Om tyd te verstaan, moet jou kind begryp dat daar ’n bepaalde volgorde aan gebeure is, dat sekere goed voor of ná ander gebeur, dat daar iets soos gister, vandag en môre is, en ook ’n verlede, hede en toekoms.

Sy moet agterkom daar is ’n gereeldheid van gebeure (ons eet drie keer per dag), ’n ritme (weekliks of maandeliks) en dat tyd gemeet kan word in eenhede soos jare, maande, dae, ure, minute en sekondes. Jou kind moet ook ’n woordeskat ontwikkel om haar te help beskryf wat in tyd gebeur.

Teen gr. 1 sal jou kind verskeie tydsbegrippe onder die knie hê, maar tyd is nie iets wat sy binne ’n middag kan verstaan nie. Die meeste sesjariges kan nog nie op ’n horlosie kyk hoe laat dit is nie – die meeste kinders word eers tussen sewe en 10 jaar werklik vaardig met ’n horlosie of kalender omdat hulle dan eers oor die nodige wiskunde vaardighede beskik om die horlosie met gemak te lees.

Om die horlosie te lees

Die meeste kinders sukkel in gr. 1 nog om te kyk hoe laat dit is. Jy kan jou kleinding wel help om die verband tussen die verloop van tyd en ’n horlosie te verstaan.

Maak jul eie horlosie

Neem ’n papierbord en trek die strepies op die horlosie om 1 tot 12 aan te dui. Wys haar waar om 1 tot 12 op die gepaste plekke neer te skryf.

Maak die wysers van die horlosie en heg dit vas met wondergom of ’n lêerknopie sodat sy dit kan stel. Verduidelik dat die kort wysertjie daar is om te wys watter uur dit is en demonstreer hoe dit in die rondte draai.

Verduidelik dat die lang wyser daar is om te wys hoe ver in die uur jy is. Dit doen ons deur te kyk na minute. Die lang wyser moet een volle keer in die rondte draai voor die kort wyser een uur kan aanskuif. Wys dit op haar tuisgemaakte horlosie.

Verduidelik dat ’n minuut opgedeel is in sekondes. As jou kind al tot 60 kan tel, kan jy haar vra om een keer stadig tot by 60 te tel: Dis so lank as wat een minuut duur.

Moenie verwag dat jou kind dadelik sal verstaan hoe dit werk nie. Herhaling is die beste manier om jou kind van tyd te leer.

Tydspeletjies

Sit jul tuisgemaakte horlosie teen ’n muur vas waar julle dit gereeld sien. Vra vragies daaroor: Waarvoor is die kort wyser? En die lange? Hoe ver moet die lang wyser draai voor die korte ’n plekkie aanskuif? Hoe lank is dit dan? ’n Hele 60 minute!

Stel ’n ou wekker elke keer op die uur: Op watter nommer is die kort wysertjie nou? En hoe laat is dit nou?

Werk aanvanklik net met ure. As dit lyk of sy dit onder die knie het, kan jy die wekker vir haar gee en haar vra hoe dit sal lyk as dit eenuur is, of tweeuur. Help jou kind om die kort wyser na die regte plek te skuif. As sy die ure verstaan, kan jy met halfure begin en daarna na kwartiere aanbeweeg.

Laat jou kind die wekker op ’n uur stel om julle te herinner om iets te doen – sy sal dit baie geniet as dit jul gunsteling-televisieprogram inlui.

Stel ’n dagprogram op waarop jy horlosies teken wat aandui hoe laat sy wat doen, byvoorbeeld ’n horlosie met die uurwyser op sewe om aan te dui hoe laat sy soggens opstaan. Wys die ooreenkoms tussen jul muurhorlosie en die tekeninge. So sal jou kind self op die horlosie kan sien wanneer sy wat moet doen.

As jou kind gemaklik is met ’n horlosie lees, maak vir haar afdrukke van ’n horlosie sonder wysers en vra haar om daarop te teken hoe sesuur of agtuur lyk. Later kan jy halfure en kwartiere bywerk.

In die klas

Teen die einde van gr. 1 moet kinders al tydwoorde soos vroeg, laatoggend, middag en nag gemaklik gebruik. Hulle moet gebeure in volgorde kan rangskik met woorde soos gister, vandag en môre, en verjaardae op ’n kalender kan aanteken.

Hulle moet eenvoudige vragies kan beantwoord oor dinge wat in die verlede gebeur het, verstaan dat daar ’n verskil is tussen die hede en die verlede, en kan gesels oor voorwerpe wat die verlede verteenwoordig soos byvoorbeeld foto’s. Hulle moet hul eie ouderdom met dié van ander kan vergelyk.

Bou haar tydsbesef

  • Werk tydwoorde by jul roetine in. Koppel tydsbegrippe waar moontlik aan werklike gebeure om dit minder abstrak te maak, soos: Gister het ons geswem. Wat gaan ons môre doen? Volgende week is Carla se verjaardag. Oor drie maande is dit Kersfees.
  • Laat jou kind tydsverloop ervaar. Sê sy het nog vyf minute om te speel voor sy bad. Wys haar op die horlosie hoe die wyser moet skuif en roep haar sodra vyf minute om is sodat sy kan voel hoe lank dit is.
  • Kies ’n groot wekker of horlosie en wys jou kind hoe die sekondewyser draai. Sy kan luister na die tikgeluide en daarmee saam klap. Sê vir haar elke tik is ’n sekonde.
  • Laat haar ’n kookwekkertjie stel en kyk hoeveel speelgoed sy binne twee minute kan opruim.
  • Gebruik ’n stophorlosie en laat jou kind meet en neerskryf hoe lank dit haar gekos het om te bad, aan te trek en tande te borsel.
  • Speel skatspeletjies. Vra hoe lank sy dink dit sal duur om van die skool tot by die huis te ry en meet dit.

Jare, maande, weke en dae

Hang ’n kalender waar sy gereeld daarna kan kyk. Wys op die kalender dat daar 12 maande in ’n jaar is en sing saam die Klopseliedjie Januarie, Februarie, Maart.

Skryf die dae van die week uit en teken ’n prentjie by elke dag van iets wat jou kind daarmee verbind. Byvoorbeeld: Maandag gaan ons skool toe, Dinsdag is ons lui, Woensdag is dit rugby en Donderdag is ons bly, want Vrydag is dit naweek, en dan is ons weer vry! Saterdag is lekkerdag en Sondag is dit kerk en ons moet rus. Maandag is dit werk.

Plak ’n maandkalender in jou kind se kamer op waarop die maand se aktiwiteite aangebring is. Teken belangrike datums daarop aan en laat haar die slapies aftel tot belangrike dae soos ’n verjaardag of uitstappie.

’n Tydlyn kan help om die verloop van tyd te verstaan. Maak ’n prenttydlyn wat die verloop van haar dag uitbeeld. Gesels daaroor: Wat doen sy eerste? Wat doen sy alles in die oggend of middag? En saans?

Maak ’n tydlyn van haar lewe met babafoto’s tot haar eerste skoolfoto.