Laat die syfers sing

akkreditasie
Hoe gouer jou kind met wiskundige begrippe te doen kry, hoe beter. Ons wys hoe.

Lekker speletjies met ’n wiskundige basis sal daarvoor sorg dat jou kind in graad een die uitdagings van sommetjies en tel sommer lag-lag kafdraf. Die geheim is om seker te maak dat dit vir hom lekker is.

Onthou, wiskunde gaan nie net oor syfers nie, maar ook oor begrippe soos grootte, inhoud, gewig, hoeveelhede, patrone en die verhouding tussen goed. Hier is vyf voorstelle.

Speel met knope

Laat jou kind jou knope-kissie uitpak en sorteer – eers volgens kleur, dan volgens grootte, en dan volgens vorm of volgens die getal gaatjies. Sortering is ’n belangrike wiskundige vaardigheid.

Soek die vorm

Vra jou kind om vorms in ’n vertrek te identifiseer. Begin met sirkels, dan reghoeke, dan vierkante en dan driehoeke. Julle kan selfs een dag tot sirkeldag verklaar en die hele dag lank oral sirkels soek, en dan vir elke dag ’n vorm gee.

Dubbelsteentjie

Vat ’n ou dobbelsteentjie en merk S vir snaaks, K vir kleur, E vir eet, T vir tel, D vir dans en B vir been. Gooi dit saam met ’n gewone dobbelsteentjie.

Jy moet dan soveel keer as die getal op die een dobbelsteentjie doen wat die ander dobbelsteentjie aandui. Byvoorbeeld: Trek twee snaakste gesigte, identifiseer drie kleure in die kamer, eet een lekkertjie, tel tot ses, dans vir vyf sekondes, spring vier keer op een been. Tel saam hardop.

In die bad

Badtyd is ideaal vir leer oor hoeveelhede, metings en verhoudings. Gee jou kind ’n stel maatkoppies om mee te speel. Neem ’n 500 ml-houer en vra jou kind hoeveel daarvan nodig is om ’n liter vol te maak. Kyk hoeveel teelepels pas in ’n eetlepel, en of ’n geskatte halfkoppie werklik 125 ml is.

Werk meestal met eenhede soos koppie en halfkoppie omdat konsepte soos 500 ml nog te moeilik kan wees.

Patrone vir jou klein patroon

Deur eenvoudige patrone aan jou kind te verduidelik, lê jy die boustene sodat hy eendag self patrone kan verduidelik. Patrone word veral belangrik as jou kind later met algebra en meetkunde begin.

Maar op graad R-vlak kan jy begin deur stories en rympies voor te lees waarin herhaling voorkom. Speel ook met krale en ryg in ’n patroon: een rooi, drie geles en ’n groene, en dan weer dieselfde.

Aftiklysie

Wat moet jou kind voor graad 1 alles baasraak?

1. Hy moet getalname ken.

2. Hy moet tot 10 kan tel.

3. Hy moet die simbole 0 tot 10 ken.

4. Hy moet voorwerpe in versamelings kan orden, groepeer en verdeel. 

5. Hy moet die begrippe meer, minder en dieselfde verstaan en toepas.

6. Hy moet sy eie oplossings vir probleme kan verduidelik. 

7. Hy moet getalle onder 10 kan optel en aftrek. 

8. Hy moet die verskil ken tussen dag en nag, asook seisoene. 

9. Hy moet weet wat beteken leeg, vol, minder as, meer as, swaar, lig, langer, korter, dik, dun, groot, klein, ver, naby, diep, vlak.

10. Hy moet links en regs kan onderskei, so ook bo en onder, en voorkant en agterkant.  

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees