Klein lyfies in oorgroot uniforms is genoeg om enige ma se hart week te maak. Voeg daarby ’n bewende lippie en ’n wavrag boeke in ’n swaar skooltas en ’n ma is oombliklik uitgestres.

Ons weet al dat graad O en 1 ’n groot verandering vir klein kinders is en dit wil lyk asof daar toenemend meer eise aan die outjies gestel word. Wat maak van hierdie twee grade so ’n groot uitdaging? Kenners is dit eens dat ja, hoewel daar nog tyd vir speel in hierdie grade is, is die sorgelose dae van informele leer en hope speeltyd verby. Formele leer is nou die groot uitdaging vir kinders.

Theresa van den Berg, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria, sê dit is inderdaad iets waaraan klein lyfies gewoond moet raak en veral graad 1 bring ’n nuwe stel eise, reëls en verwagtinge. Daarom kan die belangrikheid van skoolgereedheid nie genoeg beklemtoon word nie, sê dr. Arina Lanser, ’n opvoedkundige sielkundige van Roodepoort in Johannesburg.

“Dis die eerste formele tree tot lewensgereedheid. In graad R leer jou kind onder meer om van sy ouers te skei, die juffrou met ander te deel, in groepe te werk en by ’n spesifieke roetine en reëls te hou. Daar word ook van hom verwag om vir ’n bepaalde tyd te konsentreer en om opdragte spesifiek en vinnig te kan uitvoer.”

Moderne kinders bring nie meer genoeg tyd saam met hul ouers deur nie, sê Aneen Cooks, graad O-graadhoof by die Destinatus-privaat skool in Brackenfell, Kaapstad. “Kinders sit voor die TV of iPad sodat ons gou kan kos maak of die huis kan regtrek. Maar dis juis waar waardevolle leer- en saamweestyd verlore gaan. Hoekom betrek ons nie ons kinders by ons gejaag nie en help hulle so met die oorgang na graad O en 1?

”Kinders kan in die kombuis, garage of wasgoedkamer help en so kan ’n wiskundige woordeskat en begrippe, asook taal uitgebrei word.” Julle kan saam tel, meet, en sorteer. Jou kind kan leer dat een ding moet gebeur voor iets anders kan plaasvind. Sy woordeskat kan dramaties uitgebrei word. En dit alles sonder dat hy voel hy word nou gedwing om iets te leer.

Die groot graad O

Dit lyk dalk vir ons na ’n baie eenvoudige jaar, maar graad O hou talle uitdagings vir kinders in, sê Arina.

  • Kinders moet fisiek sterk en gesond genoeg wees en genoeg stamina hê om ’n hele oggend van leer en aktiwiteite te bowe te kom. Die perseptuele vaardighede wat in graad 1 nodig gaan wees, word gereeld geoefen. Juffrou maak die hele tyd seker dat kinders die nodige kan doen. Daarom is gereelde skoolbywoning noodsaaklik.
  • Hulle leer nou oor dissipline, klas- en skoolreëls en ook oor gesonde kompetisie. Respek vir maats, ander ouers, onderwysers en assistente word gekweek.
  • Kinders leer die implikasies van onvanpaste en boeliegedrag, en dat dit belangrik is om hul gevoelens in woorde uit te druk.
  • Hulle leer hoe om gebeure korrek weer te gee en inligting te verwerk en chronologies te herroep.
  • Kinders kry blootstelling aan laerskoolsportsoorte.
  • Enige probleme met taal, spraak, gehoor, oë, perseptuele ontwikkeling, konsentrasie of emosionele ontwikkeling wat nou raakgesien word, kan betyds behandel word.

Graad 1-parrabeen

In graad 1 het jou kind ’n rits nuwe vaar­dig­hede nodig. Baie daarvan leer hy by die kleuterskool en in graad O, maar jy kan tuis ook heelwat doen om hom grootskoolgereed te maak, sê Theresa. 

  • In graad 1 moet motoriese en postuurvaardighede so ontwikkel wees dat hulle vir langer tye in ’n klaskamer kan stilsit en konsentreer. Daarom is dit belangrik dat die kleuterskool-program hulle leer om met hul liggaam balans en groot en fyn motoriese vaardighede te oefen. 
  • In graad 1 moet kinders hul werk binne ’n spesifieke tyd kan afhandel en na die volgende aktiwiteit kan aanbeweeg. Daarvoor moet hulle tyd verstaan en goeie tydsbestuursvaardig­hede hê. Hulle leer dat alles wat ons doen, ’n begin, middel en einde het en binne ’n sekere tyd afgehandel moet word. Jy kan help deur jou kind vroeg al van tyd bewus te maak en hom te leer om take af te handel. 
  • Graad 1 gaan meer geroetineerd wees en kinders wat aan roetine gewoond is, pas makliker aan. Leer jou kind ook om roetines by die huis te vestig deur elke dag sy tas en kosblik uit te pak wanneer julle tuiskom en die huiswerkboek vir jou te bring.
  • Daar gaan van jou kind verwag word om te “onthou”. Hy moet dus vroeg reeds strategieë aanleer om inligting te onthou en te herroep. 
  • Dit is belangrik dat kinders leer om te luister. Graad 1 is baie ingestel op ouditiewe vaardighede. Die begin van klank en lees is op goeie ouditiewe en luistervaardig­hede geskoei. Kinders moet tussen verskillende klanke kan onderskei sodat hulle dit kan saamvoeg en uitmekaar kan haal om te lees en skryf. Dit is daarom belangrik om seker te maak dat jou kind se taal en ouditiewe vaardighede met normale ontwikkeling op peil is. 
  • Konsekwente verwagting en roetine help ’n kind om innerlike dissipline te ontwikkel. Leer jou kind om sy besittings op te pas en daarvoor verantwoordelikheid te aanvaar. Leer hom ook om na opdragte te luister sodat hy die juffrou se duidelike bedoeling kan verstaan en uitvoer. 
  • Leer jou kind wat stiptelikheid is. Wees ’n voorbeeld en moet hom nie laat vir skool aflaai nie. Skool het vaste tye en kinders moet leer om dit respekteer en daarby aan te pas.  

Hoe jy kan help

Aneen deel die volgende wenke.

  • Praat soveel moontlik met jou kinders sodat hulle korrekte taalgebruik hoor. Kinders sukkel vandag met woordeskat en sinskonstruksie.
  • Vra vrae oor wat jou kinders gelukkig maak, wie hul maatjies is, wat die dag by die skool gebeur het. Hierdie vrae is belangrik vir hul emosionele ontwikkeling en welstand. Dis ’n deel van kinders se ontwikkeling wat maklik afgeskeep word.
  • Praat met die onderwyseres en handhaaf ’n oop verhouding waarin julle albei jou kind se belang eerste stel. Onderwysers moet vroeg kan agterkom of daar dinge is wat met jou kind se leervermoë inmeng (emosionele sake ook), in die klas kan ingryp en jou op hoogte van jou kind se vordering kan hou. As vordering nie na wense is nie, moet julle saamwerk om die bes moontlike professionele hulp te kry.
  • Onthou dat kinders verskil. Sommige kinders is van nature angstig oor nuwe situasies en dit kan hulle dalk langer kos om by nuwe situasies aan te pas. As dit langer as drie of vier weke duur voor jou kind aangepas het, moet jy ondersoek instel. Spelterapie kan help.
  • Stuur ’n foto van Mamma en Pappa saam skool toe sodat jou kind daarna kan kyk as hy verlang.
  • Stel jou kind gerus dat jy die middag betyds sal wees. Moenie dinge sê wat nie waar is nie. Dit breek kinders se moed en maak hulle net nog angstiger.
  • Die aflaai van jou kind speel ’n groot rol. Wees soggens betyds. Dit is nie lekker om by die klas in te stap as al die maatjies reeds besig is nie.
  • Doen al die moontlike om soggens op pad skool toe ’n rustige en geborge atmosfeer te skep.
  • As jou kind meer tranerig is wanneer Mamma hom aflaai, is dit dalk beter as Pappa soms die takie verrig.
Jy en die skool

Volg dié praktiese wenke om jou en jou kind se verhouding met die skool glad te laat verloop, sê Arina.

  1. Hou rekord van jou kind se mediese geskiedenis, medikasie en terapie (indien van toepassing) en selfs ook van traumatiese gebeure en prestasies.
  2. Woon oueraande en inligtingsaande by.
  3. Wees bewus van die skool se beleid ten opsigte van etiese kode, dissipline, sportbyeenkomste, hantering van boelies, ensovoorts.
  4. Vra uit oor hoe inligting gekommunikeer word en ook wat die regte kanale is waardeur probleme bespreek kan word.
  5. Handhaaf reëls en roetine tuis.
  6. Bemagtig jou kind met maniere om mislukking, konflik en boelies te hanteer.
  7. Weet wat die vereiste skooldrag, skryfbehoeftes, snoepiegeld en uitstappie-benodigdhede is. Kinders kan angstig voel as hulle nie korrek toegerus word nie.
  8. Rig jou kind se kamer soos ’n ouer kind s’n in met ’n lessenaar en leeslampie.
  9. Moedig jou kind aan om sy klere reg te sit en sy tassie te pak.
  10. Probeer om blootstelling aan tegnologie te beperk.
  11. Moedig die regte dieet aan en pak ’n voedsame kosblik.
  12. Weet waartoe jou kind in staat is sodat julle onrealistiese verwagtinge en angstigheid kan vermy.