Binding voor geboorte

akkreditasie
Binding met jou baba kan plaasvind terwyl hy nog knus binne-in jou woon.

As ouers kan julle reeds van vroeg in die swangerskap met jul baba begin bind. Al wat jy hoef te doen is om elke dag ’n bietjie tyd saam met jou ongebore baba deur te bring deur op hom te fokus, en jy sal verbaas wees hoe maklik jul verhouding groei.

Ons brein en gedragspatrone ontwikkel namate ons in die baarmoeder groei. En embrioloë glo wat met die baba in die baarmoeder gebeur – aanraking, vibrasies, beweging, klank en lig – kan ’n positiewe
uitwerking op hom hê.

Jy koester hoë ideale vir jou kind, en die goeie nuus is dat jy jou baba voor geboorte reeds kan begin stimuleer. Wie weet watter verskil jy aan jou baba se potensiaal maak om sy lewensdoel te bereik as jy
elke dag net ’n bietjie met hom gesels?

Binding kan enige tyd gedurende die swangerskap begin, maar die doeltreffendste voorgeboorte-
stimulasie vind plaas in die tweede trimester, wanneer al die basiese strukture en sintuigorgane ’n gevorderde stadium bereik.

Al is die oor nog nie ten volle ontwikkel nie, kan babas teen die 16de week reeds hoor. Jou ongebore baba hoor jou hartklop, die klanke van jou maag en die geruis in die baarmoeder. Hy kan klanke van tot 60 en 70 desibel hoor. Geen wonder dus dat babas in die eerste drie maande ná geboorte deur
haardroërs en stofsuiers gekalmeer kan word nie.

Die fetus hoor ook sy ma se stem wanneer sy praat. Teen geboorte is haar stem so bekend dat hy in die eerste paar dae ná sy kennismaking met die buitewêreld reeds sy koppie in haar rigting draai as hy
haar stem tussen ander vroue s’n hoor.

Navorsers sê die baarmoeder is jou baba se eerste klaskamer. Hulle glo dat as jy jou baba van die begin af positief beïnvloed, dit ’n uitwerking het op sy latere ontwikkeling en prestasies. Daar is ook bewys
dat ongebore babas emosioneel en intellektueel ontwikkel.

Rus en ontspan

Die beste geskenk wat jy jou baba kan gee, is om na jouself om te sien. Dit is moeilik om goed vir jou baba te wees as jy jouself nie oppas nie. Dis dus belangrik dat jy ‘ek’- tyd maak om jou batterye te herlaai (geestelik, emosioneel en fisiek). Moet dit nie as werk beskou nie.

Jou maat se betrokkenheid is ook belangrik. Hy het sy eie spesiale eienskappe en lesse wat hy vir die baba sal leer. Knyp ’n tydjie af wanneer julle nie onderbreek sal word nie en waar die omgewing rustig en stil is. Dis nie altyd nodig om te praat nie; dis net belangrik dat julle as ’n gesin saam verkeer. Dis ook goed vir jou verhouding met jou man.

Gesels met baba

Dit klink dalk snaaks, veral vir amperpa’s. Swanger vroue praat gewoonlik met hul babas, maar vir pa’s kan dit ongemaklik wees. Enigiemand in die familie kan trouens met die baba praat: boetie of sussie,
selfs oupa en ouma.

Praat altyd met jou baba soos jy met enige geliefde sal praat. Dit sal ook sy aandag trek as jy vir hom lees. As jy met jou ongebore baba gesels en vir hom lees, word die bindingsproses sterker.

Vertel baba als

Vertel jou baba wat jou drome en aspirasies vir sy toekoms is. Hou hom ingelig oor wat jy alles doen ter voorbereiding vir sy koms. Beskryf sy kamer en speelgoed vir hom, asook die sagte speelgoed waaroor
hy dol sal wees.

So begin jy ’n goeie selfbeeld bou. Jou baba sal vroeg reeds weet dat julle lief is vir hom en wag op sy
koms.

Maak kontak

Aan die begin is dit meer op ’n intellektuele vlak, soos dat jy jou gedagtes op jou ongebore baba fokus. En wanneer jy jou gevoelens van liefde, hoop en vrede laat vloei terwyl baba knus in die baarmoeder beweeg, word daar met jou doelbewuste kommunikasie ekstra serotonien, ’n liefdeshormoon,
in die brein afgeskei. Jou baba sal weet jy is lief vir haar.

Oefening

Gespesialiseerde oefening by voorgeboorteklasse bied eindelose voordele. Nie net sal jy ’n gesonde swanger vrou wees nie, maar dis ook voordelig vir jou baba. Beweging is iets wat ’n ontwikkelende baba geniet.

Sy is bewus van die verandering van haar ma se bewegings (vinnig of stadig) sowel as die verandering van jou rigting en vlak (op en af). Die houding van jou liggaam en die manier waarop jy beweeg, is belangrik vir die ontwikkeling van die baba. Dit laat haar toe om sin te maak van patrone en beweging
en dit kan gerusstellend wees as die beweging gereeld en ritmies is.

Beweging help jou baba om in die vroeë weke veilig te voel. Die ritmiese manier waarop jy haar in jou arms sus ná haar geboorte boots die ritmiese bewegings in die baarmoeder na. Ma’s doen dit instinktief.

In die baarmoeder help dit dat die ongebore baba se vestibulêre stelsel en sintuie ontwikkel, veral ná die 26ste week van swangerskap.

Ander voordele van oefening gedurende swangerskap is dat jou baba meer suurstof kry en namate jy vietser en gesonder word, word jou baba sterker. Dit stel haar in staat om die geboorteproses te hanteer, wat ook al die uitkoms.

Endorfiene word in groot hoeveelhede geproduseer terwyl jy oefening doen en jou baba sal die goedvoel-stowwe net so baie soos jy geniet. As jy bewegings op die maat van musiek uitvoer en vir jou baba beskryf wat jy doen, leer sy ook.

Wees op die uitkyk vir goeie voorgeboorteklasse waar alle aspekte van voorgeboortestimulasie en die unieke geleenthede wat dit bied, ingesluit is.

Visualisering

Visualisering laat jou toe om vir baba te vertel waarmee jy besig is en hoekom en waar jy dit doen.
Sien voor jou geestesoog hoe en waar jy die lewe wil skenk. Visualiseer dit elke dag en deel dit met jou baba.

Aanraking

Van vyf weke af is die embrio uiters sensitief vir aanraking. Dit is die eerste sintuig wat begin ontwikkel. Namate jou baba groei en ontwikkel en sy spiere sterker word, sal hy alles om hom aanraak – sy eie liggaam, die naelstring, die membrane en die plasenta. As hy die baarmoeder deel, sal hy sy boetie of sussie aanraak. Skanderings het al getoon dat tweelinge met mekaar speel.

Jy kan van die vyfde maand van swangerskap af jou baba met aanraking stimuleer. Sagte aanraking sal jou baba aanmoedig om te reageer deur nader aan jou hande te beweeg of selfs te skop asof hy met jou speel. Pa’s is veral mal hieroor.

Wanneer jy jou boep aanraak of dit masseer, wend ’n bietjie weefselolie aan. Dit sal help dat jou hande sagkens oor jou maag beweeg (en ook onnodige rekking en rekmerke help voorkom). Vermy egter
die volgende olies:

koningskruid, sederhout, salie, koljander, hisop, jasmyn, jenewer, marjolein, oreganum, mirre, peperment, seweboom, polei en wintergroen.

Klanke

Jou baba hoor die geluid van water wat oor jou maag vloei en musiek wat ’n meter ver gespeel word, en reageer daarop. Babas ontwikkel ’n voorliefde vir die soort musiek wat jy in jou omgewing speel en sal dit ná geboorte herken.

Sommige kenners reken dat jy voor geboorte reeds musiektalent kan ontgin.

Goeie gewoontes

As jy genoeg slaap en rus, gesond eet, slegte gewoontes afsweer en stres vermy, laat jy jou baba weet jy is daarop ingestel om hom in ’n gesonde liggaam te huisves. Dié gewoontes begin nie ná die geboorte nie, maar terwyl jou baba in die baarmoeder is.

Postuur

’n Goeie postuur beteken dat jy jou baba ruimte bied om te beweeg, jy het meer plek om asem te haal en jy sal ook langer en meer selfversekerd voorkom. Jou rug sal ook minder geneig wees om te pyn. En
as jy goed lyk, voel jy goed – en jou baba ook.

Verhoudings

Koester die verhoudings wat jy het met die belangrike mense in jou en jou baba se lewe. Jou baba het familie nodig en sal nog baie lewenslesse by die mense om hom leer.

As jy bemin en veilig voel, sal jou baba ook so voel. Die emosionele lesse wat jy jou baba voor geboorte leer en die boodskappe wat hy van jou kry, sal ’n merkwaardige band skep wat jou kind vir die res van sy lewe met hom sal saamdra.

So kan jy voor baba se geboorte reeds met hom bind

  • Vertel baba vooraf wat jy beplan en vra wat hy graag wil eet. So deel julle pret en begin julle ’n bondgenootskap vorm.
  • As jy daardie eerste fladderings voel, kan jy hom vertel hoe jy dit geniet. Praat altyd met hom as jy hom voel beweeg.
  • Vryf saans voor slaaptyd jou boepie en vertel jou baba dat slaaptyd aangebreek het en hy lekker
    moet slaap. Pa kan dit ook doen. Speel sagte, rustige musiek voor slaaptyd. So kan jy jou baba in die baarmoeder begin leer dat ’n mens saans rustig moet word voor jy kan gaan slaap.
  • Speel bedags musiek spesiaal vir jou baba. Kies op en wakker musiek of rustige musiek, afhangende van wat jy wil bereik.
  • Sit met jou voete in die lug en word stil. Plaas jou hand op jou magie en dink oor hoe lief jy vir die babatjie is. As teenvoeter vir stres in die verkeer kan jy met jou baba gesels en die tyd vir binding gebruik.
  • Laat pa vir baba groet wanneer hy saans tuis kom.
  • Soms kan jy net ’n bietjie tot stilstand kom en jou baba “inasem”. Haal diep asem en konsentreer op jou asemteue.
  • Skryf briefies vir jou baba.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees