Om self babakos te maak is eintlik maklik, en dit kan vinnig ook wees. Jy het regtig ook nie allerhande spesiale toerusting nodig nie. Die voordeel is dat dit goedkoper uitwerk, jy weet presies wat daarin is en jy weet die kos is vars. Begin met ’n paar klein happies van ’n groente- of vrugtesoort op sy eie.

Middagete kan letterlik aanvanklik uit ’n teelepel of twee hiervan bestaan. Sodra jou baba dit goed aanvaar het en uitgepluis het hoe om te “kou” en sluk, kan jy begin om kombinasies te gee. Onthou dat jou baba se magie maar klein is. As jy sukkel om ’n halwe avokado te eet, sal jou baba beslis nie soveel kan inkry nie. Respekteer jou baba se tekens dat hy genoeg gehad het. As hy sy kop wegdraai en mondjie toe hou, is die maaltyd verby. Die meeste purees vries maklik. Hou die porsies klein deur dit in ysbakkies te vries. Dit help jou om dan te ontdooi net wat jy nodig het.

Rou puree

Rou puree

Dit kan nie makliker nie. Druk avokado met ’n vurk fyn. Dis propvol goeie vette. As jou baba dit al gewoond is, kan jy ryp piesang en avokado kombineer – dis klassieke Suid-Afrikaanse babakos. Vir ’n boonpuree: Spoel ’n blikkie botterbone (dit moet sout- en suikervry wees) goed onder lopende water af en druk dit met ’n vurk fyn. Jy kan selfs ’n titseltjie knoffel en vars pieter- sielie byvoeg. Dis goeie babakos.

Nog idees
Druk pere, mango, papaja of perskes wat baie ryp is, met ’n vurk fyn.
Eerste puree


Eerste puree

Bestanddele

  • 1 koppie vrugte of groente van jou keuse, geskil en opgesny. Kies uit byvoorbeeld appel, peer, wortel, botterskorsie, groenbone of ertjies.
  • ¼ koppie (60 ml) water

Metode

1. Plaas die groente of vrugte en water in ’n klein kastrol en laat kook. Verlaag dan die hitte en laat 10 tot 15 minute prut tot sag. Hou maar ’n ogie en voeg nog water by indien nodig.

2. Maak dan die kos in ’n voedselverwerker of met jou stokmenger fyn. Giet van die water by om te sorg dat die puree lekker loperig is. Jy kan ook die groente of vrugte met die agterkant van ’n lepel deur ’n sif druk om dit fyn te maak.

3. Skep in ysblokkiebakkies wat jy vooraf gesteriliseer het en laat tot kamertemperatuur afkoel. Vries dan tot jy dit nodig het.

Baba-muesli

Baba-muesli

Bestanddele

  • 1 koppie (250 ml) gerolde hawermout
  • 1 eetlepel (15 ml) gedroogde appelkose, in klein stukkies gesny • 1 eetlepel (15 ml) pitlose rosyntjies, in klein stukkies gesny om voor te sit
  • 1 eetlepel (15 ml) water
  • ½ piesang
  • 2 eetlepels (30 ml) natuurlike volroomjogurt

Metode

1. Plaas die hawermout, appelkose en rosyntjies in ’n voedselverwerker en pols fyn. Hou dié muesli-mengsel in ’n lugdigte houer en maak jou baba se ontbyt met ’n gehoopte eetlepel op ’n slag. Dit sal sommer lank hou.

2. Skep ’n eetlepel (ruim 15 ml) van die mengsel in ’n bak, bedek met water en laat oornag week. So sal dit beter verteer word.

3. Meng die piesang en jogurt net voor etenstyd by.

As jou baba al ’n maand of wat vaste kos eet en tot drie maaltye per dag gevorder het, kan jy gerus begin om tekstuur by die kos te voeg. Jy kan ook begin om suiwel soos jogurt te gee.
Gesifte ertjies

Gesifte ertjies

Bestanddele

  • 1 koppie (250 ml) bevrore ertjies
  • ¼ koppie (60 ml) water
  • 1-2 eetlepels (15-30 ml) gladde maaskaas

Metode

1. Kook die ertjies in water en laat dan 10 tot 15 minute prut tot sag.

2. Skep die ertjies in ’n voedselverwerker en maak so fyn as wat jy kan. (Dit kan moeilik wees om die ertjiedoppe heeltemal glad te kry.) As jou baba nog nie tekstuur kan hanteer nie, kan jy die puree net slap maak en dan deur ’n sif druk om van die taai doppe ontslae te raak. Maak die mengsel glad met ’n bietjie van die water waarin die ertjies gekook is.

3. Roer die maaskaas deur om die gereg heerlik romerig te maak.

4. Sit ’n porsie voor en vries die res.