3 atlete vertel uit die kraamsaal

akkreditasie
3 top atlete vertel hoe hulle aangepas het by moederskap, en hoe hulle weer begin oefen het daarna.

Hulle het Suid-Afrika en die wêreld aan hul voete gehad met hul sportprestasies en spog elkeen met genoeg medaljes om ’n vertrek te vul. Maar deesdae mik dié top-vroueatlete na ’n nuwe uitdaging: om ’n goeie ma te wees.

Ons wou by hoogspringer Hestrie Els, driekamp-atleet Dominique Donner en atleet Elana Meyer weet hoe hul loopbaan hul besluite oor kinders beïnvloed het, en watter uitwerking hul topfiks leefstyl gehad het op hul ervaring van swangerskap en geboorte.

’n Sprong na lewensgeluk!

Hestrie Els, voormalige Suid-Afrikaanse hoogspringkampioen en Olimpiese medaljewenner, is deesdae die trotse ma van klein Chrizette. Sy vertel sy het besluit om nie haar loopbaan as topatleet te kombineer met ma-wees nie.

Ek het gevoel ek moet eers met my sport klaarmaak voor ek met ’n gesin begin, want ek het nie kans gesien om my kind by die huis te los en die wêreld vol te toer sonder haar nie. Ek wou elke oomblik dáár wees vir my kind.

Ek het dus al met atletiek opgehou toe ek besluit het om swanger te raak en het nie meer ’n vaste oefenprogram gehad nie, maar net geoefen soos ek lus was. Toe ek swanger word, het my ginekoloog my aangeraai om die oefening dadelik te staak. Hy het gevoel dit kan die baba skade doen omdat ek dalk nie sou besef ek oefen te hard nie, want hard oefen was vir my so normaal.

My paadjie voor my swangerskap met Chrizette het my geleer om elke oomblik van die dag baie dankbaar te wees vir haar, want daar was heelwat probleme. Ek het ’n miskraam en ’n buisswangerskap gehad, en daar is heelwat siste verwyder voordat Chrizette opgedaag het.

Toe ek uitvind ek is weer swanger, was ek in die wolke! Ek het elke dag in my dagboek geskryf en aan die einde die dae begin aftel tot sy gebore is. Jurie (Els, Hestrie se sanger-man) het gedink ek is partykeer heeltemal die kluts kwyt, want as ek in die oggendure opstaan, het ek soms nog deur die slaap vir hom gesê ‘daar is nou soveel dae verby en soveel dae bly oor’.

My swangerskap het gelukkig goed verloop. Ek was glad nie naar nie, maar ek het wel my hele swangerskap deur sooibrand gehad (ek het dit selfs van water gekry!). Ek en Jurie het die een aand so teen agttien weke In the Mother’s Womb gekyk en ek het daardie aand die eerste keer lewe gevoel. Dit was wow!

Almal het vir my probeer verduidelik hoe dit voel, maar ’n ma alleen weet hoe dit is. Dis onbeskryflik wanneer daardie klein mensie beweeg!

Ek het nie baie omgegee oor die geslag nie; ek wou net ’n gesonde baba en ’n sorgvrye swangerskap hê. Tog moet ek sê dit was heerlik om uit te vind wat die geslag is en uiteindelik vir haar ’n naam te kon gee. Ek het elke dag vir haar vertel hoe lekker ons gaan shop en wat ma en dogter saam gaan doen.

Op 5 Oktober verlede jaar het ek ’n spinale keisersnee gehad en dis een van die gebeurtenisse in my lewe wat ek vir altyd wil onthou. Daar is geen medalje of rekord wat dit kan oortref nie.

Chrizette is die oggend 08:33 gebore en ek het al daardie selfde aand so teen vyfuur langs my bed by haar gestaan en haar opgetel. Ek dink hoe vinniger jy opstaan, hoe vinniger begin genesing.

Chrizette was vier maande oud toe ek eers weer lus was vir oefen. Sy het my lewe heeltemal verander! Ek is nie meer so gepla oor hoe my lyf lyk nie, want ek is nou ’n mamma en niks kom daarby nie.

Ek dink dit ís moontlik vir ’n vrou om weer die hoogste sport te bereik in haar sport ná ’n baba, maar dan moet jy jou hart en siel daarin sit en besef dat jou kind afgeskeep sal word. Vir my is Chrizette nou prioriteit nommer een. Ek het reeds bereik wat ek wou in sport.

Ma-wees sien ek as ’n groot geskenk van die Here. Dis veeleisend, maar die moeite werd en ek verruil my dogtertjie vir niks in die wêreld nie. Jy besef eers die waarde van ma-wees as jy jou eie kind het.

Vinnige ma, vinnige baba

Elana Meyer (40) was vir jare een van Suid-Afrika se elite-atlete en spog ook met ’n Olimpiese silwermedalje. Ons het met haar gesels toe sy 35 weke swanger was – en toe weer nadat haar en haar verloofde, Jacques van Rensburg, se “laaitie”, Christopher, net ’n week later gebore is.

Ek het nou uit internasionale sport getree en wou nooit regtig met ’n gesin begin het terwyl ek deelgeneem het nie. Dit was meer weens die praktiese implikasies daarvan, omdat meeste van my wedlope oorsee was en baie, baie reis ingesluit het. Daar is wel baie top-sportvroue wat selfs beter presteer het ná die koms van hul babas.

Alhoewel ek afgetree het, is ek steeds baie fiks, want fiksheid het vir my ’n lewenstyl geraak. Ek is egter baie gelukkig en geseënd om op ’n betreklik later ouderdom so vinnig en maklik te kon swanger raak. Ek dink die feit dat ek baie gesond is, help, maar definitief nie die feit dat ek ’n top-sportvrou was nie. Dit kan ’n nadeel wees om vir so lank op die hoogste internasionale vlak deel te neem, want dit gaan met heelwat stres en spanning gepaard en kan soms ook jou maandstondes beïnvloed.

Ek het gedink dit sal my taamlik lank vat om swanger te raak en het myself ’n jaar gegee, maar ek was onmiddellik swanger. Ek was ongelooflik bly toe ek dit uitvind, maar ek ken my liggaam baie goed en het eintlik dadelik gewéét ek is swanger!

Ek het altyd gedink dat ek swangerskap nie lekker sou vind nie omdat ek so baie daarvan hou om aktief en buite te wees en die gebruik van my liggaam baie geniet. Dit was ’n aangename verrassing om die swangerskap regtig te geniet. Ek het geen oggendnaarheid, moegheid of belustings gehad nie. Dit was ’n absoluut wonderlike ondervinding.

Teen so twintig weke het ek ’n skoenlapper voel beweeg, wat versterk het tot die gevoel van ’n rugbyspelertjie wat wil pale toe skop! Ek werk steeds en het nie regtig tyd gehad om te emosioneel betrokke te raak nie. Die tyd het gevlieg. Ek het vir ’n amniosentese gegaan omdat ek reeds veertig is en die geslag is toe bevestig: Dis ’n kleine laaitie.

My maag en borste was lekker groot, maar ek dink nie die res van my lyf het juis verander nie. Ek het 9 kg aangesit, maar ek het aangehou hardloop (baie stadiger as ooit) en ook gimnasium toe gegaan. Vir die eerste keer op 35 weke het dit half ongemaklik begin raak om veral afdraande te hardloop, maar ek het dit nog steeds geniet om uit te gaan en aktief te wees. Ek het wel weer begin lus raak om meer mobiel te wees!

My groot begeerte was net dat die geboorteproses goed sou afloop en die laaitie gesond sou wees. Christopher het uiteindelik ’n maand vroeg opgedaag – ek het daardie dag nog gehardloop. Ek het die Vrydag laat gewerk toe ek voel iets is nie lekker nie. Toe weet ek ek moet vinnig by my motor kom sodat ek darem die hospitaal betyds kan haal.

’n Noodkeisersnee is uiteindelik uitgevoer. Alles het baie vinnig gebeur. Hy het 2,6 kg geweeg en was 44 cm lank. Hy is ’n pragtige, volmaakte seuntjie en ons is regtig geseën.

Ek het geweet dat my lewe sal verander ná die baba se koms, maar op ’n positiewe manier. My idee is nie om na kompeterende sport terug te keer nie, maar absoluut ’n gesonde en aktiewe lewenstyl te handhaaf. En ek het ’n baby jogger om seker te maak dat ek die laaitie kan saamvat!

Blitsig terug op die baan

Dominique Donner, voormalige Suid-Afrikaanse en Afrika-driekamp-kampioen, het driedubbele Springbokkleure verwerf vir driekamp en tweekamp. Sy is die trotse ma van Luc, ’n aktiewe driejarige met groot kuite! Sy vertel:

Ek het swanger geraak die eerste maand wat ons probeer het. Ek het wel ’n paar maande vooraf minder swaar geoefen, wat dit waarskynlik makliker gemaak het. Sommige atlete sukkel om swanger te raak omdat lae liggaamsvet en hoë fisieke stres hul menstruasie ongereeld maak.

Ek het geen vrese gehad oor die uitwerking van swangerskap op my sportloopbaan nie. Ek het nog net positiewe terugvoer gehad van ma’s wat atlete is en ek het ook agtergekom dat my fisieke en geestelike krag toegeneem het tydens my swangerskap.

Ek was regtig verheug toe ek besef het ek is swanger. Maar ek onthou nog hoe verskriklik moeg en gedreineer ek was, al was ek so opgewonde. My swangerskap was nie maklik nie en het baie persoonlike uitdagings gebied. Ek het teen ’n geweldige tempo gewig aangesit, altesaam 18 kg, maar die eerste 12 kg was in die eerste vyf maande!

Ek het beslis nie geblom tydens my swangerskap nie, maar eerder gesukkel met aknee en waterterughouding. Teen die einde van my swangerskap het ek ongelooflik erg sooibrand gehad. Maar ek het ’n sterk band met my baba opgebou en die geskop geniet. So dit was darem nie net sleg nie!

Ek het probeer om dwarsdeur my swangerskap aan te hou swem, maar het geglo fietsry en hardloop sal my baba se lewe bedreig en dit vermy. Ek voel wel dit het my baie gehelp dat ek voor die swangerskap gesond en fiks was.

Luc was ’n stuitbaba en ek het ’n noodkeisersnee gehad nadat ek twee weke vroeg begin kraam het. Dit was ongelooflik om Luc die eerste keer in my arms te hou, maar ek dink ek was ’n bietjie afgesny van die werklikheid daarvan. Miskien was dit die uitwerking van die keisersnee. Hy was wel verskriklik honger en het baie vinnig aan my bors vasgesuig – dit was ’n pynlike ervaring! Ek het hom die volgende agttien maande geborsvoed.

My herstel ná die geboorte was vinnig. Ek het al my swangerskapgewig binne 6 maande verloor en skryf dit aan borsvoeding toe. Ek het 3 maande later weer begin swem en 6 maande later begin hardloop.

Ongelukkig het ek toe griep gekry, wat ek net nie kon afskud nie. Maar 9 maande ná Luc se geboorte het ek weer ernstig begin oefen. Ek het vinnig fiks geword en ná net 4 weke van oefening het ek die KwaZulu-Natalse driekampkampioenskapstoernooi gewen.

Vier weke later het ek derde geëindig in die Suid-Afrikaanse kampioenskapstoernooi en ná nog vier weke derde gekom by die Afrika-kampioenskapstoernooi. Ek het ook die KwaZulu-Natalse tweekamp-titel gewen en ’n fietsren. Ek was regtig verbaas met hierdie resultate ná so ’n kort tydjie, veral as jy in ag neem dat ek vir omtrent twintig maande uit sirkulasie was.

Ek neem op die oomblik ’n blaaskans van kompetisies en rig heeltyds swem af, maar dit beteken verseker nie dat ek my duikpak, fiets en hardloopskoene opgehang het nie! Ek beplan om binnekort weer aan ’n ystermankompetisie deel te neem.

Hoe hard kan jy oefen?

Fisieke oefening tydens swangerskap is deesdae al meer algemeen en baie vroue hou ná 25 weke aan met oefen.

’n Studie deur die Sweedse navorser Karin Henriksson-Larsén het getoon ongeag die vlak van intensiteit lyk dit nie of daar ’n verband is tussen oefening en beduidende risiko nie.

“Matige oefening lyk selfs of dit voordelig is. Vroue se gesondheid en selfbeeld is beter en hulle ly minder aan depressie. Hulle vind ook die geboorte makliker. En dit lyk of die babas van vroue wat tydens swangerskap oefen, minder tekens van stres toon tydens geboorte en hoër Apgar-tellings het,” het Karin bevind.

Intense fisieke oefening tydens swangerskap is wel steeds omstrede. ’n Groep Amerikaanse en Australiese navorsers het onlangs bevind dat swanger vroue wat aan swaar oefening deelneem, probleme kry soos ’n langer bevalling, kleiner babas en meer verkoue en griep.

Daarenteen het ’n navorser aan die Universiteit van Oslo in Noorweë bevind dat topfiks vroue-atlete en hul babas beduidend baat by baie oefening, mits die swangerskap sonder komplikasies is. Dit maak ook ’n vinnige terugkeer agterna makliker en help verseker dat hulle ná die swangerskap fisiek aktief bly.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees