Daar lê ’n baie belangrike skooljaar vir jou kind voor: graad O, oftewel haar ontvangsjaar. Ons noem dit dikwels sommer 0 of graad R – daardie gewigtige tydperk van haar lewe waarin sy die kleuterskool agter haar laat en met mening vir die grootskool gereedmaak.

Hoe dit werk

Graad O is jou kind se voorbereidingsjaar vir graad 1 en daarom word daar gewerk na vaste doelwitte wat aan die einde van elke kwartaal en die jaar bereik moet word om seker te wees sy is gereed vir graad 1.

Tog is die klasopset nog baie minder formeel as in graad 1. Jou kind leer informeel deur fisieke ervarings, spel en beweging, terwyl sy in graad 1 formele onderrig ontvang en die fokus dan na suiwer verstandelike ontwikkeling verskuif. Daar behoort dus nie van jou graad O’tjie verwag te word om heeloggend by ’n tafel stil te sit nie.

Die graad O-klas het ook nie gestruktureerde periodes vir elke vak nie, maar die onderwyseres volg ’n dagprogram waarby al die vakke geïntegreer word. Elke dagprogram sal bestaan uit drie elemente:

  • meer gestruktureerde aktiwiteite wat deur die onderwyseres gelei word,
  • roetine-aktiwiteite soos die toiletroetine, en
  • vryspel binne of buite waar jou kind self besluit wat sy wil doen.

Assessering van jou kind se vaardighede berus nie op formele toetsing nie, maar op die juffrou se waarneming. Kom ons kyk vir watter vaardighede die juffrou haar oë gaan oophou.

Lewensvaardighede

Lewensvaardighede gaan oor jou kind se geheelontwikkeling; spesifiek haar sosiale, persoonlike, intellektuele, emosionele en fisieke ontwikkeling. Dit word gedoen deur haar basiese dinge oor ’n verskeidenheid onderwerpe te leer (dit word aanvangskennis genoem), persoonlike en sosiale vaardighede te help vestig, haar oor haar liggaam op te voed en haar skeppende kuns te laat beoefen.

Aanvangskennis. Jou kind leer basiese inligting met die hulp van ’n verskeidenheid temas soos “ek” (Wat is my naam en van? Wat maak my spesiaal?) en “by die skool” (Hoe werk die skool? Wat is die reëls?). Temas soos die weer, seisoene, sintuie, basiese gesondheid en veiligheid, vorms en kleure, boerdery, diere en sport word ook onder die vergrootglas bekyk.

Skeppende kunste. In skeppende kunste sal jou kind blootgestel word aan dans, drama, musiek en visuele kunste soos konstruksiewerk en teken. Dit sal verbeelding en kreatiwiteit stimuleer en kunswaardering aanmoedig. Enigiets van aksieliedjies tot hul eie instrumente maak, rympies opsê, dans, stories opmaak, speletjies speel en van verskillende ritmes leer sal daarvoor ingespan word. Die juffrou sal kyk of jou japsnoet rympies of stories kan dramatiseer, eenvoudige mimiekaksies kan uitvoer soos om ’n roomys te eet, slaginstrumente kan gebruik om ritme te hou, iets kan teken of verf na aanleiding van die week se tema, of met speelklei iets kan vorm. 

Fisieke ontwikkeling. Op hierdie ouderdom is jou kind se fisieke ontwikkeling geweldig belangrik en word daar veral gefokus op die ontwikkeling van perseptuele en groot motoriese vaardighede met die hulp van speletjies, beweging en sport. Assessering van al hierdie aktiwiteite is informeel. Vir persoonlike en sosiale welstand sal die juffrou kyk of jou kind haar eie besittings kan oppas en wegpak, of sy haar eie skoene kan aantrek en haar veters kan vasmaak, of sy haar werkomgewing skoon hou, take kan uitvoer sonder om buitengewoon moeg te raak, kritiek kan aanvaar sonder om te huil of kwaad te word, of takies kan afhandel sonder om elke paar minute te vra of dit mooi is.

Op liggaamsopvoedingsvlak sal die juffrou onder meer kyk na haar hand-oog-koördinasie en of sy ’n bal na ’n teiken kan gooi, verskillende groottes balle van verskillende hoogtes of afstande kan vang of ’n bal met die plat hand kan slaan. Marlize Labuschagne, ’n graad 1-onderwyseres van Centurion met ’n honneursgraad in leerderondersteuning, sê fyn motoriese ontwikkeling word ook bekyk met die hulp van kleispel, papiertjies wat geskeur en geplak word en die ryg van krale of noedels. Dit help met die ontwikkeling van jou kind se handspiertjies, wat later beter potloodgreep en -beheer verseker.

Persoonlike en sosiale welstand. Dit is daarop gemik om jou kind te leer hoe om na haarself om te sien en haar gesond te hou – ook op sosiale en emosionele vlak. “Jou kind leer hoe om in sekere situasies op te tree, asook hoe om teenoor ander mense op te tree,” sê Marlize. Jou kind sal teen die einde van graad O al ’n bietjie kan skryf, spel en sommetjies maak.

Taalvaardigheid

In graad O word net op moedertaalontwikkeling gefokus – tweedetaal-ontwikkeling begin eers in graad 1. Die onderwyseres sal fokus op luister en praat, ontluikende lees en ontluikende skryf. Die volgende vaardighede sal ontwikkel word:

Praat en luister. Jou kind leer boodskappe oordra en moet kan luister na drie opdragte en daarop reageer. Sy leer om na langer stories te luister en vragies daaroor te beantwoord. Sy moet prente van ’n storie in volgorde leer rangskik. Sy kan rymwoorde in bekende liedjies of rympies identifiseer en herken beginkonsonante en -vokale (sy kan dit hoor of sien as dit geskryf is), veral aan die begin van bekende woorde. Sy verbind klanke met letters en woorde en verstaan dat woorde uit meer as een klank bestaan.

Ontluikende lees. Jou kind pas sekere woorde by prente en begin hoëfrekwensie-woorde in die klas en skool lees, soos “kas” of “deur”. Sy wys na die woorde wanneer sy lees en nie na die prente nie. Sy verdeel sinne in individuele woorde en meerlettergrepige woorde in lettergrepe deur dit te klap. Sy gebruik prente om die inhoud van stories te voorspel en kan minstens ’n 20-stuk-legkaart bou. Sy pas prente en woordjies bymekaar.

Ontluikende skryf. Jou kind leer letters en patrone natrek, en kan skryf deur bekende letters te gebruik. Sy kan met ’n skêr ál met ’n streep langs knip en verskille en ooreenkomste identifiseer en beskryf. Sy hou die kryt korrek vas en vorm sommige kleinletters korrek deur dit op die regte plek te begin en eindig. Dis ook nou dat jou kind se handdominansie vasgelê moet word, sê Marlize. Met ander woorde: “Jou kind behoort nou ’n duidelike voorkeur vir haar linker- of regterhand te hê.”

Wiskunde

Wiskundige begrippe sal speel-speel by jou kind gevestig word. Teen die einde van die jaar behoort jou kind al ritmies tot by 10 en agteruit te kan tel, in twees tot by 10 te kan tel en die verskil te verstaan tussen min en baie en minder of meer. Sy moet getalprentjies tot by 10 kan herken (’n prentjie met 10 kolletjies op), die getalsimbole tot by 10 ken, asook die getalname kan herken.

Sy behoort mondelings optel- en aftreksommetjies tot by 10 te kan doen. Sy moet patrone kan skep en nateken en moet vorms soos ’n sirkel, driehoek, reghoek en vierkant kan herken. Begrippe soos langs, tussen, links en regs moet bekend wees, en sy moet verstaan dat voorwerpe met ’n maatband gemeet kan word. Sy moet inligting kan versamel, sorteer, teken, lees en eenvoudig kan voorstel. 

Hoe jy kan help

Die vaardighede wat ons in hierdie artikel verduidelik, is die minimum wat jou kind in graad O moet leer – dalk kan hy baie meer doen. Wees egter billik en moenie meer van hom verwag as wat ouderdomstoepaslik is nie.

  • Doen moeite om ’n verhouding met sy juffrou op te bou en gesels met haar oor sy vordering. Vra of daar enigiets is waaraan jy ekstra aandag moet skenk.
  • Vra die juffrou watter tema hulle daardie week in die klas behandel, dan kan jy dit tuis ondersteun met relevante vragies of boeke.
  • Gun jou kind tyd vir fantasiespel en laat hom ’n verskeidenheid groot motoriese vaardighede oefen. Speel saam bal.
  • Sing saam liedjies en dans.
  • Lees stories en vra vrae daaroor. Laat jou kind ook vir jou die storie terugvertel. Dit leer hom om te let op die volgorde waarin dinge gebeur.
  • Vra baie “hoekom?” sodat hy daaroor moet dink. Bou aan sy algemene kennis en woordeskat. Antwoord hom eerlik as hy die slag vir jou “hoekom?” vra. “Moenie sy nuuskierigheid as lastig afmaak nie. As jy iets self nie weet nie, wees eerlik met jou kind en vind uit. Gee dan vir hom terugvoer,” sê die graad 1-onnie Marlize Labuschagne.
  • Kyk elke dag in sy huiswerkboekie of daar iets belangriks is.
  • Werk aan sy selfvertroue en basiese selfhelpvaardighede.
  • Leer jou kind om te luister en sy beurt af te wag om te praat.
  • Speel “My klein ogies sien iets wat begin met ’n b”. Spreek klanke foneties uit.
  • Maak jou kind syferkundig wakker deur getalle in die omgewing te soek of dinge te tel terwyl julle ry.
  • Gee jou kind gereeld drie agtereenvolgende opdragte om by die huis uit te voer. So raak hy daaraan gewoond om te luister en te onthou wat van hom verwag word.
  • Oefen ooreenkomste en verskille deur in die motor twee voorwerpe uit te wys en jou kind te vra wat hulle verskillend of dieselfde maak.
  • Laat jou kind verskillende kleure of vorms uitsorteer, byvoorbeeld krale.
  • Gesels gereeld oor verskillende emosies. Hoe lyk die emosie? Hoekom voel ons daardie spesifieke emosie? Wat kan ons doen wanneer ons so voel? Wat kan ons doen wanneer iemand anders so voel?
  • Moenie ’n linkshandige kind dwing om regs te skryf of te knip nie. Koop liewer ’n skêr vir linkshandiges.
  • Marlize herinner ouers daaraan dat leer op hierdie ouderdom speel-speel moet plaasvind. “Dit kan in die motor wees, tydens ’n uitstappie of in die tuin,” is haar raad.
Het jy geweet
Graad O-onderwyseresse landwyd gebruik die Kurrikulum- en Assessering-Beleidsverklaring (CAPS) as riglyn vir onderrig. CAPS fokus op drie leerareas: lewensvaardighede, wiskunde en taalvaardighede. Gaan gerus na tinyurl.com/Leer-CAPS-ken om meer oor dié Suid-Afrikaanse leerplan te wete te kom.

Oor jou kind se verslag…

Volgens Marlize Labuschagne, ’n graad 1-onderwyseres, hanteer skole die verslag (oftewel rapport) op verskillende maniere. “Dit is baie moontlik dat jou graad O-kind ’n verslag huis toe gaan bring met net die CAPS-simbole (1 tot 7) op, maar dit is ook moontlik dat die verslag simbole, ’n persentasie en selfs 'n klas- of graadpersentasie gaan bevat.”

Raakgekoop

Oh My Goodness! is gesonde peuselhappies wat jy by Checkers kan koop, R9,99 per pak.