Selfs al wys statistiek dat byna een uit elke vyf vroue bloeding ondervind terwyl hulle swanger is, het die meeste van hulle uiteindelik gesonde, gelukkige babas. As dit jou egter oorkom, kan dit angswekkend wees. Hoewel bloeding nie altyd rede tot kommer is nie, moet jy maar liewer dadelik dokter toe gaan as jy begin bloei.

Vaginale bloeding kom dikwels in die eerste trimester voor en is gewoonlik nie ’n teken van probleme nie. As jy egter in die tweede of derde trimester bloei, kan dit ’n teken van komplikasies wees.

Bloeding in eerste trimester

Omtrent 15 tot 25 persent van vroue bloei vroeg in hul swangerskap. Dis dikwels nie ’n teken van onheil nie, maar moet altyd ondersoek word. Minder ernstige oorsake sluit in deurbreek- of inplantingsbloeding.

Die hormone wat jou menstruele siklus beheer, kan deurbreekbloeding veroorsaak wanneer jy sou gemenstrueer het. Inplantingsbloeding kan ’n dag of twee lank voorkom as bloedvlekkies wanneer die bevrugte eier aan die baarmoederwand vasheg.

Ligte bloedvlekke kan ook voorkom ná seks omdat die serviks gevoelig en met bloed gevul is. Dit kan trouens enige tyd gedurende jou swangerskap gebeur en is geen rede tot kommer nie.

Die algemene reël is dat bruin bloed en bloed wat twee sanitêre doekies vul, nie skadelik is nie. As jy bloei, moet jy altyd ’n sanitêre of broekiedoekie gebruik sodat jy kan sien hoeveel bloed jy verloor en watter soort bloeding dit is. As jy bloei moet jy nooit ’n tampon gebruik of vir die doel van seks enigiets in jou vagina plaas nie, nie eens ’n spoelmiddel nie.

Vars bloed met klonte of bloeding wat met maagkrampe of maagpyn gepaardgaan, is ernstiger en kan vroeë tekens wees van ’n miskraam of ’n ektopiese of molêre swangerskap. ’n Molêre swangerskap
is seldsaam, maar ontstaan wanneer die embrio nie behoorlik ontwikkel nie en van die plasentaselle abnormaal begin groei.

’n Ektopiese swangerskap ontstaan wanneer die embrio buite die baarmoeder vasheg, gewoonlik aan die wande van die fallopiese buise. Dit kom voor in een uit 60 swangerskappe. Vir jou eie veiligheid moet ektopiese en molêre swangerskappe so gou moontlik deur ’n operasie beëindig word.

Bloeding kan ook ’n teken van ’n onderliggende toestand wees wat spesiale behandeling en monitering deur jou hele swangerskap vereis. Dit sluit in irritasie of swelling van die serviks, infeksie van die serviks of vagina, ’n poliep van die serviks, ’n fibroïed of selfs ’n verloorde tweeling (’n embrio in ’n meervoudige swangerskap wat as’t ware sterf en agterbly).

Is daar ’n risiko vir my baba?

  • Dis moeilik om te voorspel of bloeding of bloedvlekke tot ’n miskraam sal lei. Daar is egter sekere faktore wat sterker met ’n miskraam verbind word as ander:
  • Toenemende swaar bloeding,
  • Jou ouderdom. As jy jonger as 25 of ouer as 35 is, is jou kans vir ’n miskraam groter;
  • Rook of selfs blootstelling aan passiewe rook;
  • ’n Geskiedenis van miskrame.

Bloeding in die tweede en derde trimester

Algemene toestande wat mindere bloeding in jou tweede trimester kan veroorsaak sluit in ’n ontsteekte serviks of groeisels op die serviks. Ernstiger toestande sluit in placenta praevia, placenta abruptio of voortydige kraam.

Placenta praevia ontstaan wanneer die plasenta die serviksopening gedeeltelik of algeheel bedek en kom in een uit 200 swangerskappe voor. Vaginale kraam is nie moontlik nie omdat die plasenta die geboortekanaal versper. Tensy dit vroeg met behulp van ’n sonarondersoek gediagnoseer word, kan dit in die derde trimester duidelik word in die vorm van helderrooi bloeding sonder pyn. Dis ’n baie ernstige komplikasie wat onmiddellike sorg verg.

Jy het ’n groter risiko vir placenta praevia as jy:

  • Reeds kinders gehad het;
  • Voorheen ’n keisersnee gehad het;
  • ’n Baarmoederoperasie ondergaan het; of
  • ’n Twee- of drieling verwag.

Placenta abruptio kom voor wanneer die plasenta wegtrek van die baarmoederwand voor of tydens die bevalling. Dit veroorsaak vaginale bloeding en maagkrampe. Dit kom by net 1 persent van swanger vroue voor en gewoonlik in die laaste 12 weke van swangerskap. Dis ernstig en as jy naby die verwagte geboortedatum is, kan jou dokter ’n onmiddellike keisersnee aanbeveel.

Laat bloeding kan ook ’n teken wees dat jou liggaam hom op kraam voorberei. As jy ná 37 weke bloedvlekke opmerk, is dit waarskynlik ’n teken dat jou serviks begin versag of selfs verruim. 'n Bloederige slymafskeiding is deel van die slymprop wat jou serviks afgesluit het en wat nou loskom.

As jy dit voor 37 weke sien, gaan jy in vroeë kraam. Tekens van voortydige kraam kan insluit krampe wat soos menstruasiekrampe voel, gereelde kontraksies wat hewiger word, drukking op die rug, on- gewone drukking op die bekken, ’n bloederig vaginale afskeiding en jou water wat breek. As jy vermoed jy is besig om vroeg te begin kraam, kry dadelik mediese hulp.

As jou bloedgroep Rhesus-negatief is en jy bloei in die tweede of derde trimester, sal jy ’n anti- immunoglobulieninspuiting moet kry, tensy jou baba se pa ook Rhesus-negatief is.

Wees veilig

Bloeding is omtrent altyd ’n risiko as ’n mens swanger is, maar as jou swangerskap goed dopgehou word, sal jy en jou versorgers dadelik agterkom as alles nie wel is nie. As jy bekommerd is, gaan spreek die dokter of vroedvrou sodat jy gerusgestel kan word.

Afhangende van die oorsaak, gaan baie swangerskappe voort ongeag probleme met bloeding. Sowat die helfte van vroue wat hulp soek as gevolg van vroeë bloeding het gesonde babas.