Asemhaling, onstspanning en visualisering teen kraampyne

akkreditasie
Asemhaling, ontspanning en visualisering is van die beste pynstillers terwyl jy kraam - of jy nou mediese verdowing kies of nie.

Het jy geweet kraampyne is behandelbaar?

Daar is regtig niks om voor bang te wees nie – asemhaling, ontspanning en visualisering kan help dat jy die kraamproses baasraak.

Sommige vroue verkies ’n hoë dosis medikasie vir pynverligting sodra die kraampyne begin en ander verkies dit weer om ander metodes te beproef om die pyn te vermy. Dit is belangrik om te besef dat
sowel mediese as nie-mediese pynverligtingsmetodes aanvaarbaar is en ook gekombineer kan word.

Daar is drie spesifieke maniere om die pyn baas te raak– ontspanning, asemhaling en visualisering – en wanneer dit gekombineer word, kan jy die bevalling deurmaak sonder om te voel asof jy bedwelm is
en nie in beheer nie.

’n Mens moet egter realisties wees oor pyn. Pyn in kraam is nie sleg nie, maar dit kan onaangenaam wees. Dit is die liggaam se manier om ons te vertel wat gedoen moet word.

As die dokter sy toestemming gee kan jy rondbeweeg en van posisie verander om jou ongemak te hanteer. Daar is verskillende dinge wat die pynvlak en jou weerstand daarteen kan beïnvloed.

Vir baie vroue is pyn nie die grootste probleem nie. Party sukkel met naarheid, moegheid, bangheid, frustrasie en ’n gevoel van desperaatheid wat die pyn kan verdwerg. Al hierdie gevoelens kan die kraamproses baie meer intens maak as dit nie opgelos word nie.

’n Realistiese ingesteldheid teenoor die bevalling en gepaardgaande pyn kan ook help om die pyn te besweer.

As jy op medikasie besluit, moet jy verstaan dit beteken nie dat jy ’n mislukking is of dat jou liggaam jou in die steek gelaat het nie. Dié insig is kardinaal vir ’n positiewe geboorte-ervaring, ongeag die
uitkoms.

Die pynfaktore

Spanning en vrees is die rolspelers in jou persepsie van pyn. En dis nie omdat die pyn net in jou kop is nie, maar omdat daar regte fisieke dinge is wat die intensiteit van die pyn en die idee wat jy daaroor het, kan beïnvloed.

Spanning en vrees gaan hand aan hand en dit is soms ’n moeilike kringloop om te breek. Spanning en vrees veroorsaak dat jou liggaam nie sy eie natuurlike pynstillers, die endorfiene, vervaardig nie. En
terselfdertyd veroorsaak vrees dat jou liggaam meer adrenalientipe hormone, bekend as katecholamiene, produseer.

Dis stowwe wat pyn gelei. Dit laat die kraamproses stadiger plaasvind en maak dit meer intens.

Natuurlike maniere om pyn te verlig soos asemhaling, ontspanning en verbeelding help om van die bangheid en spanning ontslae te raak en in die proses verminder dit ook die pyn. Die regte asemhaling kan jou help om die kraampyne te hanteer.

Ontspanning en asemhaling

Met ontspanning en asemhaling kan jy jou as’t ware breinspoel en jou pyn so verlig. Stadige, diep en egalige asemhaling is die vinnigste manier om te ontspan. As jy die geboorteproses verstaan en weet wat alles gaan gebeur, kan dit jou verder help ontspan.

Enige tegniek van ontspanning kan aangepas word gedurende die kraamproses, hetsy dit joga, hipnotisering of meditasie is.

Die tipe ontspanning wat nodig is vir kraam is nie gewoonlik wat jy dink ontspanning is nie. Dit is meer soos om voete in die lug TV te kyk. Diep ontspanning behels die liggaam en gedagtes. Dis ’n doelbewuste vlak van kalmte, gekombineer met ’n ontspanne lyf en gereelde diep asemteue.

Asemhaling weerspieël die aktiwiteit in jou liggaam en al die liggaam se fisieke reaksies in die onderbewussyn. En asemhaling is die maklikste om te beheer. As jy diep asem haal en ontspan
met die voorneme om kalmer te word, kan jy ander aspekte van jou senustelsel verander (jou pols en bloeddruk afbring) en kan jy meer bewus raak van die spanningspunte in jou liggaam.

Die bonus is dat jy met asemhaling jou baarmoeder met meer suurstof vul. Dit maak die geboorte-ervaring minder pynlik vir jou en minder spannend vir die baba. Hoe meer jy oefen om asem te haal en te ontspan, hoe doeltreffender sal jy dié metode as pynverligter kan toepas terwyl jy kraam.

Ons almal weet hoe om asem te haal, maar dis belangrik dat jy dit oefen omdat jy jouself moet leer om positief te reageer op die kontraksies en om elke faset van die bevalling te ervaar sonder om weerstand te bied.

Om bewustelik asem te haal en om sommer net asem te haal, is twee verskillende dinge. Die een hou jou aan die lewe en die ander help jou om dit te beheer.

Visualisering en ontspanning

Visualisering is jou vermoë om in jou gedagtes ’n prentjie van die toekoms te skep. Dit het ’n enorme uitwerking op jou gedagtes en verbeelding en dit is maklik om te leer. Visualisering werk lekker saam met asemhaling en ontspanning en dit help dat jy van al die negatiewe dinge in jou gedagtes ontslae raak en op iets maklik fokus.

Soms, wanneer jou liggaam ontspan, werk jou brein oortyd. Prentjies in jou kop wat jou kan help ontspan sluit in ’n skets van die natuur, ’n waterval, om op die strand te wees op ’n warm dag, ’n boom
langs ’n rivier of ’n stoel langs ’n vuurherd. As jy fokus op ’n positiewe beeld, of op die baarmoeder wat oopmaak, kan dit help om die kraamproses makliker te maak.

Dit is makliker om dit te doen terwyl jy oefen – of knyp tyd van jou alledaagse takies af en fokus daarop om net te ontspan.

Die voordele

  • Dit werk onmiddellik.
  • Dit verminder jou spanning en is ’n goeie pynverligter.
  • Dit is onder jou beheer.
  • Jy hoef niemand daarom te vra nie.
  • Daar is geen neweeffekte vir jou of jou baba nie.
  • Dit help in ’n verskeidenheid omstandighede.
  • Jy kan dit kombineer met ander soorte pynverligting.
  • Dit is medikasievry.
  • Dit is gratis.

Die nadele

  • Dit verminder slegs die pyn en neem dit nie volkome weg nie.
  • Nie almal vind dit van hulp nie.
  • Dit kos tyd en toewyding om te oefen; hoe meer jy oefen, hoe meer sal dit help in tye van stres en in kraam.
  • Jy sal dalk instruksies deur ’n verloskundige nodig hê. Een les is gewoonlik al wat nodig is, maar jy sal steeds moet aanhou oefen.
  • Afrigting kos geld, maar die belegging is die moeite werd aangesien dit ’n vaardigheid is wat jy nie net tydens die bevalling kan toepas nie, maar ook dwarsdeur jou lewe in moeilike situasies.

Jy kan ontspanning, visualisering en asemhaling enige tyd inspan en dit met ander metodes van pynverligting kombineer.

Dit is doeltreffend wanneer ...

  • Jy begin kraam – om jou te sentreer.
  • Jou kontraksies pynlik word.
  • Gedurende ongemaklike prosedures soos wanneer jy inwendig ondersoek word of binneaarse voeding toegedien word, en selfs wanneer epidurale verdowing toegedien word.
  • Gedurende die eerste stadium van die bevalling – verbeel jou jou serviks gaan maklik en vinnig oop met elke kontraksie.
  • Die kraamproses eindig.
  • Gedurende die oorskakelingsfase van die een stadium van die bevalling na die volgende.
  • Jy druk – verbeel jou dat jou geboortekanaal sag en soepel is.
  • Jy ’n keisersnee moet kry. Asem haling kan dan help dat jy kalm is en op die geboorte fokus eerder as op die mediese dinge wat met die operasie gepaardgaan.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees