Geluk! Jy is swanger … al weer! Met ’n kleuter of klein babatjie in die huis en ’n paar jaar se slapelose nagte agter die blad, is die kans goed dat jy nie dieselfde gefokusde ervaring gaan beleef as met jou eerste swangerskap nie – hoewel jy tog bly is om weer swanger te wees.

Gelukkig is daar 10 goeie redes om fantasties oor jou tweede swangerskap te voel.

1. Jy weet wat om te verwag 

Dis die belangrike een. Onthou jy hoe senuweeagtig jy was elke keer as jy ’n ligte steekpyn, ’n snaakse pyn of ’n swangerskapsimptoom ervaar het waarvan jou vriendin jou nie vertel het nie?

Wel, die goeie nuus is dat jy nou meestal weet wat voorlê. Jy weet wat jy kan en nie kan eet nie, en jy weet wat veilig is.

Nie net het jy nie tyd om jou oor die klein dingetjies te bekommer nie – jy gaan eenvoudig nie so bekommerd wees soos die eerste keer nie. 

2. Liggaamsveranderinge skok jou nie

Een van die groot voordele van ’n tweede swangerskap is dat jy weet hoe ongelooflik jou liggaam is en hoe aanpasbaar dit kan wees.

Hoewel jou spiere slapper is die tweede keer (dit beteken dat jou magie moontlik vinniger kan wys), beteken dit ook dat jy nie dieselfde ligamentpyne en -skete wat jy met die eerste swangerskap beleef het, sal hê nie. 

3. Jy gaan vinniger beweging voel 

Een van die beste dinge van swangerskap is om daardie klein wesentjie te voel skop, kriewel, draai en hik namate jou magie groei. Eerstekeer-ma’s voel gewoonlik eers vanaf 18 tot 20 weke beweging, maar omdat jy weet hoe dit voel en omdat jou baarmoederspiere slapper is, is jy meer geneig om daardie eerste bewegings en skoppe tussen 16 en 18 weke te voel.

4. Jy het minder tyd om jou oor elke klein dingetjie te kwel  

Jy het minder tyd en dit is nie altyd ’n slegte ding nie! Dit red jou van die eindelose speletjie wat baie swanger vroue speel: “Wat as my baba ’n seldsame siekte het”, “wat as ek vroeg begin kraam”, “wat as …” 

5. Jy is beter daarop voorberei om jou baba te ontmoet 

Hoewel jy beslis opgewonde was om jou eerste baba te ontmoet, was dit waarskynlik opwinding gemeng met senuwees en ’n goeie dosis angstigheid.

Gelukkig weet jy teen hierdie tyd hoe wonderlik moederskap en daardie kort, soet venster van kleinweestyd is.

Jy kan dit dus aangryp en geniet sonder die senuwees van die roetinetakies soos badtyd en voedings. 

6. Jy kan hierdie ervaring met jou eerste kind deel

Daardie nege maande gaan verbyvlieg, maar namate jou magie groei, het jy ’n unieke geleentheid om met jou kind te praat oor die nuwe bababoetie of -sussie en te sien hoe hy reageer.

Jenny Perkel, ’n kliniese sielkundige, vroedvrou en skrywer van Kaapstad, sê: “Dis vir jou kinders belangrik dat jy hul negatiewe gevoelens erken sonder om dit te verwerp of te oordeel.

"Eers as hulle hul bekommernisse en ongelukkigheid oor minder aandag uitgespreek het, kan hulle begin om ’n regte verhouding met hulle nuwe medespruit te ontwikkel.” 

7. Jy het reeds alles 

Om vir baba te koop is opwindend, maar daar is iets kalmerends aan die wete dat jy alles het wat jy gaan nodig kry.

Geen besoeke meer aan babawinkels waar jy oorweldig voel deur die keuse nie; en geen angstigheid oor watter handelsmerk jy moet aanskaf nie.

Jou bankbestuurder gaan jou ook bedank. 

8. Jy het agtergekom met hoe min slaap jy kan klaarkom

Een van die grootste skokke wat nuwe ouers in die gesig staar is die tekort aan slaap. Jy het gelukkig ’n jaar of twee (of drie) gehad om gewoond daaraan te raak om met min slaap oor die weg te kom.

Hoewel jy dus nie opgewonde is oor die idee van die eerste paar uitmergelende weke nie, weet jy dat jy daardeur sal en kan kom.  

9. Jy het reeds hulp tuis 

Dis moeilik om terug werk toe te gaan en die regte kindersorg te vind. Jy het moontlik reeds daaroor nagedink en jou kindersorg bestaan klaar, jy het al die nodige noodhulpopleiding voltooi en jy het ook grense en roetines gevestig wat vir jou werk. 

10. Jy was al daar

Of jy nou hoop op ’n natuurlike geboorte, ’n watergeboorte of ’n keisersnee, bly een ding waar: Jy het dit al gedoen.

Die idee van die geboorte self is vir baie eerstekeer-ma’s angswekkend.

Hoewel jy steeds senuagtig kan voel namate jou verwagte datum nader kom, weet jy dat jy die geboorteomgewing kan bestuur en al verloop alles nie volgens plan nie, sal jy steeds uiteindelik ’n pragtige baba vashou. 

Wat is vir jou die beste van jou tweede (of derde) swangerskap? Skryf vir ons by web@babaenkleuter.co.za en ons publiseer dalk jou brief!