Elke kind word gebore met ’n natuurlike liefde vir leer. Kinders is natuurlike vra-kouse. Hulle hoe en hoekom vrae kan hulle lewe vul met die wonder van die ontdekking van die wêreld om hulle, skryf Mari Swanepoel in haar boek Woelwaters wil weet: kleuters en die wetenskap (Femina).

Kleintjies leer omdat dit vir hulle lekker is

Hulle besef nie eens dat hulle aan die leer is nie, maar dis presies wat hulle doen wanneer hulle alles ondersoek waarmee hulle in aanraking kom, sê Ellen Booth Church, ’n Amerikaanse skrywer en kenner van kinderontwikkeling. “Hulle is klein speurdertjies wat elke ding se wat, waar, waarom en hoe wil ontdek.”

Dis juis hierdie bereidwilligheid om te ontdek en avontuurlustigheid wat van ons kreatiefste denkers kan oplewer, iemand wat ’n geneesmiddel vir kanker of selfs vigs kan ontdek, skryf Carol Fertig in haar boek Raising a gifted child: A parenting success handbook (Prufrock Press Inc).

Wat kan jy doen om te sorg dat dié weetgierigheid nie verdwyn wanneer hulle eendag deur die skoolstelsel ingesluk word nie? Die geheim is om jou kind te laat doen wat kinders in elk geval wil doen – speel.

Wanneer ‘n kleuter speel, leer hy. Dit is natuurlik vir elke kind,” sê Marlene Broodryk, kleuterskoolonderwyseres van Pretoria. Niks boei ’n jong brein soos ’n speletjie nie. Laat jou kind eksperimenteer en ondersoek en beproef – alles in die naam van pret. As leer nóú reeds vir hom ’n prettige speletjie is, dink net hoe plesierig gaan wiskunde eendag wees!

Skep ’n omgewing waarin jou kind sy nuuskierigheid kan uitleef. “Neem jou kind waar sodat jy kan sien wat sy nuuskierigheid prikkel, wat hom laat wonder, en hoe jy hom kan aanmoedig om nog meer te wil leer,” sê Marlene.

Klein-klein kreatief

Kleintyd-speletjies wat op die oog af geen doel het nie, ontwikkel vaardighede wat jou kind eendag goed te pas kan kom. Volgens Marlene het navorsing onlangs getoon dat kinders wat kleintyd nie genoeg gefantaseer het nie, sukkel om later op skool opstelle te skryf.

 As die leerproses prettig is, sal ’n kind dit oor en oor kom soek, sê Patti Greenberg Wollman, ’n Amerikaanse onderwyseres en konsultant vir die webtuiste www.iVillage.com.

Patti hou “skool” vir 3-jariges. Die meeste van hulle kon nie tel toe hulle by haar gekom het nie. Ná drie weke kon almal vlot tot by veertien tel.

“Hoekom? Want hulle tel speel-speel saam met my wanneer ons elke oggend die kinders in die klas tel. Ons sal een van die dae tot by 20 kom deur ander dinge te tel. Dis glad nie ’n gedwonge proses nie en die kinders geniet dit. Hulle leer sonder dat hulle dit agterkom,” vertel Patti.

Wanneer dit by die leer van “vakke” kom, is vryspel die beste manier vir kinders onder 7 jaar, sê sy. “Daar’s bitter min voorskoolse kinders wat stil by ’n tafel kan sit en in lesvorm – formeel en gestruktureerd – kan of wil leer.”

Wees self ’n nuuskierige agie

Jy kan jou kind se liefde vir leer koester deur sáám nuuskierig te wees oor dinge. “Laat jou kind met natuurlike materiale speel. ’n Opgestopte sykous of ou lappe kan voldoende wees om sy kreatiwiteit vrye teuels gee,” verduidelik Marlene. Gesels sinvol met hom oor aktiwiteite waarmee hy hom besig hou.

As hy verf, kan jy hom vra wat hy verf, watter kleure hy gebruik, waarom hy daardie kleure kies en wat die storie agter sy prentjie is. Vra vrae waarop die antwoord nie net ja of nee is nie, maar waarop hy jou met ’n kreatiewe antwoord kan verras.

As jy so speel-speel gesels, nooi jy hom uit om sy eie idees te vorm. So ontwikkel hy sy eie leerproses.

Kinders aap grootmense graag na. Jy kan dus ’n voorbeeld stel deur self nuuskierig te wees en meer uit te vind oor die dinge wat jou eie nuuskierigheid prikkel. Jou kind sal geïnspireer word deur jou leergierigheid.

Wees opgewonde oor die klein goedjies in die lewe – ’n gogga in die tuin, die reën of ’n vliegtuig in die lug. Jou kind sal wil weet hoekom dié dinge jou interesseer. Ontdek dan saam wat die gogga so spesiaal maak; gaan kyk saam op internet hoeveel pote ’n gogga het, waarom die gogga voelers en dalk vlerke het, en hoe op aarde bly ’n vliegtuig in die lug? So skep jy ’n nuwe geleentheid vir leer.

Marlene en Tania van Huyssteen, ‘n kindersielkundige, beaam albei hoe belangrik dit is om ’n voorliefde vir lees by ’n kleuter te kweek. “Sluit aan by jou plaaslike biblioteek of ’n kinderboekklub – daar is geen groter beloning vir ’n kind om haar eie boek elke maand deur die pos te ontvang nie. Boonop het die biblioteek verskeie aktiwiteitsprogramme wat ’n kind se kreatiwiteit verder kan help ontwikkel.”

En skakel die televisie af. Al is die programme ook hoe opvoedkundig, niks kom by self voel en ervaar nie. Jou kind sal baie meer baat by ‘n halfuur in die tuin of op die speelraam as ‘n halfuur voor die kassie. As hy wel televisie kyk, gesels dan oor die program en wat hy geleer het.

Ek het ’n fout gemaak, wat nou?

Kinders moet leer dat foute deel is van die leerproses. “Onthou, ’n fout is slegs ’n nuwe geleentheid. Tydens speel maak kinders ook foute maar hulle verander die speletjie se rigting om daarby aan te pas,” sê Marlene.

As jy positief op foute reageer, sal jou kind agterkom daar is oplossings en dat foute nie sleg is nie. Sodra sy voel haar fout is sleg of dat dit beteken sy “kan nie”, sal jou kind ’n weersin in leer ontwikkel. Dit sal haar kreatiwiteit onderdruk en sy sal selfs begin glo ’n “soet” kind vra nie baie vrae nie, sê Marlene.

Sy kan ook versigtig wees om nuwe dinge te ontdek, omdat sy bang is sy maak ’n blaps. Vra haar om te help as jy self ’n fout gemaak het. Wys dat jy ook foute maak en dat daar niks is wat nie oorkom kan word nie.

Help haar om ’n oplossing vir haar fout te vind. Verander dit in ’n speletjie. Sy is nou by ’n hek wat gesluit is en moet ’n ander sleutel kry om die hek mee oop te sluit. “Mamma kan ook vertel dat sy ook al foute gemaak het en hoe sy haar fout oorkom het. So leer sy foute is natuurlik en oorkombaar."

Wenke wat werk:

  • Hou ’n klomp speelmateriaal aan: boeke, kleurryke lappe of serpe, boublokke, leë plastiekhouers en natuurlike materiale soos dennebolle en groot skulpe. Onthou dat jou kind materiale nodig het wat haar gesig, gehoor en ander sintuie stimuleer.
  • Laat haar toe om haar eie speletjies uit te dink sonder om te veel in te meng.
  • Voeg gereeld een vreemde voorwerp by, soos ’n skoenboks met ’n gekleurde klip binne-in – en laat haar toe om dit self te ontdek.
  • Vra vrae soos “op hoeveel maniere kan jy..?”, of “wat dink jy gaan gebeur as..?”
  • Help jou kind om haarself as suksesvol te beskou deur haar gereeld te prys en aan te moedig.

Slim speletjies:

  • Voltooi die sin. Begin ’n sin en vra jou kleuter om dit te voltooi: Eendag lank gelede was daar ’n olifant met ’n seer slurp ...
  • Speel “ek is ’n ...”-speletjies. Blinddoek jou kind, laat haar ’n Zoo-koekie uit die blik kies en haal die blinddoek af. Sy moet ’n rukkie na die koekie kyk, dit eet en dan maak of sy die dier is wat op die koekie was.
  • Speel ’n stukkie mooi musiek (dalk iets uit Saint- Saëns se Karnaval van die Diere) en moedig haar aan om op die maat daarvan te dans en beweeg.
  • Speel vraag-antwoord-speletjies. Vra wilde vrae soos “wat sal gebeur as al die bome in die wêreld blou was?”, “wat sal gebeur as daar glad nie motors was nie?”, “wat sal gebeur as jy kan vlieg?”