Vraag:

My kleuter van vyf sukkel om te konsentreer en stil te sit. Hoe kan ek sy dieet aanpas om sy konsentrasie te verbeter?

Anel Kirsten antwoord:

Dieet en voeding het ’n regstreekse invloed op ’n kind se gedrag, asook op sy vermoë om te konsentreer en te leer. ’n Dieetaanpassing kan dus van groot waarde wees. In sommige gevalle maak dit ’n dramatiese verskil, ander kere let ’n mens dit skaars op. Dis omdat elke kind uniek is en verskillend op kos reageer. Hoe volledig die dieetveranderinge geïmplementeer word speel ook ’n rol.

Lae glukemiese indeks

Die eerste stap is om te let op ’n gebalanseerde bloedglukosevlak. Om twee tot drie uur te kan leer en konsentreer, moet ’n kind se brein voortdurend van brandstof (glukose) voorsien word. Die brein kan nie konsentreer as die vorige maaltyd te min glukose bevat het nie, maar ook nie as daar te veel glukose teenwoordig was nie. ’n Dieet waar baie van die kos ’n hoë glukemiese indeks het, bring mee dat die glukosevlak in die bloed dramaties styg en ewe dramaties weer daal. ’n Dieet wat kos met ’n lae glukemiese indeks bevat word dus aanbeveel. Dit sal help om die glukose in die bloed te beheer en konsentrasie te verbeter.

Gereelde maaltye

Gereelde maaltye is van kardinale belang. ’n Kind moet drie etes per dag eet en elke twee tot drie uur ook ’n peuselhappie kry.

Meer proteïen

Elke ete moet proteïen insluit, want proteïen vertraag die absorpsie van glukose en help met verbeterde bloedglukosebeheer. Ontbyt is veral belangrik – ’n goeie ontbyt bestaan uit ’n sny lae-GI-brood met ’n eier daarop.

Beperk suiker

Suiker is al in die verlede gebrandmerk as ’n oorsaak van konsentrasieprobleme en hiperaktiwiteit. In navorsing is getoon dat 5% van hiperaktiewe kinders wel suikersensitief is. Die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Amerikaanse Hartvereniging beveel aan dat kinders tussen vier en ses jaar nie meer as vier teelepels suiker per dag inneem nie. Dit sluit in suiker oor hul kos, asook in verskuilde vorms soos pap en koeldrank.

Aanvullings

Daar is ook in studies bewys dat omega 3-aanvullings konsentrasieprobleme baie doeltreffend behandel. Verskeie vitamiene en minerale speel ’n belangrike rol in breinfunksionering en konsentrasie. Dit sluit in magnesium, vitamien C, die B-vitamiene, yster en sink. Dis daarom belangrik om ’n gebalanseerde dieet te volg, maar julle kan dit ook aanvul met ’n goeie multivitamien- en mineraalaanvulling.

Allergieë

Kinders met allergieë sukkel ook soms met konsentrasie. Daar is al in studies getoon dat 10% van kinders met allergieë konsentrasieprobleme in die klas het. As jy dink jou kind het dalk ’n voedselallergie, kan jy hom gerus daarvoor laat toets. Dit is baie belangrik om te onthou dat elke kind se eetplan individueel benader moet word.