“Hoekom bly die sterre in die lug, mamma?” “Maar pappa, as die son vir ons lig gee, waar kom die donker dan vandaan? En as ons in die rondte draai, hoe bly ons voete op die aarde en hoekom hang ons nie in die lug nie?” “Mamma, hoekom traan jou ogies as jy uie opkap?”

Kinders vra hierdie merkwaardige vrae, en alles het wetenskaplike verklarings. Dit gee volgens kenners vir ons ’n gulde geleentheid om hulle op ’n lewenslange pad van leer te begelei en om by hulle ’n wetenskaplike nuuskierigheid te kweek.

Wiskunde en wetenskap is twee vakke wat vrees by kinders (en hul ouers) kan inboesem, maar baie van die “vrees” kan voor ons as ouers se deur gelê word.

Maak eerder jou kleinding van kleins af opgewonde oor die vak, en gesels oor die helde van wetenskap en wiskunde.

Vir lank is vroue se rol in hierdie velde misken, maar vandag het ons kinders gelyke geleenthede en is dit veral belangrik om jou meisiekind aan te moedig om dié rigtings te oorweeg. Namate hulle ouer word, kan jy op die internet na bekende Suid-Afrikaanse wetenskaplikes soek en saamlees oor watter ontdekkings vandag gemaak word en hoe ons eie mense ook baanbrekerswerk verrig.

Soek na plekke in jou omgewing waar jou kind wetenskap in aksie kan sien, soos die Sci Bono-ontdekkingsentrum in Johannesburg of die Kaapstadse Wetenskapsentrum.

Die navorsingswebtuiste theconversation.com benadruk dat kinders van kleins af aan STEM-vaardighede (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde) blootgestel moet word. Kleintyd is perfek daarvoor, want kinders is dan baie nuuskierig en wil hul omgewing verken en ontdek.

Waarneming is ’n grondslag van wetenskap. Laat jou kind verskynsels teken of afneem.

LAAT JOU S.T.E.M. GELD

Prof. Kym Simoncini is aan die departement van primêre onderrig van die Universiteit van Canberra in Australië verbonde. Sy deel die volgende wenke.

  • Moedig jou kind aan om veranderinge in die omgewing dop te hou Sien julle ’n verskil aan die omgewing? Bome wat kaler in die winter word en nuwe botsels in die lente? Of hoe waai die wind? Deel wat jy sien met jou kind en onthou dat waarneming ’n fundamentele wetenskaplike proses is.
  • Moedig jou kinders aan om dinge te beskryf wat hulle sien en doen Vra jou kind om die kenmerke van dinge te beskryf. Hoe lyk ’n gogga – watter kleur, vorm en grootte het dit? As jou kind met blokkies bou, vra: “Wat doen jy? Hoe doen jy dit? Hoe hoog is die gebou of toring?” Herhaal wat jou kind sê, maar brei die woorde (en hul woordeskat) uit. Gebruik ook woorde soos “voorspel”, “eksperimenteer” en “meet”.
  • Vra “wat?” eerder as “hoekom?” Vra vrae wat fokus op wat jou kind kan sien en doen; dan kan sy met selfvertroue antwoord. Vra liewer: “Wat dink jy gebeur met die borrels?” as “Hoekom kleef borrels aan mekaar?” Dit sal verdere bespreking aanmoedig. Vra jou kind nou verdere vrae wat sy kan beantwoord.
  • Laat jou kind op ’n sekere manier tel Kinders moenie soos ’n papegaai kan tel nie, maar eerder weet dat een gelyk is aan een ding, twee aan twee items en so aan. Moet jou kind dus nie leer om “een, twee, drie, vier, vyf” te sê nie, maar liewer daar is een bal, twee balle, drie balle, ensovoorts. Vra jou kind om twee eiers aan te gee, of vra hoeveel sakke julle by die winkel gekry het.
  • Laat jou kind oor ruimte dink Moedig jou kind aan om te sê waar sy in verhouding tot ander dinge is. Julle hou byvoorbeeld by die kleuterskool stil. Aan watter kant is Juffrou se klas? Waar is die speelgrond? As julle huis toe ry, vra jou kind om te beduie hoe julle by die huis moet kom. Waar is jou kind se kamer in verhouding tot die kombuis? Daar is ’n duidelike verband tussen ruimtelike en STEM-vaardighede.

Sien die wonder raak

  • Soek geleenthede om oor wetenskap te praat ’n Swaai stel jou kind bekend aan fisikabegrippe soos swaartekrag, snelheid en potensiële energie. As sy van die swaai afspring, moet sy hoogte en windweerstand skat en die afstand meet. Vind die regte, ouderdomstoepaslike woorde daarvoor en verduidelik in haar taal wat gebeur.
  • Mamma, hoekom volg die maan ons? As ouers het ons nie altyd die antwoorde op ons kinders se vrae nie, maar dit stel julle in staat om albei iets te leer. As jy nie iets weet nie, sê “kom ons gaan soek en kry die antwoord” of “kom ons gaan kyk in jou ruimteboekie”.
  • Laat jou kind vuil word Ontdekking is nie altyd netjies en skoon nie. Kinders kan maar vuil word, en daar is heerlike ontdekkings om in die tuin te maak.
  • Wetenskap begin met nuuskierigheid Hoe werk dinge? Gesels daaroor. As julle in die bad sit en kyk hoe die rubbereendjie dryf, vra: “Ek wonder of die seep ook so gaan dryf ...” Dan toets julle ’n hipotese!
  • Prikkel jou kind se nuuskierigheid As julle in die veld stap en jy ’n mooi rots met strepe sien, wonder hardop hoe die strepe gevorm het.
  • Een van die grondslae van wetenskap is waarneming Moedig jou kind aan om dit wat sy hoor en sien, te teken of foto’s daarvan te neem: “Het jy gesien hoe die blare in ons tuin verander? Kom ons neem ’n foto daarvan en stuur dit vir oupa en ouma.”
  • Gebruik tegnologie Soek na verskillende toeps wat jou kind se nuuskierigheid oor ons wêreld kan prikkel. Wys byvoorbeeld hoe die planete lyk.

DOEN DIT SO

Kinders kan van twee af al “hoekom”-vrae begin vra, sê die Pretoriase spelterapeut Wietske Boon.

“Dit beteken dat hulle ’n belangstelling ontwikkel in hoe die wêreld werk. Dis ’n wonderlike geleentheid om die werking van hul lyfie en die wêreld om hulle deur praktiese aktiwiteite te verduidelik; dit help hulle om sin van hul leefwêreld te maak.”

Wietske sê daar is verskeie eksperimente of aktiwiteite wat ouers kan oorweeg, maar dit moet ouderdomsgepas wees en moet in hul kind se belangstellingsveld val.

“As jy ’n aktiwiteit aanbied waarin jou kind nie belangstel of wat sy nie verstaan nie, gaan sy verveeld word en nie wil deelneem nie.

“As sy nie aan die aktiwiteit kan deelneem nie, gaan sy moontlik voel dat sy nie goed genoeg is of nie die vaardighede het om te help nie.

“Wanneer jy ’n aktiwiteit voorstel, moet jy daarop voorbereid wees dat dit kan skeefloop, morsig kan wees of dat jou kind moontlik nie gaan reageer soos jy verwag nie.”

Wietske weet waarvan sy praat, want sy is self die ma van ’n bedrywige seunskind saam met wie sy graag allerlei eksperimente uitvoer. “Eksperimente gebeur soms onverwags – dis die wonder daarvan!”

Sy stel die volgende eksperimente voor wat sy op die internet gevind het:

  • Sit ’n rou eier in ’n glas asyn. Kyk hoe die asyn die dop weg vreet – dit duur sowat 24 uur.
  • Maak ’n gaatjie bo en onder in die dop van ’n rou eier en blaas die eier uit. Plaas die dop in asyn. Die sakkie waarin die eier is, sal oorbly. Dit duur ook sowat 24 uur.
  • Blaas ballonne met strooitjies op, laat dit afblaas en blaas dit weer op – dit verduidelik hoe die longe werk.
  • Verken die wêreld met ’n vergrootglas.
  • Sny die onderkant van ’n koeldrankbottel af. Doop ’n ou sokkie in skottelgoedseep en water en trek dit oor die oop kant van die bottel. Blaas deur die boonste opening van die bottel. Daar vorm skuim aan die buitekant van die sokkie – dis sommer ’n goeie asemhalingsoefening ook.
Getty Images

JOU HUIS IS JUL LABORATORIUM 

1. Hoe beweeg water by ’n plant se stammetjie op? 

Jy het nodig ’n Selderystingel, water en voedselkleursel

Maak so Plaas die seldery in die water. Drup ’n paar druppels voedselkleursel in die water. Kinders sien hoe die gekleurde water met die stingel op beweeg en hoe ’n spesifieke deel van die stingel die water nes deur ’n strooitjie van die wortels af optrek.

2. Hoe verander iets die impak van ’n bal se spoed?

Jy het nodig ’n Rubberbal, klein karretjies en ’n lang blok of plank

Maak so Eksperimenteer met hoe vinnig of stadig die bal of ’n karretjie van die plank af beweeg namate jy die hoek daarvan skuif. Verander die hoogte van die plank en toets die spoed van die bal. Kinders kan sien dat items teen ’n verskillende spoed beweeg. Toets verskillende soorte artikels uit.

3. Kan alles meng?

Jy get nodig ’n Deurskynende plastiekbotteltjie, baba- of groente-olie en verf of voedselkleursel

Maak so Maak die botteltjie halfvol water. Giet die olie by en wys jou kind dat dit nie meng nie. Maak dit mooi deur verf of voedselkleursel te voeg. Dit word sommer ’n mooi “lawabotteltjie”.

4. Wat laat iets vlieg?

Jy het nodig Papier en ’n skêr

Maak so Knip en vou saam ’n papiervliegtuigie en eksperimenteer met die vlerke en neus van die vliegtuig om te kyk watter vorm dit beter laat vlieg.

5. Wat is statiese elektrisiteit?

Jy het nodig Opgeblaasde ballonne

Maak so Vryf die ballonne teen klere om die uitwerking te sien.

6. Wat sink en wat dryf?

Jy het nodig ’n Verskeidenheid artikels waarvan die gewig verskil

Maak so Pak die artikels in die bad of ’n emmer water en gesels oor wat dryf en wat sink. Kinders kan ontdek watter grootte, gewig en ander eienskappe dit laat sink of dryf.

7. Hoe groei iets?

Jy het nodig ’n Boontjie, ’n bol watte en ’n piering

Maak so Plaas die boontjie in die watte en plaas dit op die piering. Laat jou kleinding dit gereeld natmaak en onthou dat dit sonlig nodig het om te groei. Verduidelik wat die boontjie laat groei en hou dit dop namate die wortels verskyn.

8. Hoe lyk ’n tornado?

Jy het nodig Twee leë 2 liter-koeldrankbottels

Maak so Vul die een bottel met water en bind die twee bottels nek aan nek aan mekaar vas. Draai die bottelpaar nou vinnig om en om om die beweging van ’n tornado te skep.

9. Hoe lyk ’n vulkaan?

Jy het nodig Koeksoda, ’n bakkie en asyn

Maak so Plaas die koeksoda onderin die bakkie. Giet die asyn stadig by en kyk hoe dit borrel en bruis.

Google “easy science experiments for kids” om bogenoemde eksperimente in aksie te sien en nog idees te vind.