“My vyfjarige is vanjaar in graad O. Hy wil nie leer nie en alles is ’n grap. Hy kan nie 10 minute lank stilsit nie en stel nie belang in enigiets wat naastenby soos werk lyk nie. Hoe kry ek hom deur hierdie jaar en gereed vir graad 1?” Susanne Marais (38, skuilnaam) van Durbanville in Kaapstad het met dié versugting na Baba & Kleuter gekom, en ons het by kundiges gaan aanklop om vir haar hulp en raad te kry. Vra enige graad O-mamma en sy sal vir jou vertel dat dit nie te maklik is om haar kind te laat sit en werk nie, sê die kundiges. Die goeie nuus is dat die kleingoed in die loop van die jaar ál meer volwasse raak en geleidelik die vermoë ontwikkel om beter te fokus. Die ander goeie nuus is dat hulle ook baie leer juis deur te speel. Die meeste kinders is veral aan die begin van hul graad O-jaar nog in die ontwikkelingsfase is waar hulle wil speel eerder as leer, sê dr. Arina Lanser, ’n opvoedkundige sielkundige van Little Falls in Gauteng. “Hoe verder die jaar vorder, hoe meer begin jou kind onderskei tussen wanneer daar geleer moet word en wanneer hy maar kan speel.” Aan die ander kant is speel ook ’n leerervaring, en is daar baie speletjies wat kinders se ontwikkeling aanhelp, sê Helena Koekemoer, hoof van Proties, die kleuterskool van die Laerskool Protearif in Krugersdorp, Gauteng. “Lego help die fyn spiere ontwikkel, ons leer in die sandput van wiskundige volume-afmeting en houtblokke gee kinders die kans om te skat. Met spel ontwikkel hulle ook probleemoplossingsvaardighede.” Die geheim is om wanneer die kleingoed eers konsentreer, hul konsentrasie te behou. Werk moet ook afgewissel word omdat hulle nie vir te lank aaneen kan konsentreer nie, maan Helena. (Lees meer in die kassie onder daaroor.) “Vyfjariges gee net vyf minute lank regtig aandag, daarom moet jy elke minuut benut.”

Wat jou kind in graad O moet leer

Graad O is die jaar waarin jou kind gereed gemaak word om graad 1 toe te gaan en daar te floreer. Daarvoor moet hy liggaamlik gesond wees en sy balans, postuur, fyn en groot motoriese ontwikkeling moet op peil kom. Sekere toestande kan keer dat hy heeltemal gereed is, sê Arina. Dit sluit in sinusontsteking, allergieë, tassensitiwiteit, rustelose bene, hiperaktiwiteit en onderliggende neurologiese probleme. “ ’n Kind wat skoolgereed is, moet oor ’n woordeskat beskik wat groot genoeg is dat hy sy gevoelens kan uitdruk. Hy moet kan antisipeer, redeneer en verbande kan insien. Getalbegrip moet gevestig wees en sy geheue moet goed wees,” sê Arina. Op sosiale vlak moet ’n graadeentjie sy posisie in die klas kan vestig, maats kan maak, kan deel en boelies kan hanteer. Hy moet weet hoe om probleme aan te meld, kritiek te hanteer en bereid wees om sy juffrou met ander te deel. Kinders wat emosioneel gereed vir graad 1 is sal gemaklik van hul ouers skei en trots op hul werk en skoolklere wees. “Hulle sal vra as hulle nie weet of verstaan nie en probleme op gepaste maniere aanmeld sonder om ’n klikbekkie te wees. “Hulle sal opgewonde daaroor wees om skool toe te gaan en graag maatjies huis toe wil bring. Kinders wat goed beplan, word nie maklik deur moeilike take geïntimideer nie en sal dit steeds aanpak, al sukkel hulle daarmee,” sê Arina.

Wanneer moet jy hulp soek?

Soek hulp as jou graad O’tjie ...

  • take vermy en die werk nie reg kan doen nie,
  • nie skool toe wil gaan nie,
  • sukkel om sy naam te skryf en nie sy adres, verjaardag of ander basiese inligting kan onthou nie,
  • baie eenvoudige opdragte nie kan uitvoer nie,
  • met albei hande skryf,
  • met balspeletjies sukkel,
  • sukkel om aandag te gee,
  • probleme met herkenning van kleure en ander besonderhede het,
  • sukkel om gebeure te herroep en in woorde uit te druk,
  • in skooltyd nog wil slaap,
  • stories opmaak en fantasie en die werklikheid verwar, of
  • mylpale “verloor” wat hy al behaal het.

Hoe kan jy help?

Anina deel die volgende raad:

  • Skerp basiese maniere by jou kind in soos om te groet en dankie en asseblief te sê.
  • Vra uit oor die skool se sillabus en metode van assessering (ook in graad 1).
  • Moenie jou kind se huiswerk vir hom doen nie.
  • Onthou, daar is vir elke kind ’n skool. As ’n skool nie vir jou kind werk nie, ondersoek ’n ander een – al verg dit moeite.
  • Waak daarteen om jou kind met sport- of ander buitemuurse bedrywighede te oorlaai.
  • Wees bewus van die skool se dissiplinebeleid, etiese kodes en boeliebeleid.
  • Weet waaraan jy jou kind kan blootstel en waaraan nie. Leer jou kind wat aanvaarbare gedrag is en wat aangemeld moet word, veral op seksuele gebied.
  • Dis baie belangrik dat jou kind moet kan luister en feite moet kan weergee. Sy vermoë om dit te doen, hang in ’n mate van jul dissipline- en ouerskapstyl tuis af. ’n Kind wat tuis aan inkonsekwente dissipline gewoond is en nie opdragte uitvoer voor hy ’n paar keer gevra word nie, gaan dieselfde van sy onderwyser verwag.
  • Begin so vroeg moontlik om ’n huiswerkroetine te vestig en ’n hoekie spesiaal daarvoor in te rig
  • Luister na jou kind. As ouers half luister, gaan hul kind dieselfde doen.
  • Is jou kind ongelukkig of word hy geboelie? Let op na tekens van depressie en angstigheid.
  • Stel vas wat jy kan doen as jou kind nie aanpas nie. Miskien is arbeids- of ander terapie nodig.
  • Gesels met jou kind se onderwyser oor klasreëls en kommunikeer probleme vroegtydig.
  • Wees versigtig vir onrealistiese verwagtinge wat jou kind gespanne en angstig kan maak. Moenie meer van hom verwag as wat hy kan lewer nie.

Konsentrasie ... watter konsentrasie?

As jou kind net wil speel en nie kan konsentreer nie, kan daar verskeie oorsake wees, sê die opvoedkundige sielkundige dr. Arina Lanser. Seuntjies is gewoonlik meer geneig om te wil speel as leer, maar daar kan ook ernstiger oorsake soos ’n ontwikkelingsagterstand wees. Jou kind kan dalk ook nie die basiese perseptuele vaardighede hê wat nodig is om formeel te leer nie, en kan daarom nie by die res van die klas hou nie. (Perseptuele vaardighede sluit in dat hy ’n voorwerp teen ’n besige agtergrond kan uitken, voorwerpe van mekaar volgens hul vorm kan onderskei, en so aan.) Ander moontlike oorsake van konsentrasiegebrek sluit in ’n gebrek aan dissipline en roetine tuis, swak luistervaardighede en toestande soos aandaggebreksteurnis en aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteurnis.

Kontak dr. Arina Lanser: 083 266 9575, alanser@mweb.co.za of gaan na drarinalanser.co.za, en vir Helena Koekemoer: protearif.co.za, 011 956 6358.

Raakgekoop

Gee jou kleuter se telvaardighede, kleur- en patroonherkenning ’n hupstoot met die Rakkertjie-reeks se speelsakke (R250). Bestel een daarvan by info@rakkertjiereeks.co.za, of gaan na rakkertjiereeks.co.za.