10 vrae oor geboorte registrasie

akkreditasie
Babas en babapoeier. Babas en fraai kleertjies. Babas en... regeringsdokumente! Ja, klein soos hy is het jou pienkvoet al 'n ID-nommer nodig. 

Sonder ’n ID-nommer sal ons nie ver kom nie. En om ’n ID-nommer vir ons te kry, moes ons ouers natuurlik lank gelede ons geboorte by die Departement van Binnelandse Sake geregistreer het. Die wet (Wet op Registrasie van Geboortes en Sterftes, 1992) bepaal dat elke Suid-Afrikaner se geboorte geregistreer móét word. In die proses word jou baba ’n geboortesertifikaat ryker – iets wat hulle gaan nodig kry om by die skool in te skryf, eendag om ’n identiteitsdokument aansoek te doen, en so meer.

Die goeie nuus is dat dit glad nie so moeilik is om jou baba se geboorte te registreer nie. By baie groot hospitale bied die Binnelandse Sake ’n spesiale diens wat jou in staat stel om jou baba se geboorte net daar in die hospitaal te registreer. En selfs al moet jy in die ry by Binnelandse Sake gaan staan, is dit ’n heel eenvoudige proses.

1. Wat het ek nodig?

Al wat jy nodig het om jou baba se geboorte te registreer is jou eie identiteitsdokument tesame met jou baba se hospitaalsertifikaat of kliniekkaart ,en ’n ingevulde Kennisgewing van Geboorte-vorm BI-24. Jy kan die vorm by sommige hospitale kry, of anders by die kantoor van die Departement van Binnelandse Sake. 

2. Wanneer moet ek die geboorte registreer?

Volgens wet moet jy jou baba se geboorte binne 30 dae ná die geboorte by die Departement van Binnelandse Sake registreer. 

3. Hoe lank duur dit?

Jou baba word geregistreer op die dag dat jy die aansoek indien en jy word gewoonlik dadelik van ’n geboortesertifikaat voorsien. Soms kan dit wel ’n dag of twee duur voor jy die sertifikaat kry.

4. Waar moet ek dit doen?

In sommige gevalle sal jy dit sommer in die hospitaal self kan doen. So nie sal jy na jou naaste distrik- of streekkantoor van die Departement van Binnelandse Sake moet gaan.

5. Wat kos dit?

Dit kos niks om jou baba se geboorte te registreer nie. Tot op 4 Maart vanjaar kry jy ook met die registrasie ‘n verkorte geboortesertifikaat gratis, en ná 4 Maart vanjaar sal jy ‘n volledige geboortesertifikaat gratis kry. Sou jy hierna egter ’n afskrif van jou baba se geboortesertifikaat soek, moet jy daarvoor betaal.

Verkorte geboortesertifikate sal nie meer na 4 Maart uitgereik word nie, om bedrog te voorkom.

In die plek daarvan sal daar vanuit die staanspoor ‘n volledige geboortesertifikaat uitgereik word. Dit toon die ouers se volledige inligting, soos hul identiteitsnommers, volle name, geboortedorpe en burgerskap tydens die baba se geboorte. In die geval van enkelouers kan dit slegs die ma se inligting bevat.

6. Moet ek dit self doen?

Voorheen het onafhanklike agentskappe dikwels teen ’n tarief baba se geboorte vir jou geregistreer, maar om bedrog te voorkom laat die Departement van Binnelandse Sake nie meer toe dat derde partye lukraak jou baba se geboorte registreer nie en moet jy dit self doen. As jy om die een of ander rede wel nie in staat is om self jou baba se geboorte te registreer nie, soos as jy siek is of daar komplikasies rondom die geboorte is, mag jou man of ma die registrasie behartig. Jy moet dan ’n afskrif van jou identiteitsdokument en ’n skriftelike toestemmings brief gee dat hulle dit mag doen, en moet ook die rede verskaf waarom jy dit nie self kan doen nie.

7. Daar's 'n fout op! Wat nou?

As die datum van die geboorte, die geslag of die plek van geboorte foutief is, en dit was die fout van Binnelandse Sake, sal hulle die fout gratis regstel. As dit egter ’n fout aan die aansoeker se kant is, moet vorm BI-526 voltooi word om aansoek te doen vir ’n regstelling en moet jy opdok. Jy moet dan ookbewys kan lewer van die korrekteinligting. Maar hoe gemaak as pa(of jy) in ’n oomblik van angstigheid ’n reuse spelfout met baba se naam gemaak het? Of ’n oupa se naam per ongeluk uitgelaat het? Moenie stres nie. Jy kan jou baba se voornaam verander deur vorm BI-85 in te vul, teen ’n prys.

8. Wie se van?

Die baba van getroude ouers kry outomaties die pa se van, hoewel dit moontlik is om die baba sowel ma as pa se vanne gesamentlik te gee as hulle albei daartoe toestem. Hiervoor moet julle vorm BI-24 invul en albei ouers sal dit moet teken. As jy ongetroud is en jou baba wil registreer met sy pa se van, sal die pa vaderskap moet erken in die teenwoordigheid van ’n amptenaar van die Departement van Binnelandse Sake, anders sal die baba outomaties met die ma se van geregistreer word.

En wat as jou baba met jou van geregistreer is maar jy trou later met jou baba se pa? As die ouers later trou, kan die baba herregistreer word as binne die eg gebore. Vorm BI-59 moet hiervoor voltooi en ingedien word tesame met bewys van die huwelik. Albei ouers moet ook die vorm teken in die teenwoordigheid van ’n kommissaris van ede.

9. My kind is in die buiteland gebore. Waar registreer ek hom?

As jou kind in die buiteland gebore word, moet jy die geboorte by ’n Suid-Afrikaanse ambassade of konsulaat in daardie land gaan registreer. Jy sal ook die registrasievorm moet invul en dit saam met ’n BI-529-burgerskapsvraelys en ’n gesertifiseerde afskrif van die kind se buitelandse geboortesertifikaat met die ouers se volle besonderhede moet indien.

10. Oeps! Ek het te lank gewag

Geboortes moet streng gesproke binne die eerste 30 dae ná die geboorte geregistreer word, maar later registrasie is wel moontlik, hoewel dit meer moeite is. Vir ’n registrasie ná 30 dae maar voor een jaar moet vorm BI-24 ingevul word tesame met ’n geskrewe rede vir waarom die geboorte nie betyds geregistreer is nie. As dit suksesvol is, sal die aansoek na die hoofkantoor van die Departement van Binnelandse Sake gestuur word vir die toekenning van ’n identiteitsnommer. Geboorteregistrasies wat meer as een jaar laat is, maar minder as 15 jaar, vereis ook die invul van vorm BI-24 tesame met geskrewe redes oor waarom die geboorte nie betyds geregistreer is nie, maar daarby moet jy ook dokumentasie verskaf wat die identiteit en status van die kind bewys, soos ’n beëdigde verklaring deur die ouers, asook ander dokumentasie soos ’n getekende, amptelike sertifikaat deur die hospitaal waar die kind gebore is, bevestiging van die kind se persoonlike besonderhede volgens die skoolregister waar die kind eerste skool gegaan het, ’n doopseël, kliniekkaart en so meer. Vingerafdrukke sal ook geneem moet word voor ’n identiteitsnommer deur die hoofkantoor toegeken kan word.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees