10 algemene kraamvrese en teenvoeters

akkreditasie
Vir 'n eerstekeer ma is 'n naderende geboorte 'n mylpaal van angstighede. 'n Kenner vertel hoekom jy maar daaroor kan ontspan

Gesels altyd met jou sorggewer oor al die vrese wat jy rondom jou baba se naderende geboorte het, is die raad van Annelene Schoeman, gewese senior dosent aan die Universiteit van die Vrystaat se skool vir verpleging.

“Woon voorgeboorteklasse saam met jou maat by. ’n Ervare vroedvrou se kennis en raad is van onskatbare waarde, selfs al moet jy ’n keisersnee kry. Baie vrese is maar net in onkunde gewortel,” sê
Annelene.

Ons het haar uitgevra oor die algemeenste geboortevrese wat baie vroue het:

1. Ek is doodbang vir ’n episiotomie

’n Episiotomie (die snit wat in die weefsel om jou vagina gemaak word sodat jou baba makliker kan uitkom) is beslis nie die norm nie en alle vroue wat normaal kraam, hoef nie dié prosedure te ondergaan nie. Inteendeel: Roetine-episiotomieë is vandag glad nie meer aanvaarbaar nie.

Jy kan jou kans op ’n episiotomie verminder deur die perineum (spier tussen jou vagina en anus) van 35 weke swangerskap af elke dag deeglik met ’n natuurlike olie te masseer. Hou ook jou bekkenvloer soepel deur gereeld kegeloefeninge (knypoefeninge) te doen. Onthou ook die perineum skeur makliker as jy op jou rug lê en kraam as wanneer jy regop sit of ’n watergeboorte het.

Pyn en ongerief ná ’n episiotomie kan verminder word deur minstens die eerste drie dae ná die geboorte elke vier uur in ’n bad met lou water te sit waarin ’n hand vol growwe sout opgelos is. Dit laat die wond vinniger genees en maak die steke sag. Oor die algemeen “knip” geneeshere makliker en meer dikwels as vroedvroue!

2. Sal seks ooit weer dieselfde wees?

Klagtes van pyn en ongemak ná ’n normale geboorte is ongewoon en kom selde voor. Omdat jou weefsel ná die geboorte vinnig na normaal terugkeer, is jou vagina nie groter of gerek ná ’n normale
geboorte nie.

3. Kan my blaas later uitsak?

’n Blaas wat uitsak en inkontinensie kom voor by sowel vroue wat al gekraam het as by vroue wat nog
nooit gekraam het nie. Gereelde kegeloefeninge van die perineum ná die geboorte kan dié probleem
later voorkom.

4. Ek wil altyd in beheer wees van ’n situasie; hoe nou gemaak?

Onthou, met ’n keisersnee het jy wel in ’n sekere mate beheer oor die datum van jou baba se geboorte,
maar verder het jy géén beheer of deel aan die verlossing nie. Baie vroue wat ’n keisersnee gehad het, wonder egter altyd oor die emosionele ervaring van ’n normale geboorte en oor hoe hulle die pyn sou hanteer het.

5. Wat as my baba in die geboortekanaal vassit of nie suurstof kry nie?

Die baba kry regdeur die geboorte suurstof deur die naelstring en sy hartjie word gereeld tydens die bevalling gemonitor. Probleme of versperrings terwyl jy kraam sal dadelik deur ’n ervare vroedvrou of dokter raakgesien word en hulle sal dit toepaslik behandel.

6. Ek is bang my kind se kop sal uit proporsie geswel of verwronge wees.

Die geboorte-instrument wat die meeste gebruik word, is ’n tang om baba se skedel teen drukking te beskerm. Maar selfs dít is nie baie algemeen nie. Suiers word soms aan die skedel geheg om die koppie te draai. Dit laat dikwels ’n merk op die kopvel wat oppervlakkig en nie gevaarlik is nie, en ná ’n paar weke verdwyn.

Jou baba se koppie kan ’n bietjie misvorm of geswel wees, maar dis glad nie gevaarlik nie en van korte duur.

7. Kan ’n baba se sleutelbeen tydens ’n normale geboorte breek?

Sleutelbene doen soms ’n fraktuur op as die baba breë skouers het, maar dis oor die algemeen nie skadelik nie en herstel gou.

8. Wat as ek ure aaneen kraam en later so uitgeput is dat ek eenvoudig net nie meer kan nie?

’n Bevalling duur selde langer as 12 uur as jy aanhou beweeg en nie in die proses op jou rug gaan lê nie. ’n Staande posisie en beweging soos stap help kraam aan.

9. Kan pynverligting my baba skaad?

Net as jy ’n baie sterk middel kry, kan dit die baba se asemhaling onderdruk. Daar is egter ’n middel
wat aan die baba toegedien kan word om dié newe-effek teen te werk.

10. Wat as ek onverwags en op ’n baie ongeleë plek begin kraam?

Min vroue is gelukkig genoeg dat kraam so vinnig en pynloos geskied! “Stortgeboortes” is in der waarheid baie seldsaam. Jou water kan wel breek voor die bevalling met mening begin – as jy dus laat in jou swangerskap op openbare plekke rondbeweeg, kan jy gerus vir die wis en die onwis ’n sanitêre doekie dra. ’n Rok sal ook die verleentheid ’n bietjie meer verbloem as ’n broek.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees