Jou kleinding leer die heel beste deur te voel en te vat, te hoor en te sien, en selfs te proe – en dit geld ook wanneer dit by die alfabet kom. “Leer op hierdie ouderdom behoort altyd pret te wees,” sê Mariska Grebe, ’n remediërende onderwyseres van Jeffreysbaai in die Oos-Kaap. “As kinders leer sonder dat hulle dit weet, onthou hulle die beste.”
Prentjies, rympies, liedjies en prettige handwerk is alles slim maniere om jou kleinding aan letters bloot te stel, sê sy. “As jy byvoorbeeld ‘b vir beer’ doen, gee hom ’n beertjie om vas te hou. Dink oor watter geleenthede vir toevallige leer jy kan skep, soos om ‘p vir peer’ te behandel as jou kleinding ’n peer eet. Pak groot letters met klei of sand, rys of skuurpapier of skeur papiertjies en plak dit op die letters. Dit gee nie net fyn motoriese vaardighede oefening nie, maar die verskillende teksture help kinders ook leer. Die geheim is om elke geleentheid vir leer aan te gryp,” sê Mariska.