(Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba en Kleuter, Mei 2016, Bladsy 98) 

Wiskunde kan net so prettig soos lees wees – jy moet net weet hoe! Kinders se omgewing is met wiskunde gelaai en daar is allerlei opwindende maniere waarop jy jou kind die kans kan gun om haar natuurlike syfervaardigheid te ontwikkel. Met die regte houding en leiding kan jy selfs die kleinste kleuter syferslim help maak.

BY DIE HUIS

Wanneer jou kind in die huis begin rondbeweeg, kan sy oral oor getalle begin leer. Sy los daagliks probleme op terwyl sy speel en sien hoe syfers en vorms gebruik word wanneer ons bestanddele vir beskuit afmeet, in die tuin werk, praat oor tyd en hoe dit verbygaan, en hoe ons die taal van syfers en getalle gebruik.

Die idee van patrone is ook baie belangrik in wiskunde. Ons syferstelsel is gegrond op patrone: 2 + 2 = 4, 12 + 12 = 24. Jy kan jou kind vroeg reeds met patrone vertroud maak met die hulp van alledaagse dinge soos krale, papierborde, pasta of toiletpapier.

LEER WISKUNDE-WOORDE

Herhaling is een van die beste maniere waarop kinders leer. Hulle leer tel as ons blikkies tel wanneer ons dit uit die inkopiesak haal, of trappe tel wanneer ons dit klim. Hulle leer hoe oud hulle is en hoe daardie syfer lyk, en ken later hul straatnommer en die huis se telefoonnommer.

Taal en wiskunde-ontwikkeling gaan hand aan hand, veral wanneer julle oor patrone gesels. Deur eenvoudige patrone aan kleuters te verduidelik (“Hier is ’n korte en ’n lange en ’n korte”), lê jy die boustene vir taalontwikkeling sodat jou kind later die taalvaardighede het om meer ingewikkelde patrone te verduidelik.

Sy sal dan kan verduidelik hoe sy voorwerpe sorteer, watter voorwerpe dieselfde vorm, grootte of kleur het, en jou ook vertel waarom sy dit saam gegroepeer het.

Later, wanneer sy baie ouer is, span sy dié woorde en patroonbegrippe in om algebra en meetkunde op hoërskool te doen.

PROBLEEMOPLOSSING

As jou kind van jongs af leer om probleme op te los, is die wiskundestryd halfpad gewen. Probleemoplossing leer haar logika en die vermoë om ’n argument deur te voer.

Kinders is van nature nuuskierig en sal gou uitvind dat daar dikwels meer as een oplossing vir ’n probleem is. Probleme soos “Hoe gaan al die speelgoed weer in die boks pas?” of “Wat gebeur as ek die groot poppe voor op die rak pak en die klein poppe agter?” is alles lekker uitdagings wat haar lank kan besig hou.

As jy jou kind aanmoedig om vrae te vra en oplossings voor te stel – en as jy jou eie denkprosesse met haar deel – help jy haar om ’n goeie probleemoplosser te word.

VERVANG ’NIKS’ MET ’NUL’

Ja, jou kleuter kan reeds leer dat daar ’n begrip is soos nul en dat nul ’n getal is. Sê liewer: “Daar is nul waslappe in die bad” as “niks waslappe”. Die verskil lyk miskien nie so belangrik wanneer julle waslappe tel nie, maar dit is noodsaaklik wanneer  jou kind begin leer om syfers te skryf, want

by 40 beteken die nul nie “niks” nie, maar “nul”. Dié begrip is selfs belangriker by groter getalle.

Wanneer jou kind van 0 tot 9 kan tel, leer haar hoe hierdie syfers lyk. Die meeste kleuters leer vinniger wanneer meer as een sintuig gebruik word, soos wanneer jy die syfers uit skuurpapier sny. Wanneer jou kind eers syfers onder die knie het, is dit glad nie moeilik om haar te leer hoe om die tyd te lees nie.

Lees: Laat elke kind tel

GEBRUIK JOU OMGEWING

Een van die belangrikste maniere waarop jy jou kind se syfervaardighede kan ontwikkel, is deur self meer bewus te word van die wiskunde wat jou omring. Verduidelik dit dan in eenvoudige taal aan jou kind, en wie weet, dalk kan die volgende geslag met minder vrees vir wiskunde deur die lewe gaan!

JOU KLEUTER LEER VAN SYFERS

WANNEER JY ...

  • Dinge tel.
  • Vorms soek.
  • Woorde gebruik oor gewig en mates (lig, swaar, kort, lank).
  • Praat oor hoeveel suiker in die houer is (volume) en of die broodpan groot genoeg is vir die deeg (kapasiteit).
  • Tyd bespreek (hoe lank, totdat of sedert).
  • Die dag opdeel in tydgrepe (“Eers ontbyt, dan gaan ons speelgroep toe”).
  • Dinge skat en woorde gebruik soos naby en ver, ongeveer en meer, nie soveel nie, soos.
  • Kos verdeel en praat van “gelyke stukke”.

SKEP ELKE DAG GELEENTHEDE

As jy elke dag met gemak oor syfers praat, sal jou kind dit ook doen. Julle hoef julle nie nou al oor algebra en meetkunde te bekommer nie – al wat jou kind moet weet, is dat wiskunde ’n belangrike, alledaagse stukkie gereedskap is.

JY KAN GELEENTHEDE SKEP VIR JOU KLEUTER OM SYFERVAARDIG TE WORD DEUR ...

  • Haar te vra om die tafel te dek (“Bring vier borde. Ons dek een vir mamma en een vir pappa en een vir boetie en een vir jou.”).
  • Eenvoudige bokse of houers te gee om mee te speel en bo-op mekaar te pak of waarin hulle kan wegkruip.
  • n Swembadjie met water of sand te vul en eenvoudige kombuishouers daarin vol of leeg te maak.
  • Nuttige vrae te vra, soos: “Is daardie een vol? Watter beker is groter? Kan daar meer inpas as in die klein beker?”
  • Haar te help legkaart bou en te verduidelik waarom sekere stukke op sekere plekke hoort (“Dis groen soos die gras, dit het ’n reguit kant”).
  • Buite te gaan stap op ’n “hindernisbaan”: om die boom, onder die tuinstoel, oor die klippe, af met die glyplank.
  • Posisionele taalgebruik tuis aan te moedig deur haar te vra om iets onder die bed, langs die deur of agter die stoel te plaas.
  • Alledaagse syfergebruik uit te wys, soos dat huise nommers het sodat die posman weet waar die briewe hoort, motors nommerplate het sodat ons weet aan wie dit behoort, produkte in winkels pryse op het, want ons betaal met geld wanneer ons uitloop.
  • Vrae te vra soos “Hoeveel? In watter rigting moet ons gaan? Sal daar genoeg wees? Hoe lank voor ons daar kom?”
  • Aanmerkings te maak soos: “Dis ’n hoë gebou. Jou voete raak ál groter – ons sal vir jou ’n nuwe paar skoene moet koop.”
  • Tydgrepe te verduidelik, ook terugwerkend (“Jy het klaar gebad, nou kan jy eet.” “Nog net twee slapies voor ouma kom kuier.”).