Hy’s nóg vis, nóg vlees: nog nie in die formele klasopset van die groot skool nie, maar ook nie meer in die onskuldige speelwêreld van die kleuterskool nie. Jou kind se graad O-jaar is ’n baie belangrike oefentyd vir selfhelpvaardighede wat volgende jaar as vanselfsprekend beskou sal word. Dit maak hom ook doelgerig gereed vir die akademiese uitdagings wat in graad 1 wag. En jou ondersteuning kan hom daardie hupstoot gee wat dit maklik maak!

Toe die departement van Onderwys die eerste keer begin praat het van graad O (O staan vir ontvangsjaar, oftewel graad R (reception year) in Engels), was dit vir die meeste mense ’n vreemde konsep. Maar dié oorbruggingsjaar speel nou reeds verskeie jare ’n belangrike rol om kinders slaggereed te maak vir die eise van graad 1.

“Graad O is die jaar van selfstandigwording voor kinders die formele onderwys betree,” verduidelik Esmé Kuhn, hoof van die Durbanville-voorbereidingskool.”Die kinders moet nou op alle gebiede leer om hulself te handhaaf en selfstandig te raak. Dis amper soos die eerste helfte van die ou sub A-jaar.”

Ria Raath, hoof van Parkieland in Pretoria, verduidelik dat graad O meer gestruktureerd is as vorige kleuterskoolklassies, maar nie so formeel soos “skool” nie.

“Ons verwag nie van die kinders om heeltyd stil te sit en dieselfde ding te doen nie. Hulle moet steeds baie meer beweeg as wat hulle stilsit. Ons werk ook nog baie driedimensioneel, terwyl hulle in die skool baie meer tweedimensioneel werk.”

Tog, sê Esmé en Ria, word daar al baie doelbewus na spesifieke doelwitte gewerk.

“Die nasionale kurrikulum sluit graad O in. Dis stap een en daar is vaste leeruitkomste en assesserings. Jou kind kry punte. Deur die jaar vind daar geleidelike begeleiding plaas om hom gereed te maak vir graad 1. Hy móét sekere takies leer hanteer, want in graad 1 moet hy nog baie meer kan hanteer.”

Wat jou spruit kan verwag

Die nasionale kurrikulum onderskei agt leerareas: taal, wiskunde, natuurwetenskap, sosiale wetenskappe, tegnologie, ekonomie en bestuur, lewensoriëntering, en kuns en kultuur. In die grondslagfase (graad O tot 3) word hierdie leerareas in geletterheid, syferkunde en lewensvaardighede opgedeel.

Die onderwyseres sal temas gebruik om vaardigheidsontwikkeling te fasiliteer. In die klas sal van jou kind verwag word om betrokke te wees en deel te neem in ’n groep. Hy sal die geleentheid kry om deur spel te leer, sy wêreld uit te brei en met ’n verskeidenheid media te eksperimenteer.
“Ons het baie pret!” vertel Esmé. “Dis ongelooflik om ’n kind te sien ontwikkel. Hy’s soos ’n bolletjie klei in jou hande: Jy druk en skaaf en koester, toon belangstelling en dan druk jy hom weer ’n bietjie vorentoe.”

Sy en Ria sê hulle fokus veral op die volgende:

Selfhelpvaardighede:

Om self aan te trek, jou skoene vas te maak, self jou neus te blaas en alleen toilet toe te gaan is alles vaardighede wat in graad 1 as vanselfsprekend aanvaar word. As jou kind sommige daarvan nog nie onder die knie het nie, behoort jy vanjaar spesiaal daaraan aandag te gee. (Help jou kind wat sukkel met veters vasmaak deur vir hom ’n plankie met twee toutjies daaraan vasgemaak te maak waarop hy kan oefen.)

Algemene kennis:

Jou kind leer oor homself, sy omgewing en die wêreld. (Maak seker jou kind leer vanjaar sy huisadres, naam en van, geboortedatum, ouers se name en julle telefoonnommers.)

Luister:

Hy moet luister, sonder om te onderbreek, en om sy beurt af te wag om te praat. “Ons kry baie terugvoering van graad 1-onderwyseresse wat vertel hulle sukkel met kinders wat nie kan luister nie,” vertel Ria. (Oefen luistervaardighede deur stories te vertel en hom dit te laat terugvertel.)

Bewuswording van klanke:

Hy moet besef dat woordjies opgebreek kan word in klankies en die klanke eers aan die begin en later aan die einde van woorde kan herken. (Speel “My klein ogies sien iets wat begin met ’n b”. Spreek klanke foneties uit.)

Taalontwikkeling:

“Ouers moet gedurig daarop bedag wees om hul kind se woordeskat uit te brei en die kind moet in woorde kan uitdruk wat hy sien en ervaar,” sê Esmé. Jou kind moet boodskappe kan oordra, rympies kan opsê en sing.

Lees:

Hoewel jou kind nie in graad O leer lees en skryf nie, word belangrike voorbereidingswerk hiervoor gedoen. Hy sal onder meer sekere klanke, letters en woorde leer herken soos die S in “stop”.

Skryf:

Hy kan met prentjies boodskappe oordra en sal probeer skryf. Hy kan ook letters uit die omgewing natrek. Ouers is dikwels beïndruk deur kinders wat skryf, maar dit het min waarde as hulle die letters verkeerd vorm, sê Ria. (“As hy jou vra om letters te leer, maak seker hy vorm dit reg.” Vermy hoofletters en let op na sy potloodgreep, voeg Esmé by.)

Redeneer:

Vra jou kind baie “hoekom”-vrae. “Hoekom dink jy is hier ’n stopstraat? Hoekom moet jy gesond eet?” So leer jou kind vir homself dink, sê Ria. (“Ouers gee dikwels net vir die kind inligting en hy hoef nie te dink nie. Trek eers al die inligting uit jou kind uit, en las dan by.”)

Kreatiwiteit:

“Kreatiwiteit leer jou kind oplossings bedink. Ons gee baie aandag daaraan,” vertel Ria. “Dis vir my verskriklik belangrik, omdat ons graag die regterbreintjie soveel moontlik wil stimuleer voor die kind skool toe gaan, want sodra die kind leer lees en skryf, neem die linkerbrein oor.” (Ouers kan help deur byvoorbeeld inkleurboeke weg te hou tot hul kind goed teken.)

Wiskundige vaardighede:

Stimuleer jou kind, is Esmé se raad, en maak hom syferkundig wakker. Hy moet aan die einde van graad O onder meer met begrip tot tien kan tel en ook die name en simbole van een tot minstens tien ken. Hy leer ook op ’n informele manier van minus en plus met getalle onder tien, byvoorbeeld met ’n boksie Smarties. (Laat hom dit in kleure sorteer en vra: Watter kleur is die minste? Wat is die meeste? Hoeveel bly oor as ons drie opeet?) Hy moet ook leer verdubbel en halveer tot tien.

Langer konsentrasie:

In graad O verwag ons dat hy ten minste van ’n halfuur tot ’n uur besig kan wees, sê Ria. (Verwag van jou kind om ’n takie van ’n halfuur lank te voltooi. Begin met korter takies en rek dit geleidelik.)

Groot motoriese vaardighede:

“Kinders sit so voor die televisie en rekenaarspeletjies. Ons kry deesdae verskriklik baie lae-spiertonus-probleme,” sê Ria. (Gee aandag aan balvaardighede. Speel met jou kind met ’n bal. Help hom om te leer touspring: Laat spring hom eers oor ’n lat, dan ’n hoepel en dan met ’n springtou.)

Verbeelding:

“Fantasiespel is nog baie belangrik in graad O, want ons leer nog baie deur te speel. Maar anders as vorige jare is die spel meer gerig en het ons definitiewe uitkomste waarheen ons werk,” sê Ria.

Sosiale vaardighede:

In graad O gaan daar van jou kind bepaalde sosiale vaardighede verwag word, sê Esme, en dit sal ook verder ontwikkel word. “Byvoorbeeld: Hoe hanteer jy dit as ’n maatjie iets aan jou doen?” (Leer jou kind om selfgeldend te wees: Kyk die maatjie in die oë en sê: “Ek hou nie van wat jy nou gedoen het nie. Ek voel kwaad. En as jy nie ophou nie, gaan ek vir Juffrou sê.”)

Hoe kan jy help?

Probeer van dag een af ’n oop verhouding met jou kind se onderwyseres vestig, is Esmé se raad. “Dis vir ons ’n geweldige probleem as ons die gevoel kry ’n ouer vertrou ons nie met sy kind nie. As jy oor enigiets bekommerd is, maak ’n afspraak met die onderwyseres en gesels daaroor. Vir baie ouers is dit ’n bedreiging as die onderwyser hul kind se agterstande of blokkasies identifiseer, maar ons doen dit met die beste bedoelings en ouers behoort dadelik werk te maak daarvan voor die kind emosioneel gespanne raak daaroor.”

Kommunikasie vanaf die skool sal waarskynlik plaasvind deur ’n “onthouboekie”. Daarin sal die kwartaalprogram, temas vir die week, uitstappies en ander nuus oorgedra word. Teken die boekie as jy dit gesien het, en gebruik die boekie om boodskappe na die onderwyseres te stuur.

Kyk ook wat jy kan doen om die weeklikse klastema tuis te ondersteun, sê Ria. Elke week sal die onderwyseres ’n tema in die klas behandel soos vrugte of insekte. Blaai saam met jou kind deur boeke oor die tema of neem hom op ’n relevante uitstappie.

“Met daardie samewerking kom jou kind soveel meer verryk ander kant uit. ’n Kind wie se ouer betrokke is, het ’n voorsprong,” vertel Ria.

Raak verder betrokke by skoolaktiwiteite. In Graad O is daar dikwels aktiwiteite soos entrepreneursdae, minibasaars en selfs die jaarlikse konsert wat ouerbetrokkenheid vereis, hetsy vir geldinsameling of om vaardighede te ontwikkel.

So leer ken jy ook jou kind se maats se ouers en jou kind voel baie trots op sy ma! En gee jou kind uitdagings en blootstelling.

“Jou kind moet sukses kan belewe, want hy kan nie gemotiveerd raak daarsonder nie. Aan die ander kant moet jy ook vir jou kind die realiteite leer: Jy gaan nie altyd sukses hê nie. Net soos jy eers moes leer kruip en toe leer loop, moet jy ander goed ook leer,” sê Esmé.