsie op ’n bakplaat, sprinkel met die olyfolie. Geur met sout en peper en rooster in die oond tot bros, maar nog sag aan die binnekant.

3. Kombineer die rys en die aftreksel in ’n oondvaste bak met ’n kapasiteit van 2,5 l (ongeveer 20 x 30 cm). Geur met sout en peper, roer deur en bedek dig met foelie.

4. Bak vir sowat 35 minute tot die rys byna al die aftreksel geabsorbeer het. Verwyder uit die oond. Roer die botterskorsie en die spek liggies by. Bedek weer en laat vir nog 5 minute deurwarm word.

5. Verwyder uit die oond en roer die parmesaankaas, botter en salieblare by.

Nog idees
Vervang die botterskorsie met 2 k ertjies of 3 handevol babaspinasieblare. Krummel 100 g fetakaas bo-oor die rys.
Gebakte appeltjies

Gebakte appeltjies

Genoeg vir 6

Die appeltjies het ’n lekker romerige verrassing wat onderin wag!

Bestanddele:

  • 6 klein rooi appeltjies
  • 6 opgehoopte eetlepels kondensmelkkaramel
  • 8 hawermoutkoekies (ons het Woolworths s’n gebruik)
  • 30 ml (2 e) botter
  • 30 ml (2 e) klapper
  • 30 ml (2 e) bruinsuiker

Gaan so te werk:

1. Voorverhit die oond tot 180ºC.

2. Halveer die appels en verwyder die klokhuise. Hol die appel effens uit.

3. Wees versigtig om nie die bodem stukkend te sny nie.

4. Skep ’n lepelvol van die karamel in elkeen van die appels.

5. Krummel die koekies fyn en meng met die botter, klapper en bruinsuiker.

6. Verdeel die mengsel tussen die appels.

7. Sit die appels op ’n bakplaat en bak vir ongeveer 25 tot 30 minute tot die appels sag en die bokant goudbruin van kleur is.