Berei jou troeteldier voor op die koms van jou baba

akkreditasie
Hoe maak jy jou troeteldier gereed vir jou eersteling se koms?

Jou nuwe baba kan die familie op sy kop keer. Tot dan is jou troeteldier dikwels die baba en ’n nuwe
familielid laat hom vir seker nie onaangeraak nie. Die oomblik as Wagter nie meer die aandag kry waaraan hy gewoond is nie, en dít als te danke aan ’n huilende pienk bondel, kan daar volgens Dr. Grant Craig ernstige spanning tussen troeteldier, baba en natuurlik die res van die gesin ontstaan.

Dr. Quixi Sonntag voeg by dat jou dier skeidingsangs kan ontwikkel, wat vernietigende gedrag, ’n oormatige geblaf of gehuil en onvanpaste urinering of uitskeiding tot gevolg kan hê.

Sommige honderasse hanteer kinders van nature beter as ander. Terriërs is onder andere bekend daarvoor dat hulle meer sukkel om aan te pas en daarom sal jy ekstra moeite moet doen om hulle daarop voor te berei.

Maak seker jy weet voor die tyd wat jou hond se geaardheid is en hoe hy oor babas voel, sodat jy jou benadering daarvolgens kan instel.

Troeteldiere is baie sensitief vir omgewingsveranderinge en jy gaan lang- en korttermynbeplanning moet inspan om dit vir almal makliker te maak.

Quixi waarsku dat “’n troeteldier se eerste indrukke van ’n pasgebore baba ’n langdurige effek op daardie dier se gedrag gaan hê”. Dit is dus oor en oor die moeite werd om ‘n plan van aksie te
hê om die aanpassing makliker te maak vir julle almal.

Jou 10-stap plan om Wagter op Willempie se koms voor te berei:

1. Berei jou diere al vroeg-vroeg voor en doen dit stelselmatig. Grant stel voor dat jy al drie maande voor die tyd die troeteldiere se roetine moet begin aanpas na dít wat haalbaar sal wees as die nuweling eers daar is. Dit kom neer op minder aandag, maar meer gestruktureerde gehalte-tyd saam.

Jou hond se daaglikse laatmiddagstappie moet dalk ’n laatoggendstappie word wat julle nou net elke derde dag onderneem. Jou kat gaan moontlik gewoond moet raak aan ’n nuwe slaap- of eetplek.

2. Neem beheer van jou en jou hond se sosiale interaksie en doen dit op jou terme. Volgens Quixi glo ons verkeerdelik dat troeteldiere konstant met aandag oorweldig wil word. Die feit dat sommige diere aanhoudend aandag soek, is ’n aanduiding dat hulle sosiaal onveilig voel en ’n hoë vlak van angstigheid beleef.

Troeteldiere het in die eerste plek ’n natuurlike behoefte aan leierskap van hulle eienaars, meer nog as vriendskap. Jy moet besluit wanneer en hoe jy aandag gaan gee en jy sal moet leer om jou dier te ignoreer wanneer hy aandag soek (deur te kerm of te miaau of op en af te spring) en slegs aandag
te gee wanneer hy nie ’n oorlas is nie.

Wanneer ’n troeteldier gewoond is aan baie aandag en hy word dit skielik ontneem die oomblik wanneer
baba sy opwagting maak, gaan die hond die volgende assosiasie maak: dinge het slegter geword die oomblik toe daardie kind verskyn het, so die kind is ’n vyand.

3. Gooi alle skuldgevoelens oorboord. As jy ferm, maar vriendelike leiding neem met die veranderings in julle sosiale struktuur, sal jou dier gewillig en lojaal volg.

4. Maak seker dat jy gehalte tyd vir jou dier inruim en sorg dat hulle gestimuleer bly. Sorg vir gereelde positiewe interaksie (speel, stap, kam, drukkies) op die voorwaarde dat jou hond kalm en goedgemanierd is. Quixi stel voor dat jy met vyf minute se opleiding ’n dag begin: Leer jou hond (en selfs jou kat!) om te sit vir ’n lekker bederfhappie.

Om op jou instruksie te sit, is ’n baie handige vaardigheid, want so kan jy jou hond onder beheer bring
indien nodig en dié reël skep vir hom ’n ferm struktuur. Hy leer om kalm vir aandag te wag en dat hy dit weldra sal kry, sowel as ’n ietsie lekkers daarby. Dit laat jou dier ontspan en hy’t nie meer ’n angstige behoefte aan aandag nie.

5. Bepaal ook vroeg reeds in watter dele van die huis jy jou troeteldier gaan toelaat of nie en implimenteer dit, meen Grant.

6. Begin om babareuke, -klanke en -items bekend te stel. Laat jou troeteldiere aan iets soos die poeier, boudsalf of doeke ruik.

7. Moedig jou vriende met babas aan om te kom kuier, sodat jou troeteldiere aan die idee van ’n baba gewoond kan raak.

8. Quixi meen jy kan selfs ’n pop gebruik wat huil. Wys deur jou eie voorbeeld wat ’n gepaste reaksie is – probeer om so natuurlik moontlik op te tree.

9. Terwyl ma in die hospitaal is, kan pa van die babaklere wat reeds aangetrek is huis toe neem en die hond daaraan laat ruik.

10. Moenie jou diere net voor baba se tuiskoms kennels toe stuur nie.

Die kennismaking

Hou die tuiskoms persoonlik deur te sorg dat daar nie ander mense buiten die gesin teenwoordig is nie, sê Quixi. Die pa moet die baba vashou en die ma moet die diere eerste groet, die oomblik as hulle gekalmeer het. Laat die diere een vir een toe om die baba te ondersoek.

Hou ooropgewonde honde vir eers aan ’n leiband. Dis normaal vir ’n hond of ’n kat om ’n baba se gesig te wil lek. Moenie met hulle hieroor raas nie – volgens Quixi is dit ’n aanduiding van positiewe interaksie en die baba kan eintlik niks hiervan oorkom nie.

Draai die babatjie se gesiggie saggies weg en lei die dier se aandag daarvan af op ‘n positiewe manier, as jy die lekkery nie goedkeur nie.

Wanneer baba tuis is

Die belangrikste is om vir jou dier die geleentheid te bied om ’n positiewe assosiasie met jou baba te vorm. Gee hom aandag wanneer die baba by is, anders gaan hy enige gebrek aan aandag met die
teenwoordigheid van die baba assossieer.

Beloon jou hond wanneer hy hom goed by baba gedra. Katte is mal daaroor om styf teen warm voorwerpe (soos ’n babalyfie) op te krul. As jy dit nie verkies dat sy saam met baba in die wiegie slaap nie, doen moeite om ’n lekker warm en gemaklike, alternatiewe slaapplekkie vir jou kat in te ruim. Hou ’n watergeweertjie byderhand en spuit haar nat as sy probeer om in die wiegie te klim. Dit sal haar gou van die bababed genees.

Soms gaan dit nodig wees om ’n lomp of ooropgewonde hond sekere dele van die huis te verbied of om hom tot ’n sekere gebied te beperk. Hiervoor kan jy babahekkies gebruik.

Maak seker dat hy genoeg speelgoed en ’n gemaklike rusplek het in dié deel van die huis waar hy wel toegelaat word en bring gehalte tyd met hom daar deur. Beide Quixi en Grant is dit eens: vir jou eie gemoedsrus en jou baba en troeteldier se veiligheid, moet alle interaksie tussen hulle onder jou wakende oog plaasvind. Moet nooit ’n baba alleen by ’n troeteldier los nie.

Grant maan verder dat jy baie versigtig moet wees as baba begin kruip, want hy gryp dalk na die hond om te speel of kruip oor hom en die hond voel hy moet homself verdedig. Soos jou hond gelei moet word om jou baba te aanvaar, so moet jou kind leiding kry oor hoe om julle troeteldier te hanteer. Voorbereiding is jou sleutel tot sukses.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees