Jy trek al by kosblik nommer vyf, want jou japsnoet bly haar kosblik by die skool vergeet. Of jy moet al weer die juffrou bel om te hoor wat die tuiswerk is, want jou kind het haar boek in die klas laat lê.

Dit bekommer jou waarskynlik dat jou kind so vergeetagtig is, want in graad 1 word die vermoë om goed te onthou noodsaaklik vir haar sukses. Dis nie net haar besittings wat sy moet onthou nie; geheue is ook ’n belangrike bousteen van leer. Jou kind moet sekere dinge vir kort rukkies kan onthou en ander – soos spelwoorde of op watter dag haar swemles is – vir lang rukke.

Sy moet dus ál meer strategieë ontwikkel om haar te help om inligting te herroep en te onthou. Daar’s gelukkig heelwat wat jy kan doen om jou kind se geheue ’n hupstoot te gee, sê Elza Buys, ’n opvoedkundige sielkundige van Centurion. Sy deel ’n klompie pret-oefeninge wat julle saam kan beproef.

Geheuespeletjies

Speel kaartspeletjies wat gerig is op geheue-ontwikkeling, soos Memory Cards.

Speel die skinkbordspeletjie. Pak voorwerpe op ’n skinkbord uit. Laat jou kind daarna kyk en verwyder een ding. Sy moet probeer om die een wat weg is te identiseer. Die speletjie kan moeiliker gemaak word deur die posisie van of die hoeveelheid voorwerpe en die tyd wat jou kind mag kyk, te verander.

Speel motor-onthouspeletjies. Sê: “Ek gaan piekniek hou en ek neem saam ...” Dan kry elkeen ’n beurt om iets by te voeg, maar hy moet ook alles onthou wat die vorige mense gesê het.

Geheue-hulpmiddels

Gebruik visualisering. Voor ons woorde kan skryf, vorm ons begrippe met die hulp van prente. Wanneer die meeste mense die woord “pen” hoor, sien hulle die voorwerp eerder as die geskrewe woord. Vra jou kind dus om iets te visualiseer voor sy dit doen, dan sal sy dit makliker onthou.

Oefen jou kind se metageheue. Metageheue is die vermoë om te verwoord hoe iets onthou word. Wanneer julle krale inryg, kan jy vir jou kind vertel hoe jy dit doen: “Eers die blou, dan die rooi, dan die geel en dan weer blou. Daar is dus twee bloues en tussen hulle kruip die rooi en geel weg.” So leer sy dat daar maniere is om te onthou wat geleer kan word.

Oefen haar luistervaardighede. Kinders is gek oor klanke. Sê jou kind moet mooi luister en rits dan ’n lys woorde af, soos ’n klomp dierename. As jy klaar is, moet sy alles vir jou opnoem of prentjies daarvan teken.

Bepaal haar leerstyl. Leer jou kind die beste deur te luister (ouditief), te sien (visueel) of deur beweging? As sy leer deur te luister, kan dit help om die inligting hardop weer te gee, soos om woordjies hardop te spel. Vir ’n visuele kind kan prentjies help, terwyl ’n bewegingskind makliker sal onthou as sy rondbeweeg terwyl sy leer.

Vra haar uit. Hoe meer jou kind haar geheue oefen, hoe makliker onthou sy. Hoe meer sy inligting moet herroep, hoe meer oefening kry sy.

Praktiese wenke

  • Gee elke skoolding sy eie bêreplek in die huis. Doen dieselfde met die skooltas: die eerste vakkie vir die boeke, die tweede vir die kosblik ... So sal sy makliker agterkom as iets weg is.
  • Plak lysies op by die plek waar haar tas gebêre word waarop staan wat elke dag van die week gepak moet word. Gebruik prentjies en verskillende kleure om haar te help.
  • Leer jou kind om iets wat klaar gebruik is dadelik op die regte plek te bêre. Sy moet haar huiswerkgoed in die tas pak sodra sy klaar gewerk is sodat dit nie vergete bly nie.
  • Skep ’n vaste roetine soos dat sy dadelik haar tas moet uitpak en die tuiswerkboek vir jou moet bring nadat julle tuis gekom het.
  • Maak seker sy pak haar tas reeds die vorige aand sodat sy genoeg tyd het om iets te soek wat weg is. Dit moet haar verantwoordelikheid wees. Gaan dit wel na sodra sy slaap om seker te maak sy het niks vergeet nie.
  • Leer jou kind om deur assosiasie te onthou: As sy die pouseklok hoor lui, moet sy altyd seker maak dat sy haar kosblik en baadjie het sodat dit nie op die speelgrond agterbly nie. Gebruik “pouseklok” as sleutelwoord.
  • As sy geneig is om iets spesieks soos ’n huiswerkboek te vergeet, plak ’n prentjie in haar tas sodat sy dit onthou wanneer sy haar tas oopmaak.
  • Breek inligting in kleiner dele op as sy sukkel om dit te onthou.
  • Moenie namens jou graad-eentjie angstig word nie. Bly kalm. Jou kind gáán dinge vergeet en sy gaan daarvoor gestraf of dalk vergewe word. Mettertyd sal sy leer om te onthou!