MAANDAG

Foto’s: Noëleen Foster; Produksie en stilering Joanita Cillié

Gevulde skorsies

BESTANDDELE

  • 400 g botterskorsie, in blokkies gesny
  • olyfolie
  • kaneel na smaak
  • 1 klein ui, fyngekap
  • 6 salieblare, gekap
  • 250 ml (1 k) risottorys
  • 1 liter (4 k) hoenderaftreksel
  • 4-6 skorsies

MAAK SO

Voorverhit die oond tot 180 °C.

1. Plaas die botterskorsie op ’n bakplaat en bedruip met die olyfolie. Sprinkel ’n bietjie kaneel oor en rooster 20 minute in die oond tot sag.

2. Druk die helfte van die geroosterde botterskorsie fyn en meng met die res van die botterskorsieblokkies.

3. Verhit nog olyfolie in ’n groot braaipan en braai die ui en salie saam tot sag. Voeg die risottorys by en roer deur. Voeg ’n koppie aftreksel op ’n slag by en roer aanhoudend tot die vloeistof geabsorbeer is. Hou aan om ’n koppie op ’n slag by te voeg tot die rys gaar is.

4. Meng die botterskorsie deur die rys.

5. Sny die bopunt van elke skorsie versigtig af en hou eenkant. Verwyder die pitte om ’n holte te skep. Vul die skorsie met die rysmengsel en plaas die “hoedjies” terug.

6. Bak sowat 30 minute in die oond (ook teen 180 °C) tot die skorsie sag is.

DINSDAG

Soetsuur vark

BESTANDDELE

  • 500 g varkfilet, in repe gesny
  • 2,5 cm-stuk gemmer, geskil en fyngekap
  • 15 ml (1 e) olyfolie
  • 1 blik (410 g) pynappelstukke
  • 180 ml (¾ k) water
  • 60 ml (¼ k) asyn
  • 15 ml (1 e) sojasous
  • 60 ml (¼ k) bruinsuiker
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • 8 sprietuie, in repe gesny
  • 300 g droë spaghetti
  • 10 ml (2 t) mielieblom, met 30 ml (2 e) water tot ’n pasta gemeng
  • 1 rooi soetrissie, in repe gesny
  • 10 ml (2 t) sesamsaad

MAAK SO

1. Braai die vark en gemmer in die olyfolie in ’n groot braaipan tot effens bruin. Dreineer die pynappel en giet die sap oor die vleis. Roer die water, asyn, sojasous, bruinsuiker, sout en helfte van die uie by. Bedek en laat ’n uur prut tot die vleis sag is.

2. Maak die spaghetti intussen gaar volgens die aanwysings op die pakkie.

3. Roer die mielieblompasta deur die varkvleismengsel. Kook oor ’n lae hitte tot die mengsel verdik.

4. Stoom die rooi soetrissie intussen tot gaar en rooster die sesamsaad in ’n droë pan. Voeg by die varkvleis.

5. Sit voor op die spaghetti.

WOENSDAG

Vegetariese gebak

BESTANDDELE

  • 4-6 groot aartappels, in skyfies gesny
  • 1 ui, in ringe gesny
  • 3 murgpampoentjies, in skyfies gesny
  • 3 vlapampoentjies, in skyfies gesny
  • ½ botterskorsie, in skywe gesny
  • 1 blok mozzarellakaas, in skywe gesny
  • 100 g botter
  • 125 ml (½ k) meel
  • 1 liter (4 k) melk
  • sout en peper na smaak
  • hand vol vars pietersielie, gekap

MAAK SO

Voorverhit die oond tot 180 °C.

1. Pak die aartappels, ui, murg- en vlapampoentjies, botterskorsie en kaas netjies in rye in ’n oondbak. Herhaal die rye tot al die bestanddele gebruik is.

2. Maak ’n witsous: Smelt die botter in ’n klein kastrol. Verwyder van die hitte en voeg die meel bietjie vir bietjie by terwyl jy dit met ’n bolklitser klop. Plaas terug op die hitte en voeg die melk bietjie vir bietjie by. Klop heeltyd om te keer dat klonte vorm. Hou aan roer oor ’n lae hitte tot die mengsel verdik. Voeg die sout, peper en pietersielie by.

3. Giet die sous oor die groente en bak 40-60 minute in die voorbereide oond. Sit warm voor.

DONDERDAG

Koeskoesslaai

BESTANDDELE

  • 1 rooi soetrissie, ontpit en gehalveer
  • 1 geel soetrissie, ontpit en gehalveer
  • 1 rooi-ui, fyngekap
  • 200 g botterskorsie, in blokkies gesny
  • 2 wortels, in blokkies gesny
  • 3 groot preie, in die lengte deurgesny
  • 45 ml (3 e) olyfolie
  • 15 ml (1 e) gekapte vars roosmaryn
  • 2 huisies knoffel, gekap (opsioneel)
  • sout en peper na smaak
  • 250 g koeskoes
  • 500 ml (2 k) groente- of hoenderaftreksel
  • skil en sap van 1 suurlemoen
  • vars kruisement en pietersielie, fyngekap

MAAK SO

Voorverhit die oond tot 180 °C.

1. Meng die rooi en geel soetrissie, ui, botterskorsie, wortel en preie in ’n groot oondbak en bedruip met die olyfolie. Sprinkel die roosmaryn, knoffel, sout en peper oor.

2. Rooster sowat 30 minute tot gaar.

3. Sny die groente nog fyner op.

4. Berei die koeskoes in die aftreksel volgens die aanwysings op die pakkie.

5. Krap die koeskoes met ’n vurk los en voeg die groente by. Voeg die suurlemoenskil en -sap en vars kruie by.

6. Meng goed en sit voor.

VRYDAG

Visburger

BESTANDDELE

  • 4 stokvisfilette
  • 1 blikkie (85 g) tuna
  • 1 aartappel, gekook en fyngedruk
  • 2 eiers, apart geklits
  • gekapte pietersielie
  • sout en peper na smaak
  • 50 g meel
  • 3 hande vol graanvlokkies

MAAK SO

1. Stoom die stokvis tot gaar en vlok dit.

2. Voeg die tuna, aartappel, 1 geklitste eier, gekapte pietersielie en peper by. Meng goed en druk met jou hande in ’n burgervorm so groot soos jou palm.

3. Plaas die graanvlokkies in ’n plastieksak en verkrummel. Geur die meel met sout.

4. Pak die meel, orige geklitste eier en graanvlokkies in 3 aparte bakkies.

5. Doop die burgers in die meel, eier en laastens in die graanvlokkies.

6. Braai die burgers in ’n bietjie olyfolie bruin. Sit voor met slaaiblare op ’n rolletjie.wenk Kap sprietuie en meng met mayonnaise om ’n lekker sousie te maak. Stoom aspersies in die plek van tjips.