Hierdie artikel is gepubliseer in die Februarie 2017 uitgawe van Baba & Kleuter. 

Ouers kla dikwels dat hulle skoolgaande kinders nie van lees hou nie, nie goed kan spel nie en sukkel om te leer. Vra maar vir onderwysers: Die geletterdheidsvlak van die Westerse wêreld is besig om skouspel agtig te daal en sommige kenners voorspel dat slegs ’n klein groepie mense eendag in staat sal wees om met insig te lees.

Al 10 jaar gelede het ’n studie onder Afrikaanse kinders ’n skokkende statistiek opgelewer: 84% van die kinders het gesê hulle hou niks van lees nie. Natuurlik gaan ’n kind wat traag is om te lees ook nie graag leer nie, want die twee is tog met mekaar verbind.

As jy wil seker maak dat jou kinders eendag in die 16% gaan val wat wel van lees gaan hou, moet jy vroeg al begin om ’n liefde daarvoor te kweek. Die groot ding om in gedagte te hou, is dat lees ’n plesier moet wees en iets wat ’n kind graag wil doen – dan’s jou kop deur.

Begin vroeg

Jy kan al vir jou baba begin voorlees. Dit versterk nie net die emosionele band tussen julle nie, maar jy stimuleer die ontwikkeling van baba se brein – en jy kan dit reeds van ses maande af begin doen! Navorsing toon dat kinders aan wie daar van hulle babadae af voorgelees is, ’n groter waardering vir lees en boeke het én beter op skool vaar as kinders aan wie nie voorgelees is nie.

Die wêreld is vir babas ’n splinternuwe en vreemde plek. Van dag een af leer hulle deur instink en blootstelling aan mense en hul omgewing om vaardighede te ontwikkel wat hulle stelselmatig van hulpelose klein mensies verander in opgevoede volwassenes wat hul plek in die lewe kan volstaan. Hoewel ’n baba instinktief weet om aan ’n tepel of speen te suig, verstaan sy nog nie dat die melk haar aan die lewe hou en ook laat groei en ontwikkel nie.

Haar mamma moet haar ’n bors gee, of haar pappa of iemand anders moet haar ’n bottel bied om haar instink te bevredig en die melk te drink om te oorleef.

Maak só ’n boekwurm groot

  • Boeke van lap, plastiek en karton is ideaal vir babas.
  • Kies boeke met ritmiese, maar min teks en groot, eenvoudige en kleurryke illustrasies.
  • Wees op die uitkyk vir interaktiewe boeke wat ander sintuie as net sig stimuleer.
  • Boeke waarmee jou baba en peuter kan identifiseer werk goed. Mense, voorwerpe en diere wat aan jou baba bekend is, sal sy aandag trek. Wys aktiwiteite uit wat die karakter en jou baba ook kan doen, soos kruip, lag, huil, eet en bad.
  • Hou jou kind op jou skoot vas sodat hy veilig en geborge voel. So assosieer hy van vroeg af al lees met positiewe emosies. As ’n kind die plesier en bevrediging van boeke ontdek, sal dit waarskynlik vir altyd deel van sy alledaagse lewe wees.
  • Lees boeke wat pas by sy ouderdom en persoonlikheid. ’n Voorleesstorie kan ’n kind wat te aktief is ná ’n dag se speel kalmeer en een wat onaktief is, stimuleer.
  • Wees geesdriftig, wissel jou stemtoon af en dramatiseer die storie.
  • Praat duidelik en stadig en wys na prentjies terwyl jy lees. Hou die boek 20 tot 30 cm van jou baba se gesig af. Namate hy ouer word, sal hy later self prentjies begin uitwys.
  • Lees die boek oor en oor (wissel dit af met ander stories) tot jou kind aandui dat hy dit vir eers nie meer wil hoor nie. Deur herhaling fokus hy elke keer op ’n ander aspek van die storie en raak bewus van detail. Herhaling help hom ook om taal en struktuur te internaliseer.
  • Laat jou baba die pas bepaal. Hy wil nie weet of jy elke woord lees nie. Laat hom dus toe om na die volgende bladsy te blaai as hy wil. Moet ook nie daarop aandring dat julle aanhou lees as hy eerder iets anders wil doen nie. Vir die eerste jaar sal jou baba waarskynlik die boek gryp, skud, kou en so gou moontlik omblaai. Onthou, dis deel van ’n ontwikkelingsproses en jy mors nie jou tyd nie.  Wanneer hy ouer is en self kan lees, sal hy boeke oppas en nie so hardhandig hanteer nie. Nou is dit nog ’n ontdekkings tog.
  • Hou leessessies kort anders word dit iets wat hy later nie meer wil doen nie.
  • Maak lees deel van die alledaagse roetine. Nes jy ’n spesifieke bad- en slaaptyd vir jou kind leer, kan jy ook storieleestyd inruim. Jou kind sal dit dan beskou as iets lekkers waarna hy uitsien.
  • Praat sommer ’n klomp nonsens as jy sien jou kind se aandag dwaal af van die storie wat jy voorlees. Hy sal dit gou agterkom, veral as dit ’n bekende storie is. Vra hom om die regte storie vir jou te vertel soos hy dit onthou of dink dit moet verloop.
  • Lees tot ’n seker punt en bêre die res vir die volgende dag. Dit sal jou kind geïnteresseerd hou en hy sal die volgende dag weer wil lees want hy kan nie wag nie – dit word iets om na uit te sien.
  • Wees geduldig en rustig as jy voorlees en jou kind vir jou kort stukkies begin lees. ’n Kwaai of ongeduldige mamma of pappa wakker negatiewe assosiasies aan.
  • Moenie jou kind dwing om te lees as hy nie lus het of aandag gee nie, los dit eers en probeer die volgende dag weer. Moet hom ook nie dwing om te lees waarvan jy hou of wat jy dink hy behoort te lees nie. Stel liewer vas waarvan hy hou en kry sulke stories. Sommige kinders hou glad nie van fantasie-stories nie en verkies ware verhale of feitlike leesstof. Onthou, lees moet pret wees en nie plig nie.
  • Laat jou kinders lees, al is dit volgens jou nie opvoedkundig nie en selfs oppervlakkige gemors. Vir hulle is dit in daardie fase van hulle lewe nie oppervlakkig nie en hulle sal leer onderskei soos hulle meer ervare raak.
  • Maak lees deel van jul alledaagse lewe. Lees self en sorg dat jou baba van kleins af gewoond raak aan leesstof. Nie net boeke nie – tydskrifte en koerante in die huis stimuleer ook. Lees die spyskaart in ’n restaurant hardop en laat jou graad 1’tjie dit vir julle lees. Doen dieselfde met die oop koerant op die kombuistafel terwyl julle kos maak of die naamborde wat julle langs die pad sien.
  • Skep ’n boekkultuur: Sluit aan by die biblioteek en laat hom self kies wat hy wil uitneem. Biblioteke het ook oulike programme waar stories aan kinders voor  - gelees word. Maak ’n besoek aan ’n  goeie boekwinkel met ’n lekker koffiewinkel ’n maandelikse uitstappie en laat hom toe om ’n boek te koop. ’n Goeie reëling is om die grootste deel te betaal, maar jou spruit kan leer wat die waarde van boeke is deur self iets uit sy sakgeld by te dra. Maak ’n geleentheid daarvan om op spesiale aande saam te eet, bad en in die bed te spring met ’n lekker boek.
  • Skep ’n literêre atmosfeer en omgewing: Koop koerante en tydskrifte en los dit binne sig. Laat boeke wat jy lees op die koffietafel en langs die bed lê. Boekrakke vol boeke wat gebruik word, is sigbare tekens dat dit ’n huis is waar gelees word. Dis ’n goeie plan om ’n klein boekrakkie in jou kind se kamer te sit waarin al sy eie boekies gebêre word.

Net so weet sy nie dat die verskillende fases van omrol, sit, kruip en loop die grondslag vorm van mense se vermoë om uiteindelik fisiek onafhanklik te funksioneer nie.

Mamma en Pappa wys by herhaling hoe dit gedoen moet word, moedig elke poging aan, motiveer, prys en raadpleeg spesialiste se hulp as mylpale nie bereik word nie, want hulle spruit moet so goed moontlik ontwikkel. Ander vaardighede word weer aangeleer deur die opdoen van kennis. En weer eens is dit veral ouers wat sorg dat hul kinders dié vaardighede leer.

Daarom koop hulle opvoedkundige speelgoed en moedig hulle kinders aan om te klim, klouter en blokkies en legkaarte te bou. Hulle laat hulle met klei speel, krale inryg, verf en teken – alles om hulle te stimuleer om die vaardighede so te bemeester dat hulle hul volle potensiaal in die lewe kan bereik.

’n Kind leer op dieselfde manier om van lees te hou – stapsgewys en deur blootstelling. Net soos belangrike voedingstowwe by ’n gesonde kind se eetplan ingesluit behoort te word, moet “voedingstowwe” soos leesstof ook deel van “breinkos” wees wat ’n mens van baie vroeg reeds by jou kind se “verstandsdieet” insluit. Kinders moet stapsgewys aan geskrewe taal blootgestel word.

Namate hulle stelselmatig bewus word dat kos nie net lekker kan wees nie, maar ’n mens fisiek ook laat groei en goed voel, ontdek kinders dat lees lekker kan wees, dat dit ’n mens se brein ontwikkel, jou wêreld verbreed en jou goed laat voel.

Uiteindelik oefen kinders dan as volwassenes sekere keuses en voorkeure uit wanneer hulle kos eet. Presies op dieselfde manier kan kinders wat in staat is om met insig te lees, sekere keuses en besluite in die lewe uitoefen met die kennis wat hulle in die proses opgedoen het.

Nes mamma of pappa 

Ouers se voorbeeld en betrokkenheid is die heel belangrikste faktore wat van kinders vaardige lesers maak. Dit is ouers se verantwoordelikheid om by hul kinders ’n liefde vir lees te kweek en nie onderwysers se taak later in die skool nie.

Kinders leer vaardighede deur voorbeelde na te boots. So leer ’n kind om te praat deur elke dag te hoor hoe mamma en pappa praat. Aanvanklik kan hulle net klanke naboots, maar die klanke word stapsgewys woorde, dan kort sinne en uiteindelik kan kinders vlot praat.

Net so moet kinders die noodsaaklike vaardigheid om te lees stelselmatig leer. En om dit te kan doen, het hulle ’n voorbeeld nodig. ’n Huis sonder boeke, tydskrifte en koerante stel nie ’n voorbeeld nie. Ouers wat nie lees nie, stel ook nie ’n voorbeeld nie.

Moet dus nie verwag jou kinders gaan van lees hou as jy nie self lees nie. Kinders stel gelukkig instinktief in boeke belang, maar dié nuuskierigheid gaan verlore as dit nie aangemoedig word nie.

Ten slotte 

Ouers het ’n wonderlike geleentheid om hul kinders te help ontwikkel om hul volle potensiaal te bereik. Wanneer jy as ouer al vergeet het van die een-woord-op-’n-bladsy-boekies wat jy lank gelede vir hulle gelees het, sal jy in verwondering na jou kind luister en dinge by haar leer wat sy deur boeke ontdek het.

Wakker hierdie instink by jou kinders aan en maak boekwurms met vlerke groot wat kan vlieg na plekke, gebeure, dinge, mense en idees buite die beperkte wêreld wat jy self vir hulle kan gee!