Jou baba se voeding moet regtig nie ’n bron van stres wees nie. Vergeet van lang lyste kos wat eers op sekere ouderdomme gegee mag word – dit werk nie so nie. Die meeste babas is kort voor ses maande reg om te probeer. As sy dus al belangstel, goed kan sit en goeie kopbeheer het, kan jy begin.

Neem ons lys van voedingsbeginsels ter harte, en sommer gou sal jou baba met smaak en selfvertroue leer eet. 

Lees: Feite oor voeding

Moenie fokus op alles wat ’n baba nie mag eet nie; fokus eerder jou aandag daarop om jou baba elke paar dae aan iets nuuts en gesonds en lekkers bekend te stel. So word dit ’n eetavontuur vir julle albei.

Jou doel is om ’n kind groot te maak wat gesonde kos verkies en alles eet wat jou gesin graag eet. Stel haar dus met genot bekend aan heerlike vleis, vis, groente, peulgroente, vrugte, pasta, graankosse, suiwel en eiers.

10 beginsels vir babavoeding

1. Daar is baie verskillende regte maniere van kos gee. Die presiese volgorde waarin jy die kosse gee, sal nie jou baba maak of breek nie solank jy by ’n paar eenvoudige reëls hou.

2. Gee so gou as moontlik ysterryke kos. Ons eetplan sluit ysterverrykte babapap en lamsvleispuree sommer van die begin af in.

3. Stel een nuwe kossoort op ’n slag bekend, twee tot drie dae uitmekaar. Kies elke keer ’n ander voedselgroep sodat jou baba sommer gou gebalanseerd eet.

4. Gee ’n nuwe kossoort altyd soggens, en hou die hoeveelheid klein. As sy dalk dan ’n reaksie daarop het, het jy die hele dag om haar dop te hou. Allergieë is gelukkig skaars, maar wees ekstra bedag daarop as daar ’n familiegeskiedenis van allergieë is.

5. Gee aanvanklik elke kossoort apart sodat sy kan leer hoe elkeen afsonderlik proe. Jy kan later interessanter kombinasies gee.

6. Mik om jou baba in die eerste jaar aan ’n groot verskeidenheid kleure en geure bekend te stel, asook verskillende teksture en temperature. (Dis jou beste beskerming teen toekomstige emies.)

7. Sekere kossoorte (soos eiers, neute en vis) het ’n reputasie dat hulle allergieë veroorsaak. In die ou dae het versigtige ma’s dié kosse sommer uitgesny, of eers baie later begin gee. Die nuutste navorsing toon egter dit doen
net mooi niks om allergieë te keer nie; inteendeel, dis beter om al dié kosse van die begin af te gee, net soos die ander kosse – klein bietjies op ’n slag, en elke drie dae ’n nuwe een.

8. Maak jou baba se kos geleidelik growwer; beweeg weg van gladde purees so gou julle kan.

9. Sterk geure en gasvormende kos is nie in die eerste maand die beste keuses nie. Bly ook heeltemal weg van suiker, sout, geprosesseerde kos, kitskos, lekkergoed en heuning.

10. Onthou, melk bly steeds in die eerste jaar jou baba se hoofbron van voeding. Moenie haar melk minder maak nie. Dink eerder aan die kossies as aanvullend tot die melk, en nie andersom nie.