Dis niks vreemds dat ’n kind sy gretigheid vir skool ná ’n paar maande van die harde werklikheid verloor nie. Ná die opgewondheid oor ’n nuwe skoolsak en uniform kan die opwinding stadig begin verdwyn en kan jou kind ontnugter voel by die besef dat skoolgaan eintlik inspanning en werk vereis – en nie net pret en speletjies is nie.

Hoekom hou sy nie van skool nie?

Graad O gaan meestal met baie aanpassings gepaard, soos ’n nuwe skool en ’n nuwe onderwyser – daarom is dit te verstane dat dit vir jou kind soos net te veel kan voel. Miskien is die struktuur en roetine van ’n nuwe graad ook strenger as die vorige jaar. As sy boonop tussen nuwe maatjies is, kan dit oorweldigend wees. Dis ook moontlik dat jou kind dalk nie vir graad O gereed was nie en dat sy weens ’n leerprobleem soos aandaggebrek of disleksie met van die werk sukkel. As ’n mens te veel sukkel, hou jy naderhand nie meer van die werk nie. ’n Ander rede vir die skielike skoolfobie kan skeidingsangs wees. Jou kind het nie iets teen die skool nie; sy wil net nie van jou geskei wees nie omdat sy bang is iets gebeur met jou of haar terwyl julle van mekaar af weg is. Dan is daar angstige of oorsensitiewe kinders, wat geneig is om te oorreageer wanneer die juffrou streng is of selfs met iemand anders in die klas raas. Dalk het jou kind die vorige jaar ’n baie sagte juffrou gehad, en die nuwe juffrou se manier van doen kan ’n groot aanpassing wees. Onsekerheid oor die reëls en die moeilikheid waarin sy kan beland, kan haar baie angstig laat voel. Perfeksionistiese kinders, of kinders met oorbeskermende ouers, kan sukkel om aan te pas en begin hulle onttrek van die leerproses in ’n poging om die risiko van mislukking mis te loop. Spanning by die huis soos huweliksprobleme, finansiële druk of selfs die koms van ’n nuwe baba kan ook meebring dat jou kind nie skool toe gaan nie. In sulke gevalle besef ouers dikwels nie dat die probleem glad nie by die skool lê nie, en hulle hou aan om die kind te ondervra oor wat by die skool verkeerd is, terwyl die probleem eintlik tuis is. Soms is daar sosiale probleme – ’n kind kan sukkel om by maatjies in te skakel of kan selfs geboelie word. As jou kind begin kla dat hy nie skool toe wil gaan nie omdat sy maag pyn of hy kopseer het, jok hy nie doelbewus nie. Hy kan werklik dié simptome hê. Soms kan kinders selfs naar word en koors kry.

Hanteer dit so

Bly neutraal

Dis ’n goeie idee om nie die simptome te versterk deur ’n groot bohaai daaroor te maak nie.

Moenie daaroor redeneer nie

Moenie met haar stry oor of sy werklik die simptome het nie – vir haar is dit werklik.

Wees empaties

Wys begrip deur te sê: “Ja, ek sien jy voel nie lekker nie” en probeer dan die fokus van die klagtes weglei.

Speel saam

Moet dit nie vir jou siek kind lekker by die huis maak nie. Psigosomatiese simptome verdwyn gewoonlik wonderbaarlik sodra die kind toestemming kry om nie skool toe te gaan nie en dan wil sy speel. ’n Kind wat te siek is om skool toe te gaan, behoort in haar kamer te bly of op die bank in die woonkamer te lê – sonder afleiding.
Sensitiewe kinders oorreageer as juffrou met hulle of selfs iemand anders raas.
Wenke om skoolsiekte te voorkom
  • Help jou kind verstaan dat ’n mens baie keuses in die lewe het, maar dat skoolgaan nie een daarvan is nie. Dis iets wat elke mens moet deurloop. Moet dit net nie soos ’n straf laat klink nie.
  • Gesels gereeld met die klasonderwyser sodat jy op hoogte is van haar vordering en van enige voorvalle by die skool. Jou kind sal dit dikwels moeilik vind om self te verduidelik waar haar weerstand teen skool vandaan kom.
  • Sorg dat daar gemaklike kommunikasie tussen jou en jou kind is sodat jy gou kan agterkom as iets haar begin pla.
  • Moenie jou kind se negatiewe gevoelens afmaak as nietig nie. Sê: “Ek kan sien dat dit nie vir jou lekker is nie, maar kom ons werk daaraan sodat dit vir jou beter kan word.”
  • Versterk jou kind se emosionele intelligensie deur haar te help om haar emosies te eien en te hanteer. Fokus eerder op “Hoe voel jy?” as op “Hoekom voel jy so?”
  • Handhaaf self ’n positiewe gesindheid teenoor die skool en onderwysers. Moenie vertel hoe jy skool gehaat het of plannetjies bedink het om skoolwerk te ontduik nie!
  • Vra die hulp van ’n opvoedkundige sielkundige as die probleem voortduur of jy agterkom jou kind het leerprobleme. As sy nie hulp kry nie, kan sy haar naderhand van die leerproses afsluit en haar energie in iets anders soos aggressie omskakel.