Bedrus tydens swangerskap

akkreditasie
Vir sommige swangerskapskomplikasies is die voorskrif eenvoudig: Bly in die bed. Ons bekyk hierdie eenvoudige maar intuïtiewe behandelingskeuse, wat in werklikheid 'n reuse-uitdaging kan wees. 

Dit was Hippokrates, die antieke Griekse geneesheer, wat bedrus die eerste keer as ’n genesingsmaatreël voorgeskryf het, en in die vroeë 1900’s was dit standaard sorg vir swanger vroue. Vandag kla baie vroue met swangerskapskomplikasies dat dié eeue-oue metode maar goed uitdagend kan wees want dit vereis dat jy permanent lê – soms vir weke lank – en net mag opstaan om badkamer toe te gaan.

Toe Minique Gutschow en haar gesin in Augustus 2010 in Suid-Afrika aanland ná ’n avontuur van anderhalfjaar in Holland, het sy geen idee gehad hoe handomkeer haar lewe binne die volgende week sou verander nie. Haar hele huis was in bokse gepak, haar seuntjie was twee jaar oud en sy was 27 weke swanger met ’n tweeling. Op 28 weke het sy begin kraam, maar die dokters kon dit onderdruk. Sy was 10 dae lank in die hospitaal en die gesins e finansies was heeltemal uitgeput omdat hulle nog besig was om hul mediesefonds-aansoek agtermekaar te kry ná hul terugkeer uit die vreemde.

“Die dokter het gesê ek moet óf die volgende nege weke in die hospitaal bly en self betaal óf ek moet huis toe gaan op volle bedrus.”

Minique het besluit om by die huis te bly. Die kinderoppasser wat sy aangestel het toe hulle nog in Holland was, het haar in die eerste week ná hul terugkeer verlaat. Dit was dus sy en klein Dietrich in die huis, en sy moes heeldag lê. Sy konnie eens badkamer toe loop nie en moes ’n gehuurde rolstoel daarvoor inspan.

“Elke keer as ek opstaan, het dit gevoel of die kinders wou uitval. My man het in die oggend voor hy werk toe is alles wat ek en Dietrich die dag nodig sou hê op die vloer uitgepak: water, kos, speelgoed. Dan het Dietrich maar by my gesit en speel terwyl ek in die bed lê.”

As ’n veligheidsmaatreël moes Minique elke week hospitaal toe gaan, waar die babas se hartklop gemonitor is en gekyk is of sy kontraksies het.

Op 32 weke en 35 weke het sy weer begin kraam. Sy het gebloei en kwaai rugpyn gehad. Weer is die kraamproses onderdruk.

Haar keisersnee is vir 37 weke bespreek en op daardie dag is haar dogtertjie, Danila, en seuntjie Daniel gebore.

“Bedrus is regtig ’n nederigmakende ervaring. Jy is so afhanklik van almal om jou. Hulle moet vir jou kos maak, water aandra. . . en hulle maak ’n broodjie en dit is nie presies soos jy daarvan hou nie, maar jy leer maar om jou mond te hou en dankie te sê,” vertel Minique.

“Jy ervaar ook ’n vlak van frustrasie wat jy vir niemand kan verduidelik nie. Mense doen dinge rondom jou en jy wil gil van frustrasie, want jy kan nie ingryp nie.

“Ek lê in die bed en hoor hoe my man met my kind in die kombuis praat en ek weet dit werk nie as jy hom so hanteer nie, maar ek kan niks daaraan doen nie.”

Die ergste van bedrus was die immobiliteit. “Ek kon niks doen behalwe lê nie.D it was die swaarste,” vertel sy.

Minique is egter oortuig dat die maatreël, hoe drasties ook al, doeltreffend was.

“Bedrus werk. As ek in Holland gebly en met my normale lewe voort gegaan het,s ou my tweeling dit nie gehaal het nie. Bedrus dwing vroue om rustig te word. Ek is ten gunste daarvan.”

Waarom word bedrus vandag voorgeskryf?

Volgens dr. Linnie Muller, fetale spesialis by die Panorama-Medi-Clinic in Kaapstad, kan bedrus voorgeskryf word weens:

  • Hoë bloeddruk;
  • Vaginale bloeding of probleme met die plasenta;
  • ’n Swak serviks, waar daar ’n goeie kans is dat die serviks te vroeg ontsluit;
  • Kontraksies of ander tekens van vroeë kraam;
  • ’n Twee- of meerling-swangerskap;
  • Tekens, simptome of toetsuitslae wat dui op groeiprobleme met die baba;
  • ’n Geskiedenis van swangerskapsverlies, doodgeboorte of vroeë kraam; en
  • Komplikasies met die plasenta, soos wanneer die plasenta voor geboorte van die baarmoederwand skei of die serviks bedek.

Die mediese vaktydskrif Issues in mental health nursing definieer bedrus in swangerskap as “die beperking van ’n swanger vrou se aktiwiteite by die huis of in die hospitaal wat afsondering, beperking van ruimte en isolasie insluit en wat tot 12 weke kan duur”.

Daar is egter verskillende grade van bedrus en dit hang van elke mens afsonderlik af watter beperking daar op jou vlak van aktiwiteit geplaas word.

’n Ligter vorm van bedrus kan beteken dat jy vrylik in jou huis mag rondbeweeg, maar nie jou kinders mag optel of swaar huistake verrig nie. Afhangende van die fisieke eise van jou werk mag jy selfs aanhou werk.

In ander gevalle is bedrusriglyne strenger. Jy mag moontlik nie bestuur nie, nie trappe klim nie, nie kos kook nie, nie seksuele omgang hê nie en ook nie te lank onder die stort staan nie. Daar kan van jou verwag word om 24 uur per dag by die huis te lê en net op te staan om te stort of toilet toe te gaan. Jy kan selfs in die hospitaal opgeneem word, waar jy en die baba daagliks gemonitor word.

Bedrus is ’n omstrede kwessie in mediese kringe omdat daar “baie min in die mediese literatuur is wat dit ondersteun,” sê prof. David Hall, hoof van die departement verloskunde en ginekologie van die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.

Die gesaghebbende Cochrane-groep vir swangerskap en kindergeboorte wat mediese navorsing ontleed, het gevind bedrus in die hospitaal verminder nie die gevaar van vroeë geboorte met meerling-swangerskappe nie, maar dit kan wel die groei van die babas verbeter.

Linnie stem saam daar is tans geen konkrete bewys vir of teen die gebruik van bedrus in die hospitaal of by die huis vir die voorkoming van voortydige geboorte nie. Die praktyk om dit voor te skryf, is gebaseer op waarnemingstudies wat gevind het daar is ’n verband tussen harde werk of harde fisieke aktiwiteit en voortydige geboorte, sê sy.

Bedrus kan ook negatiewe gevolge hê en daarom meen medici ’n wetenskaplike ondersoek is nodig om te bepaal wanneer en of dit inderdaad doeltreffend teen swangerskapskomplikasies is.

Swanger vroue se bloed is 10 keer meer stolbaar en hulle loop dus ’n groter gevaar om diepaartrombose (bloedklontvorming in die bene) op te doen, sê David. Dié risikoword deur bedrus verhoog.

“As die bene nie gebruik word om bloed terug na die hart te stuur nie, kan bloed in die onderbene opdam,” waarsku Linnie.

Minique het kompressiekouse gedra wat gehelp het om bloedklonte af te weer. “Ek het my ook gedwing om basiese strekoefeninge te doen – eenvoudige dinge soos omjou tone te wikkel,” sê sy.

Toe sy uiteindelik daar opstaan, het sy “soos ’n stokkie” gelyk, vertel sy. “Ek het gesukkel om te loop. Aanvanklik kon ek net tot by die einde van my voorste grasperk stap. Later kon ek om die huis stap.”

Bedrus het ook druk op hul huwelik geplaas. “My man moes alles doen – kos maak, huis skoonmaak, wasgoed was en heeltyds werk. Hy moes ook my en Dietrich se emosies en vrese hanteer. Ek was so dankbaar vir dié man wat bereid was om die pad saam met my te stap. Dit is net die Here wat ons huwelik deur gehelp het. Ek het hard probeer om hom respek en eer te gee en hom soos die hoof van die huis te laat voel, al moes hy al my rolle ook vervul. Mans moet net weet hulle is nog in beheer van die wêreld, al voel dit asof alles uitmekaarval.”

Dít pla met bedrus

Vroue op bedrus wat deelgeneem het aan’n studie wat verskyn het in JOGNN, ’n vaktydskrif vir verloskunde, ginekologie en neonatale verpleging, het deurlopend gevoelens van onsekerheid (nie die dokters of die ma weet wanneer die baba sy opwagting gaan maak nie), kommer oor die baba se welstand en die moeg raak vir wag ervaar. Talle vroue het gesê hulle het soos ’n gevangene in hul eie huis gevoel, hulle was verveeld en het gevoel dat hulle die lewe misloop.

Kommer oor hul ander kinders en skuldgevoelens omdat hul lewensmaat so baie van hul take moes oorneem, was nog ’n stresfaktor. Die gebrek aan beheer oor hul eie liggaam en hul huishouding het hulle verder gespanne gemaak. Nog ’n probleem was dat hulle soos siekes behandel is al het hulle nie siek gevoel nie.

Wat hierdie vroue gehelp het, was besoekers by die hospitaal, om die bedrussituasie te aanvaar en ’n dag op ’n slag te pak. Hulle het ook vir hulle self klein doelwitte gestel soos “ek is nou 26 weke swanger, ek gaan mik vir 27 weke” pleks daarvan om op 40 weke te konsentreer.

Hospitaalbedrus word dikwels deur pasiënte beskryf as ’n ervaring van sensoriese ontneming waar jy weke lank aan ’n hospitaalkamer vasgekluister lê en geen interaksie met die buite wêreld het nie.

“Jy weet wat vir jou goed is, maar jou gemoed ...,” sê Amecia Hendricks (40), ’n geografie-onderwyseres van Kuilsrivier wat ’n maand lank op hospitaalbedrus was. “Die goed wat jy prysgee, die gerief van jou eie huis, was vir my die ergste.”

Amecia se swangerskap het piekfyn verloop tot op week 24 toe vaginale bloeding begin het.

Sy is in die hospitaal opgeneem en sy en haar man, Peter-John, het hul huweliksherdenking, Kersfees en Nuwejaar in die hospitaal gevier.

Peter-John het die “huis na die hospitaal gebring”. Vir Kersfees het hy ’n Kersboom in haar hospitaalkamer staangemaak. En op Oujaarsaand het hy vir haar en twee bedrusgenote elk ’n bord tuisgemaakte kos gebring, kompleet met rooi servetjies.

Sonder sy vrou by die huis moes hy die babakamer maar alleen regkry. “Hy koop toe ’n kot en gordyne en beddegoed ten duurste, want ek was nie daar om te help soek en besluit nie.”

Amecia het op 27 weke 1 cm ontsluit en kraampyne gekry. Die kraamproses is onderdruk. ’n Week later het sy ontsluit tot op 3cm. Weer is die kraamproses onderdruk. Ses dae later toe haar water breek, was daar niks meer wat die koms van haar dogtertjie, Zarah, kon keer nie.

“Bedrus het definitief ’n verskil gemaak. Ek dink ek het my aanvanklik ooreis. Dit was eksamen by die skool en ons moes elke halfuur toesigbeurte ruil en op en af met die trappe klim.”

Sy glo hospitaalbedrus het verseker dat haar dogtertjie ’n veilige aankoms gehad het. “In die hospitaal is jy heeltemal beperk met hoe ver jy kan beweeg: toilet toe en terug bed toe. Ek glo as ek nie op bedrus was nie, sou ek definitief vroeër gekraam het. Bedrus was maar ’n nagmerrie.”

Sowel Amecia as Minique stem egter saam: Bedrus is dalk nie die plesierigste ervaring onder die son nie, maar hulle sal dit albei ongetwyfeld weer deurmaak as hul baba se veiligheid daarvan afhang.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees