Die meeste ouers doen baie moeite om hul kinders van vroeg af van woorde bewus te maak. Ons lees vir hulle stories, sê saam rympies op, sing alfabetliedjies en speel woordspeletjies.

Tog is ons selde so gesteld op wiskundige vaardighede as wat ons op woord- en leesvaardighede is – dalk omdat ons dink somme is aartsvervelig, dikwels omdat ons self op skool slegte ervarings met wiskunde gehad het.

Maar soos ons lewe tegnologies al meer gesofistikeerd raak, word wiskundige vaardighede al belangriker, sê kenners. En ’n mens hoef glad nie self ’n wiskundige slimkop te wees om ’n positiewe gevoel oor syfers by jou kind te kweek nie.

Wiskunde kan net so prettig soos lees wees – jy moet net weet hoe! Kinders se omgewing is met wiskunde gelaai en daar is allerlei opwindende maniere waarop jy jou kind die kans kan gun om haar natuurlike syfervaardigheid te ontwikkel. Met die regte houding en leiding kan jy selfs die kleinste peuter syferslim help maak.

Somme op 7 maande!

Onlangse navorsing toon dat babas van so jonk as 7 maande ’n basiese aanvoeling vir syfers het en die vermoë het om die aantal stemme wat hulle hoor, te verbind met die aantal gesigte wat hulle sien. Die BBC het onlangs berig dié navorsing beteken dat babas oor ’n wyer denkvermoë beskik as wat voorheen gereken is.

Wanneer jou kind in die huis begin rondbeweeg, kan sy oral oor getalle begin leer. Sy los daagliks probleme op terwyl sy speel en sien hoe word syfers en vorms gebruik wanneer ons bestanddele vir beskuit afmeet, in die tuin werk, praat oor tyd en hoe dit verbygaan, en hoe ons die taal van syfers en getalle gebruik.

Die idee van patrone is ook baie belangrik in wiskunde. Ons syferstelsel is gegrond op patrone: 2 + 2 = 4, 12 + 12 = 24. Jy kan jou kind vroeg reeds met patrone vertroud maak met die hulp van alledaagse dinge soos krale, papierborde, pasta of toiletpapier. (Onthou ’n peuter se vingertjies is nog ’n bietjie lomp en daarom is vet krale met groot gate en ’n dik veter nodig om halssnoere te maak.)

Leer jou kind wiskunde-woorde

Herhaling is een van die beste maniere waarop kinders leer. Hulle leer tel as ons blikkies tel soos ons dit uit die inkopiesak haal, of trappe tel wanneer ons dit klim. Hulle leer hoe oud hulle is en hoe daardie syfer lyk, en ken later hul straatnommer en die huis se telefoonnommer.

Taal- en wiskunde-ontwikkeling gaan hand aan hand, veral wanneer julle oor patrone gesels. Deur eenvoudige patrone aan kleuters te verduidelik (“Hier is ’n korte en ’n lange en ’n korte”), lê jy die boustene vir taalontwikkeling sodat jou kind later die taalvaardighede het om meer ingewikkelde patrone te verduidelik.

Sy sal dan kan verduidelik hoe sy voorwerpe sorteer, watter voorwerpe dieselfde vorm, grootte of kleur het, en jou ook vertel waarom sy dit saam gegroepeer het.

Later, wanneer sy baie ouer is, span sy dié woorde en patroonbegrippe in om algebra en meetkunde op hoërskool te doen.

Die kuns van probleme uitpluis

As jou kind van jongs af leer om probleme op te los, is die wiskunde-stryd halfpad gewen. Probleemoplossing leer haar logika en die vermoë om ’n argument deur te voer.

Kinders is van nature nuuskierig en sal gou uitvind dat daar dikwels meer as een oplossing vir ’n probleem is. Probleme soos “Hoe gaan al die speelgoed weer in die boks pas?” of “Wat gebeur as ek die groot poppe voor op die rak pak en die klein poppe agter?” is alles lekker uitdagings wat haar lank kan besig hou.

As jy jou kind aanmoedig om vrae te vra en oplossings voor te stel – en as jy jou eie denkprosesse met haar deel – help jy haar om ’n goeie probleemoplosser te word.

Vervang ‘niks’ deur ‘nul’

Ja, jou kleuter kan reeds leer dat daar ’n begrip is soos nul en dat nul ’n getal is. Sê liewer: “Daar is nul waslappe in die bad” as “niks waslappe”. Die verskil lyk miskien nie so belangrik wanneer julle waslappe tel nie, maar dit is noodsaaklik wanneer jou kind begin leer om syfers te skryf, want by 40 beteken die nul nie “niks” nie, maar “nul”. Dié begrip is selfs belangriker by groter getalle.

Wanneer jou kind van 0 tot 9 kan tel, leer haar hoe hierdie syfers lyk. Die meeste kleuters leer vinniger wanneer meer as een sintuig gebruik word, soos wanneer jy die syfers uit skuurpapier sny.
Wanneer jou kind eers syfers onder die knie het, is dit glad nie moeilik om haar te leer hoe om die tyd te lees nie.

Hoe jy kan help

Een van die belangrikste maniere waarop jy jou kind se syfervaardighede kan ontwikkel, is deur self meer bewus te word van die wiskunde wat jou omring. Verduidelik dit dan in eenvoudige taal aan jou kind, en wie weet, dalk kan die volgende geslag met minder vrees vir wiskunde deur die lewe gaan!

Jou peuter leer van syfers wanneer jy...

  • Dinge tel
  • Vorms soek
  • Woorde gebruik oor gewig en mates (lig, swaar, kort, lank)
  • Praat oor hoeveel suiker in die houer is (volume) en of die broodpan groot genoeg is vir die deeg (kapasiteit)
  • Tyd bespreek (hoe lank totdat of sedert)
  • Die dag opdeel in tydgrepe (“Eers ontbyt, dan gaan ons speelgroep toe”)
  • Dinge skat en woorde gebruik soos naby en ver, ongeveer en meer, nie soveel nie soos, ensovoorts.
  • Kos verdeel en praat van “gelyke stukke”.

Jy kan geleenthede skep vir jou peuter om syfervaardig te word deur...

  • Haar te vra om die tafel te dek (“Bring 4 bekers. Ons dek 1 vir mamma en 1 vir pappa en 1 vir boetie en 1 vir jou.”).
  • Eenvoudige bokse of houers te gee om mee te speel en bo-op mekaar te pak of waarin hulle kan wegkruip.
  • ’n Swembadjie met water of sand te vul en eenvoudige kombuishouers daarin vol of leeg te maak.
  • Nuttige vrae te vra, soos: “Is daardie een vol? Watter beker is groter? Kan daar meer inpas as in die klein beker?”
  • Haar te help legkaart bou en te verduidelik waarom sekere stukke op sekere plekke hoort (“Dis groen soos die gras, dit het ’n reguit kant”).
  • Buite te gaan stap op ’n “hindernisbaan”: om die boom, onder die tuinstoel, oor die klippe, af met die glyplank.
  • Posisionele taalgebruik tuis aan te moedig deur haar te vra om iets onder die bed, langs die deur of agter die stoel te plaas.
  • Alledaagse syfergebruik uit te wys, soos dat huise nommers het sodat die posman weet waar die briewe hoort, motors nommerplate het sodat ons weet aan wie dit behoort, produkte in winkels pryse op het want ons betaal met geld wanneer ons uitloop.
  • Vrae te vra soos “Hoeveel? In watter rigting moet ons gaan? Sal daar genoeg wees? Hoe lank voordat ons daar kom?”
  • Aanmerkings te maak soos: “Dis ’n hoë gebou. Jou voete raak al hoe groter – ons sal vir jou ’n nuwe paar skoene moet koop.”
  • Tydgrepe te verduidelik, ook terugwerkend (“Jy het klaar gebad, nou kan jy eet.” “Nog net 2 slapies voor ouma kom kuier.”).

As jy elke dag met gemak oor syfers praat, sal jou kind dit ook doen. Julle hoef julle nie nou al oor algebra en meetkunde te bekommer nie – al wat jou kind moet weet, is dat wiskunde ’n belangrike, alledaagse stukkie gereedskap is. Sy sal gou agterkom hoeveel pret syfers kan wees, en wie weet – dalk word sy eendag nog ’n gerekende wiskundige!

Speel-speel syferslim

Dié speelgoed bevorder wiskundige begrippe:

  • Vorm-sorteerders.
  • Gewone blokkies of alfabet-blokkies, asook Lego vir twee- tot vierjariges.
  • Telringe of ’n telraam.
  • Legkaarte.
  • Boeke, veral boeke met rympies bevorder die idee van patrone.
  • Speletjies waar daar met ’n dobbelsteen gewerk word, soos slangetjies-en-leertjies.

Bronne

  • http://www.bbc.co.uk/news
  • Everyday Learning About Maths deur Jenni Connor & Denise Neal (Early Childhood Australia Inc. Reeks Volume 3).
  • How to Raise a Brighter Child deur Joan Beck (Pocket Books).