Alles oor Apgar-tellings

akkreditasie
Baby medical check
Baby medical check
Op een minuut oud ondergaan jou baba al sy eerste toets – die Apgar-toets. Ons help jou om al die syfers en tellings te verstaan.

Wat is die Apgar-toets?

In 1952 het die Amerikaanse narkose-professor dr. Virginia Apgar bekommerd geraak omdat so baie babas sonder veel ondersoek direk ná die geboorte na die babakamer toe gestuur is. Sy het besluit ’n diagnostiese toets is nodig om dokters te help besluit of ’n pasgebore baba ekstra aandag nodig het en hoeveel.

Om dié besluit te maak, moet die dokter vyf eienskappe van die pasgebore baba beoordeel. Op Engels begin elke eienskap begin met ’n letter van Virginia se van:

  • A staan vir appearance. Is baba ’n gesonde kleur of is hy blou?
  • P staan vir pulse oftewel baba se hartspoed. Dit word geneem deur die hartklop in die naelstringetjie te voel of deur met ’n stetoskoop na baba se hart te luister.
  • G staan grimace en is ’n reflekstoets wat baba se reaksie op prikkels meet. ’n Kateter word in sy neusie geplaas en as net sy mondjie vertrek, kry hy minder punte as wanneer hy ’n geïrriteerde gehuil opsit.
  • Die tweede A staan vir activity. Om dit te bepaal, word na baba se spiertonus gekyk: Is sy spiertjies slap of beweeg hy ’n bietjie?
  • R staan vir respiration of asemhaling. Die dokter kyk hoeveel keer baba binne ’n paar sekondes probeer asemhaal.

Wat is die doel van die Apgar-toets?

Dis ’n praktiese manier om ’n pasgebore baba binne die eerste tien minute van haar geboorte ’n paar keer te evalueer en vas te stel of sy noodbehandeling of ander hulp nodig het.

Hoe die Apgar-telling bereken word

Jou baba kry in elkeen van die vyf kategorieë hierbo 0, 1 of 2 punte. Die totaal is dan 10 punte. Die toets word drie keer gedoen, ’n minuut ná geboorte, vyf minute ná geboorte en tien minute ná geboorte.

Hartspoed

Geen hartklop: 0
Minder as 100 slae per minuut: 1
Meer as 100 slae per minuut: 2

Asemhaling

Geen asemhaling: 0
Flou of onreëlmatige asemhaling: 1
Asemhaling en huil is sterk: 2

Spiertonus

Baba se spiertjies is slap: 0
Sy arms en bene beweeg effens: 1
Baba is lekker woelig: 2

Reaksie op prikkels

Geen reaksie: 0
Baba se mondjie of gesiggie vertrek: 1
Baba hoes, nies, beur weg of gaan aan die huil: 2

Kleur

Die hele baba is blou of bleek: 0
Net sy hande en voete is blou: 1
Hy het ’n normale, gesonde kleur: 2

Wat beteken die telling?

  •  Daar is nie iets soos ’n gemiddelde Apgar-telling nie, sê dr. Tertius Christie, ’n pediater van Durbanville buite Kaapstad. Die meeste babas kry ’n Apgar-telling van 9 omdat hulle vingerpuntjies blou is van die koue.
  • ’n Telling van 7 of meer is baie algemeen en sal geen dokter of verpleegkundige bekommerd maak nie.
  • ’n Telling van 4 tot 7 beteken dat baba fyn dopgehou word om vas te stel of daar aanpassingsprobleme is. Die dokter of verpleegkundige sal ook op die uitkyk wees vir versteekte simptome soos long- of ingewandsprobleme om te voorkom dat baba babakamer toe gaan met ’n ongediagnoseerde toestand. ’n Mate van ondersteuning kan nodig wees, soos asemhalingshulp.
  • ’n Baie lae telling – minder as 4 – sal gewoonlik ernstiger hulp soos asemhaling-stimulasie, suurstof, kunsmatige asemhaling of ’n binneaarse drup vereis. As dit dadelik ná die eerste minuut gedoen word, kan die telling teen vyf of tien minute ná geboorte styg.
  • Die een-minuut-telling sê vir die dokter wat hy moet doen en of onmiddellike noodbehandeling nodig is. Die latere tellings wys of dit wat gedoen is, genoeg is en of daar met ingrypende maatreëls (soos suurstof, ’n ventilator of ’n drup) voortgegaan moet word.
  •  Dis egter algemeen dat ’n eerste telling laer is as die tweede een. As die tweede telling steeds laag is, kry baba so gou moontlik gespesialiseerde aandag en word verdere toetse gedoen.

Hoekom is my baba se telling laag?

Soms is die rede ’n ernstige probleem en het baba dringend hulp nodig. Vroeggebore babas het ook dikwels lae tellings. Daar kan egter ook ander faktore wees, soos dat jy medisyne vir ’n mediese probleem moes drink, jou bloeddruk hoog was of die geboorte moeilik was. Selfs pynmedikasie wat jy geneem het om die geboorte te vergemaklik, kan die telling laer maak. Baie babas met ’n lae telling word dus heeltemal sterk en gesonde kinders.

Prof. Johan Smith, ’n pediater by Tygerberg-hospitaal in Bellville buite Kaapstad, vertel hy het ’n pasiëntjie gehad met Apgar-tellings van 0, 2 en 5. Die baba is op 43 weke gebore en het 4,34 kg geweeg. Hoewel sy skouertjies vasgesit het, was dit ’n normale geboorte. Noodbehandeling is vir vyftien minute toegepas en daarna het die kleinding kortstondige stuiptrekkings gekry, wat op ’n breinbesering kan dui. Maar vandag is die baba ’n jaar oud en doodnormaal en gesond.

Wie voer die Apgar-toets uit?

Dis ’n roetine-ondersoek wat gedoen word deur die persoon wat verantwoordelik is vir die onmiddellike versorging of hantering van die baba direk ná geboorte, dus meestal die dokter, suster of vroedvrou. Die toets word in die teater of waar die kindjie gebore word, uitgevoer.

As jy besluit om by die huis te kraam met die hulp van ’n vroedvrou, behoort sy dus die Apgar-toets te kan uitvoer. As sy bekommerd is oor die telling, sal sy aanbeveel dat jou baba na ’n hospitaal geneem of ’n spesialis ontbied word.

•    Baie dankie aan prof. Johan Smith en dr. Tertius Christie vir hul waardevolle hulp met dié artikel.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees