Vermy skoolsiek

akkreditasie
Skaars ’n maand gelede het die skool weer begin. Jou kind was aanvanklik baie opgewonde, maar êrens langs die pad het iets verkeerd geloop en nou sy kla elke oggend van maagpyn.

Dis nie ongewoon dat kinders hul geesdrif vir skool verloor ná ’n paar maande van die harde werklikheid nie. Ouers en kleuterskool onderwysers het hulle die vorige jaar en tydens die Desembervakansie so aangevuur om die nuwe jaar positief te beleef dat dit vir hulle soos ’n antiklimaks kan voel, veral as die werk bietjie moeilik voel. Dit kan vir die kleingoed ontnugterend wees dat inspanning nodig is, terwyl almal so gehamer het op hoe lekker die nuwe skooljaar gaan wees..

Hoekom haat hy skool?

As graad 0 met baie aanpassings gepaard gaan, soos ’n nuwe skool en uniform en onderwyser, is dit te verstane dat dit dalk vir jou kind soos net te veel voel. Dalk is die nuwe graad se struktuur en roetine ook strenger as die vorige jaar. As sy boonop tussen nuwe maatjies is, kan dit oorweldigend wees.

Dis ook moontlik dat jou kind dalk nie vir graad 0 reg was nie en dat sy weens ’n leer probleem soos aandaggebrek of disleksie met van die werk sukkel. As jy te veel sukkel, hou jy naderhand nie meer daarvan nie.

’n Ander rede vir die skielike skoolfobie kan skeidingsangs wees. Jou kind het nie iets teen die skool nie, sy wil net nie van jou geskei wees nie, omdat sy bang is iets gebeur met jou of haar terwyl julle weg van mekaar is.

Dan is daar angstige of oorsensitiewe kinders, wat geneig is om te oorreageer wanneer die juffrou streng is of selfs met iemand anders in die klas raas. Dalk het jou kind die vorige jaar ’n baie sagte juffrou gehad, en die nuwe juffrou se manier van doen kan ’n groot aanpassing wees.

Onsekerheid oor die reëls en die moeilikheid waarin sy kan beland, kan haar baie angstig laat voel. Perfeksionistiese kinders, of kinders met oorbeskermende ouers, kan sukkel om aan te pas en begin hulle onttrek van die leerproses in ’n poging om die risiko van mislukking miste loop.

Spanning by die huis, soos huweliksprobleme, finansiële druk en selfs die koms van ’n nuwe baba kan ook mee bring dat die kind nie wil skool toe gaan nie. In sulke gevalle besef ouers dikwels nie dat die probleem glad nie by die skool lê nie, en hulle hou aan om die kind te ondervra oor wat by die skool verkeerd is, terwyl die probleem eintlik tuis is. Soms is daar sosiale probleme – ’n kind kan sukkel om by maatjies in te skakel of kan selfs geboelie word.

As jou kind begin kla dat hy nie wil skool toe gaan nie omdat sy maag pyn of hy kopseer het, is hy nie besig omdoel bewus te jok nie. Hy kan werklik die simptome ontwikkel. Soms kan kinders selfs naar word en koors kry.

Hoe hanteer jy dit?

Moenie die simptome versterk deur ’n groot bohaai daaroor te maak nie.

  • Moenie met haar stry oor of sy werklik die simptome het – vir haar is dit werklik. 
  • Toon begrip deur te sê: “Ja, ek kan sien jy voel nie lekker nie” en probeer dan die fokus van die klagtes afhaal.
  • As jou kind siek is, moenie dit vir haar lekker by die huis maak nie. Psigosomatiese simptome verdwyn gewoonlik wonderbaarlik sodra die kind toestemming kry om nie skool toe te gaan nie en dan wil sy speel. ’n Kind wat te siek is om skool toe te gaan, behoort in haar kamer te bly of op die bank in die woonkamer te lê –sonder afleiding.

Voorkoming

  • Sorg dat daar gemaklike kommunikasie tussen jou en jou kind is, sodat jy gou kan agterkom as iets haar begin pla.
  • Gesels gereeld met die klasonderwyser, sodat jy op hoogte is van haar vordering en van enige voorvalle by die skool. Jou kind sal dit dikwels moeilik vind om self te verduidelik waar haar weerstand teen skool vandaan kom.
  • Moenie jou kind se negatiewe gevoelens afmaak as nietig nie. Sê: “Ek kan sien dat dit nie vir jou lekker is nie, maar kom ons werk daaraan, sodat dit vir jou beter kan word.”
  • Help jou kind verstaan dat ’n mens baie keuses in die lewe het, maar dat skoolgaan nie een daarvan is nie. Dis iets waardeur elke mens moet gaan. Moet dit net nie soos ’n straf laat klink nie.
  • Versterk jou kind se emosionele intelligensie deur haar te help om haar emosies te eien en hanteer. Fokus eerder op “Hoe voel jy?” as op “Hoekom voel jy so?”.
  • Handhaaf self ’n positiewe gesindheid teenoor die skool en onderwysers. Moenie vertel hoe jy skool gehaat het of plannetjies gemaak het om skoolwerk te ontduik nie!
  • Kry die hulp van ’n opvoedkundigesielkundige as die probleem voortduur of jy agterkom jou kind het leerprobleme. Indien sy nie hulp kry nie, kan sy haar naderhand afsluit van die leerproses en haar energie in iets anders soos aggressie omskakel.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees