Die vinnige pas waarteen leerders in graad 1 wegspring, vang menige ouer en kind onkant. As daar dan nog begrippe is wat in graad O minder goed vasgelê is, kan jou graad 1’tjie gou oorweldig voel. Wat kan jy doen om te keer dat dit gebeur? Verskillende skole koester verskillende verwagtinge van graad 1’s, sê Lisé-Marie Duvenage, ’n graad 1-onderwyser van Humansdorp. Daar kan selfs ander verwagtinge van vanjaar se groep gekoester word as van verlede jaar s’n. Dit hang alles af van hoe sterk die nuwe graad 1-groep is.

Taalgereed

Klank

Menige ouer wens dikwels hulle het in graad O meer aandag aan klanke geskenk. Heelparty kinders sukkel om drie lettergrepe in klanke op te breek en weer saam te stel deur net mooi daarna te luister, sê Lisé-Marie. “Hulle kan nie hoor wat hulle klank nie.” Klankherkenning is ’n belangrike vereiste as ’n kind graad 1 goed wil begin, sê Adéle Roos, ’n voormalige graad 1-juffrou en deesdae eienaar van die My Rocketeers-leerondersteuningsentrum in Pretoria. “Help jou kind om die klanke van al die alfabetletters vas te lê,” is haar raad. As jy vir haar die letter “b” wys, moet sy kan sê “b”. (Onthou dat klanke foneties uitgespreek word, dus sal jou kind sê “bi” pleks van “bee”.) Julle kan ook vir haar “s” sê en vra dat sy ’n geskrewe “s” identifiseer. Soek in jul omgewing na woorde wat met ’n spesifieke klank begin of so ’n klank bevat. As julle ”s” kies, kan julle op die uitkyk wees vir stoptekens, die Spar of Checkers. Julle kan dit ook tuis in tydskrifte soek en dan met ’n kryt ’n kringetjie daarom trek. Sê die klankie terwyl julle dit doen: “S is vir Spar, s is vir stop.” Help jou kind om die verskillende klankies waaruit woorde gevorm word, te identifiseer deur fyn daarna te luister. “As jou kind ’n klank in ’n woord kan hoor, gaan dit haar baie help om woorde te ontsyfer wanneer sy later begin lees,” verduidelik Adéle. Begin by die aanvangsklanke: Waarmee begin die woordjie “kas”? Watter klank hoor jy eerste? Daarna kan jy aanbeweeg na die eindklank (watter klank hoor jy laaste?) en nog later kan julle die middelklanke van drieletterwoorde soos “mat” probeer identifiseer. Klankassosiasie is belangrik, sê Lisé-Marie, maar ’n mens moet jou kind ook kans gee om haar eie assosiasies te maak. Jy leer jou kind dalk dat “kar” met ’n “k” begin, maar sy onthou dit makliker as die klank met “kat” verbind word. Alfabetkaarte met prente kan klankassosiasie help vestig. Speel Snap! met twee pakke alfabetkaarte en benoem tussendeur die klanke. Of speel ’n raaispeletjie: “Ek sien met my kleine ogie iets wat begin (of eindig) met die letter ‘t’. Wat is dit?” Lees elke aand boekies en laat haar dan uitwerk met watter klanke party van die woorde in die boek begin en eindig. Klap die klankgrepe van woorde. So leer jou kind dat ’n mens woorde kan afbreek en bymekaarsit. As jou kind ’n vreemde woord uitmekaar kan haal, sal sy makliker die klanke daarin herken – en dit maak lees weer makliker. Leer jou kind rympies en berymde liedjies en speel speletjies wat haar help om rymwoorde te herken. Maak saam lawwe rympies op, soos “die kat sit op die .... en lek sy blad”.

Lees

’n Graad O-kind hoef nie te kan lees voor sy grootskool toe gaan nie, maar belangrike pre-leesvaardighede moet vasgelê wees. Dit kan dus nie skade aanrig as jou kind nou al sigwoordjies (woorde wat so dikwels gebruik word dat ’n mens dit herken sonder om dit eers te klank) begin herken nie, en kan die oorgang na graad 1 makliker maak. Lees saans saam stories met baie prentjies sodat jou kind saam kan “lees”. Laat haar die stories voorspel deur na die prentjies te kyk, sê Adéle. So kan sy later makliker die verband raaksien tussen woorde en prente. Dit bou haar selfvertroue as leser. Haal agterna kleiner sigwoordjies soos “is” en “die” uit en lees dit saam. Maak haar bewus van woorde rondom haar. Help haar om logo’s te herken en “lees” byvoorbeeld Coca-Cola, STOP, Checkers of ander woorde wat julle gereeld sien. Speel met klankkaarte en kyk of julle woorde kan vorm en lees met klankies wat sy al goed ken. Moet egter nie druk op haar plaas nie.

Skryf

Maak seker jou kleinding kan teen die einde van graad O haar naam skryf met ’n hoofletter gevolg deur kleinlettertjies. As sy sukkel, druk sy naam vir hom met groot kolletjieletters uit sodat sy dit daarop kan natrek. Merk waar sy elke lettertjie moet begin.

Potloodgreep

Die regte potloodgreep is belangrik. “As jy sien jou kind se potloodgreep is verkeerd, moet jy werk maak daarvan voor die gewoonte verkeerd gevestig is,” beklemtoon Adéle. Sy beveel aan dat jou kind met ’n dikker skryfding soos ’n vetkryt of dik potlood werk omdat dit makliker is om daarmee die regte potloodgreep aan te leer. “Jy kan ook daardie spesiale rubbergrepe gebruik om jou kind te help voel waar sy vingertjies moet wees.”

Skrif

Jou kind begin nog nie in graad O werklik skryf nie, maar kan oefen om letters te vorm deur dit byvoorbeeld in sand te skryf. Jy kan help deur haar patroontjies te laat natrek soos wolftande (sigsag), seegolfies en hasiespring. Dit oefen die nodige fynmotoriese bewegings vir skrif. Sou jou kind skryf, kan haar letters maar groot wees (selfs meer as 4 cm hoog). Adéle sê as ouers hul kinders wil help is dit noodsaaklik dat hulle weet presies hoe die letters gevorm moet word. Elke letter het ’n vaste plek waar begin moet word en ’n vaste volgorde waarvolgens dit gevorm word. “As dit verkeerd vasgelê word, sukkel ons geweldig om dit reg te stel.”

Luister

Luister is ’n belangrike taal- en algemene vaardigheid. Hoe beter jou kind kan luister, hoe makliker is dit vir haar om opdragte reg uit te voer en sukses te behaal. Gee jou kleinding van twee tot vier jaar oud ál meer takies in een opdrag. Laat haar dit uitvoer en terugkom, sê Adéle. “Gee ook ’n spesifieke volgorde waarin jou kind dit moet verrig.” Luister hang saam met konsentrasie, sê Adéle. “Hoe nader aan die einde van die jaar, hoe langer kan jy die stories maak wat jy lees terwyl jou kind stilsit sodat sy kan leer om langer te fokus. Vra vragies oor wat jy gelees het sodat sy weet sy moet met aandag en begrip luister. “Of laat haar die storie in haar eie woorde in die korrekte volgorde terugvertel. Konsentrasie kan ook verbeter word deur jou kind te laat stilsit en legkaarte bou.”

Wiskundeslim
Getalherkenning behels dat jou kind die syfers 1 tot 10 kan herken en benoem en die woorde van een tot tien kan lees en herken. Hy moet ook met begrip tot minstens 10 kan tel. Hy moet dus verstaan dat een voorwerp een telling werd is sodat hy kan tel hoeveel knopies daar is. “As daardie basiese getalbegrip nie daar is nie, sal jou kind in graad 1 met alles sukkel,” verduidelik die leeskenner Adéle Roos. Help getalbegrip vestig deur jou kind aan te moedig om alles te tel, soos die messe en vurke wat gedek moet word. Soek oral in die omgewing na getalle en benoem hulle. As getalbegrip gevestig is, kan jou kind op ’n konkrete manier begin sommetjies doen tot minstens 10. Hy moet begin verstaan van wegvat en bysit, sê Lisé-Marie. “Hy hoef nie noodwendig die terme plus en minus te ken nie, maar moet weet hoeveel daar is as jy twee bysit of wegvat. Jy kan met jou kind speel deur te sê: ek het twee vingers. Hoeveel kort ek om drie vingers te hê? Alles moet konkreet gedoen word.” As jou kind eers die somme konkreet doen, kan hy oorskakel na halfkonkreet, soos die som 4 + 3, wat met prentjies van blommetjies bygetel kan word. ’n Getallelyn tot 10 of 20 in sy kamer kan baie help sodat hy die volgorde van die getalle visueel kan sien. Jy kan ook vra wat voor of ná ’n sekere getal kom. As hy dit tot by 10 snap, sal hy dit later makliker by die groter getalle verstaan. Ontwikkel jou kind se wiskundige woordeskat deur gereeld terme soos groter as, kleiner as, minder, meer, eerste, tweede, middelste en laaste te gebruik. “Wys dit konkreet vir jou kind,” sê Adéle: “Watter groepie albasters is die meeste?” “Hoeveel skat jy is in elke groepie?”“Rangskik hierdie voorwerpe van groot tot klein of van die meeste tot die minste.” Werk eers net tot by tien. Begrippe soos links, regs, bo en onder moet ook goed vasgelê wees. Kinders sukkel dikwels met woordsomme, sê Adéle. “Maak heeldag woordsomme saam met jou kind, soos deur hom te help tel as jy koek bak: “Ons is agt mense, maar nou-nou kom oupa en ouma. Hoeveel mense is ons dan?” Maak seker jou kind ken die basiese vorms en kleure en kan dit eien in alledaagse voorwerpe in jou huis. Wys ook vir jou kind patrone uit.
Getty Images

Lewensvaardig

Maak seker jou kind kan met selfvertroue sy naam, van en ouderdom verskaf en ken sy adres, minstens een van sy ouers se telefoonnommers en ook sy verjaardagdatum. Hy moet hom onafhanklik kan versorg, sy veters kan knoop, genoeg selfvertroue hê om die juffrou te vra om klas te verlaat (oefen dit deur rolspel as hy hiermee sukkel), en sy besittings kan oppas. Vaardighede soos knip, plak en inkleur is belangrik. Maak seker hy kan netjies op ’n reguit en geronde lyn knip en kan met stafiegom werk. Laat hom prentjies uit tydskrifte knip en plak. Kyk ook hoe hy inkleur: hy moet tussen die lyne in dieselfde rigting kan inkleur en kleure realisties kan gebruik. Baie graad 1’s voel oorweldig deur die vinnige werkpas, sê Adéle. “Soms is ’n kind pynlik netjies, maar neem ure om ’n takie te voltooi en eindig met onvoltooide werk. Help jou kind om vinniger en meer gefokus te werk deur van takies ’n kompetisie te maak waarin hy moet kyk hoe vinnig hy iets kan doen.” Dis belangrik om deurentyd te onthou dat dit nie in drilsessies moet verander nie, maar speel-speel moet gebeur.