Hierdie artikel is gepubliseer in die Julie 2015 uitgawe van Baba & Kleuter. 

Wiskunde gaan nie net oor sommetjies maak nie – die vak het vele verskillende fasette. Dit sluit ’n begrip in van getalle en telvaardighede, maar ook konsepte soos hoeveelhede, gewig, inhoud, grootte, rangorde, patrone en verhoudings tussen dinge.

Daarby behels dit meting, breuke, skatting en selfs statistiek.

Onderliggend tot wiskunde is ook vaardighede soos probleemoplossing, goeie kommunikasie, redenasievaardighede en die vermoë om ’n verband tussen dinge raak te sien. Die wonderlike is dat dit alles begrippe is wat ons elke dag gebruik – dikwels sonder om twee keer te dink – en wat jy dus maklik vir jou kind kan help leer.

Die sleutel is om wiskunde vir jou kind toeganklik en lekker te maak en haar te wys hoe sy dit in die praktyk kan gebruik. Hoe lekkerder dit vir haar is en hoe meer ontspanne sy is as sy dit doen, hoe makliker sal dit vir haar wees.

Almal speel saam 

  • Speel domino en laat haar die aantal kolletjies hardop tel. Julle kan ook die verskillende stukkies sorteer sodat almal wat 2’s op het bymekaar is. Of dan weer almal met 3’s op.
  • Speel wegkruipertjie en laat jou kind tot 20 tel voor sy kan gaan soek. As sy nog nie kan nie, tel saam met haar terwyl die ander gaan wegkruip.
  • Speel “wolf, wolf hoe laat is dit?”
  • Speel “koning, koning.” Almal staan in ’n ry  10 meter van die koning af. Hulle vra: “Koning, koning, mag ek maar op reis gaan?” Die koning sê hoeveel treë, paddaspronge of balletspronge elkeen vorentoe kan gee. Die eerste een voor wen.
    Leer jou kleinding skaak speel – jy sal verbaas wees hoe jonk hulle al die regte skuiwe kan leer en stof in jou oë kan skop. As skaak jóú intimideer, beproef dambord.
  • Speel bordspeletjies soos Monopoly. Pas die reëls effens aan om dit makliker te maak.

Hoeveel is dit? 

  • Daar is min plekke waar jou kind so lekker meer oor hoeveelhede, meting en verhoudings leer as in die bad. Pak plastiekmaatbekertjies in die bad en laat haar water afmeet en bakkies vol maak. Wys die 500 ml­bakkie en vra haar hoeveel daarvan sy nodig het om die 1 liter­bak vol te maak. Watter bakkie is die grootste? Watter die kleinste? Watter hou die meeste water?
  • Wys een lang 250 ml­glas en een kort, dik  250 ml­glas en vra haar om te raai watter een die grootste is. Giet die inhoud van die een glas in die ander sodat sy kan sien dit hou ewe veel.
  • Bak saam soetkoekies. Laat jou kind die bestanddele met jou hulp afmeet. Tel hoeveel teelepels water en hoeveel koppies meel julle byvoeg. Gesels oor watter bestanddele die meeste is, watter die minste en hoe lank alles duur.
  • Speel raai­raai­speletjies. Raai­raai hoeveel treë is dit van die een kant van die grasperk tot by die ander kant? Of hoeveel handbreedtes is die kombuistafel? Hoeveel koppies water maak die beker vol? Elkeen gee sy skatting en dan meet julle dit.
  • Meet een keer per maand op ’n vaste plek teen haar kamermuur hoe lank jou kind geword het en skryf dit by die merkie neer. 

Nommer asseblief? 

  • Skryf die getalle van 1 tot 100 in blokkies op ’n bladsy en neem dit oral saam waar julle ry. Vra jou kind om enige nommers wat sy in haar omgewing sien op die bladsy te vind. Sê die nommer saam hard op. Soek na huisnommers, straatnommers, nommerplate en so meer.
  • Speel verbind-die-kolle met prentjies wat nommers by het sodat sy die nommers in volgorde moet natrek. As sy sukkel, kan jy haar help, want sy sal nie dadelik al die nommers herken nie.
  • Pak ’n nommerjag aan. Gaan stap in die buurt en kyk waar julle oral nommers kan sien. As julle ’n nommer kry, lees dit hardop of skryf dit neer.

Mooi patroontjies 

  • Lees en leer vir jou kind rympies.
  • Pak jou knoopkissie uit en laat jou kind die knope van groot na klein rangskik. Sy kan hulle ook sorteer volgens grootte, vorm of kleur.
  • Krap ’n klomp knope deurmekaar en kyk wie kan dit die vinnigste sorteer, soort volgens soort.
  • Begin kraletjies ryg in ’n vaste patroon: twee bloues, een groene, een swarte. Vra jou kind om aan te gaan waar jy opgehou het.
  • Speel winkel-winkel. Merk goedere in die winkel met duidelik leesbare pryskaarte soos R2 of R5. Gee vir jou kind geld en help haar om die waarde daarvan te lees. Maak beurte om winkelier en klant te speel. Hoe ouer jou kind word, hoe meer ingewikkeld kan jy die sommetjies in die speletjie maak.
  • Speel met kos: Ek het twee koekies,  maar ek eet een. Hoeveel het ek oor?  Ek het twee Smarties in hierdie hand en vyf in hierdie hand. Watter een is die meeste?

Handwerkplesier 

  • Skryf die getalle van een tot 12 op ’n papierbord soos op ’n horlosie. Laat jou kind dit natrek en versier. Maak dan ’n kort en lang horlosiewyser van karton en sit dit vas met ’n drukspyker waarvan jy die skerp punt platkap, sodat die wysers kan draai net soos ’n horlosie s’n. Help jou kind om dit in die loop van die dag volgens die regte tyd te stel.
  • Knip gekleurde stukke papiere in verskillende vorms en plak patroontjies in ’n ry: twee blou sirkels, een groen vierkant, drie geel driehoeke.
  • Skryf elke nommer tot 10 op ’n A4-karton en vra jou kind om dit te versier. Plak dit teen haar kamermuur. Blinddoek haar en laat haar dan voel-voel ’n nommer soek. As sy een raakvat, kan sy die blinddoek afhaal en daardie aantal lekkertjies eet.
  • Maak yskasmagneetjies deur nommers op karton te teken en ’n magneetjie agterop te plak. Sy kan dit versier. Maak ook ’n +, – en =. As julle klaar is, kan julle yskassomme doen: 5 – 2 + 3 = ? 

1, 2, 3, 4 ...

  • Tel alles wat voorkom, van die borde as julle tafel dek tot die lamppale in jul straat.
  • Kyk wie die vinnigste die meeste wasgoedpennetjies aan ’n lyn kan vassit en tel terwyl julle dit doen.
  • Sing die liedjie “Tien klein paddatjies” om haar te help om vorentoe en agteruit te tel. Julle kan ook “een klein, twee klein, drie klein perdjies” sing op die wysie van die Engelse telliedjies “10 Little Indians”.
  • Dink aan ’n getal tussen 1 en 10 en laat jou kind raai wat dit is. Jy kan leidrade gee soos “meer” of “minder” om haar te help om by die regte getal uit te kom. Maak beurte.
  • Skryf die getalle 1 tot 10 elk op ’n groot vel papier en plaas dit met jou kind se hulp in volgorde op die vloer. Laat haar die getalle aftel terwyl sy van die een na die volgende spring. Sy kan ook so agteruit begin tel. Sê dan enige getal van 1 tot 10 en kyk of sy dit kan kry – sy moet so gou moontlik daarop gaan staan.

Dobbelsteen-pret 

  • Sê sy moet ’n getal tussen 1 en 6 gee en dan het jy drie probeerslae om daardie getal te gooi. Dan gee jy weer ’n getal en sy moet dit probeer gooi.
  • Merk ’n dobbelsteentjie met ’n S vir snaaks, K vir kleur, E vir eet, T vir tel, D vir dans, en so meer. Gooi dit saam met ’n gewone dobbelsteentjie. Jy moet dan soveel keer as die getal op die een dobbelsteentjie doen wat die ander dobbelsteentjie aandui, byvoorbeeld drie snaakse gesigte trek, vyf kleure in die vertrek uitwys, twee Smarties eet, ses goed tel en drie sekondes lank dans. Tel saam namate die take afgehandel word. Maak beurte.
  • Elkeen kry twee dobbelsteentjies. Kyk wie die hoogste kan gooi. Tel die totaal hardop bymekaar.