LIEF VIR KAAS?
Moenie die heerlike SA Kaasfees misloop nie. Dis die grootste buitelug- kosgebeurtenis in Afrika en duur drie dae lank, van Vrydag 26 April tot Sondag 28 April op die plaas Sandringham buite Stellenbosch. Die feesprogram sluit kosteaters met pas-en-proe-sessies in, asook musiekoptredes en prettige aktiwiteite soos die daaglikse Ladismith-kaaskerfkompetisie. Kaartjies kos R180 per persoon per dag. Senior burgers betaal R120 en kinders tussen 2 en 13 jaar R20. Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Meer inligting by cheesefestival.co.za of op sosiale media by Twitter: @SACheeseFest, Facebook: @SACheeseFestival, Instagram: @sacheesefest.
Slaaistok

Slaaistok

Bestanddele

Slaaisous

  • 100 g kondensmelk
  • 25 ml (5 t) mosterdpoeier
  • 50 g volgraanmosterd
  • 50 ml wit druiweasyn
  • 50 ml olyfolie
  • 5 g vars pietersielie
  • sout en peper na smaak

Slaai

  • 100 g makataankonfyt, in blokkies gesny
  • 1 klein Cos-slaaikop
  • 30 ml (2 e) olyfolie
  • 100 g halloumikaas, in blokkies gesny
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 5 g vars pietersielie
  • kebabstokkies

Metode

Slaaisous

1. Plaas al die bestanddele vir die sous behalwe die sout en peper in ’n voedselverwerker en meng tot dit dik en romerig is.

2. Geur met die sout en peper.

Slaai

1. Sny die makaataan in blokkies van sowat 2 x 2 cm.

2. Verhit ’n roosterpan en rooster die slaaiblare liggies.

3. Verhit die olyfolie in ’n pan.

4. Braai die halloumi tot dit goudbruin en deeglik warm is.

5. Rangskik die slaaibestanddele afwisselend op ’n kebabstokkie.

6. Pak op ’n bord en drup die slaaisous oor.

7. Sit dadelik voor.

Kaasworsies

Kaasworsies

Bestanddele

  • 650 g boerenkaas of beleë cheddar
  • 1 ui, gekap
  • 6 vars salieblare, gekap
  • 5 ml (1 t) gemaalde swartpeper
  • 140 g koekmeel
  • 4 eiers, geklits
  • 255 g pankokrummels
  • 350 ml sonneblomolie vir braai
  • 150 ml tamatiekonfyt

Metode

1. Sny die kaas in blokkies en plaas dit in ’n voedselverwerker saam met die ui, salie en peper. Meng tot die mengsel styf begin word.

2. Bedek jou hande met meel en verdeel die mengsel in 8 gelyke dele. Vorm elke deel in ’n worsie.

3. Plaas die worsies op ’n bakplaat en plaas 30 minute in die vrieskas tot dit ferm is.

4. Plaas die meel, geklitste eiers en broodkrummels in drie aparte bakke.

5. Doop die worsies eers in die meel, dan in die eier en dan in die panko- krummels.

6. Doop weer in die eier en pankokrummels om ’n dik, bros kors te verseker.

7. Plaas die worsies nog 10 minute in die vrieskas om te stol.

8. Verhit die sonneblomolie tot 180 °C en braai die worsies tot donkergoudbruin.

9. Dreineer op ’n papierhanddoek en sit voor met ’n blatjang of konfyt van jou keuse.

Mieliepot­broodjies met kerriebotter

Mieliepotbroodjies met kerriebotter

Bestanddele

Mieliepotbrood

  • 500 ml bruismeel
  • ’n knippie sout
  • 1 klein blikkie (340 g) heel mieliepitte, gedreineer
  • 250 ml (1 k) natuurlike dubbel- roomjogurt

Kerriebotter

  • 15 ml (1 e) olyfolie
  • 1 ui, fyngekap
  • 30 ml (2 e) matige kerriepoeier
  • 15 ml (1 e) tamatiepasta
  • 100 ml water
  • 250 g gesoute botter, versag

Metode

Brood

1. Verhit die oond tot 180 °C en smeer ses terracottapotjies of ’n standaard- muffinpan.

2. Sif die bruismeel en sout saam.

3. Verdeel die mieliepitte in die helfte. Maal die een helfte grof met ’n stamper of in ’n voedselverwerker.

4. Meng die dubbelroomjogurt en die heel en gemaalde mielies by die meelmengsel. Meng goed tot ’n beslag vorm.

5. Skep die beslag in die gesmeerde potjies of muffinpan.

6. Bak sowat 30 minute in die oond tot goudbruin bo-op.

Kerriebotter

1. Verhit die olie in ’n braaipan en braai die ui tot deurskynend.

2. Voeg die kerriepoeier en tamatiepasta by en braai sowat 1 minuut oor lae hitte.

3. Voeg die water by en laat nog 2 minute prut of tot al die water verdamp het om ’n dik kerriepasta te vorm. Laat heeltemal afkoel.

4. Meng die verkoelde kerriepasta met die botter.

5. Sit die brood saam met die kerriebotter en boerenkaas of gruyère voor.

Parmesaan-brosbrood

Parmesaan-brosbrood

Bestanddele

  • 240 g parmesaankaas
  • 240 g koekmeel
  • 80 g botter, versag
  • knippie cayenne-peper

Metode

1. Verhit die oond tot 180 °C en smeer ’n bakplaat.

2. Plaas die parmesaan, meel, botter en cayenne-peper in ’n voedselverwerker en meng tot ’n sagte deeg.

3. Verdeel die deeg in twee helftes en rol in twee rolle van 2,5 cm dik.

4. Draai die rolle in kleefplastiek toe en verkoel minstens 30 minute of tot stewig genoeg om te sny.

5. Sny die deegworse in dun skyfies van sowat 5 mm dik. Plaas dit minstens 1 cm uitmekaar op die gesmeerde bakplaat.

6. Bak sowat 20 minute of tot goudbruin.

7. Laat die koekies heeltemal afkoel.

8. Bêre in ’n lugdigte houer.