Boepie-ondersoeke: wat die dokter alles wil weet

akkreditasie
Urine sample
Urine sample
Geluk, jy’s swanger! In die volgende 9 maande gaan jy nog jou dokter se drumpel deurtrap. Hier's als wat jy moet weet.

Die meeste vroue besoek hul dokter minstens 12 keer terwyl hulle verwag en hoe nader jou datum kom, hoe meer gereeld wil die dokter jou sien. Ons het ’n lys saamgestel van al die besoeke wat jy moet inpas, asook wat jy met elke besoek kan verwag.

Die ondersoeke

8 weke

Die eerste konsultasie, op sowat 8 weke, is waarskynlik die langste omdat soveel dinge nagegaan moet word en jou dokter moet seker maak dat hy al die inligting het wat nodig is om jou tydens jou swangerskap te versorg. Hoe meer hy weet, hoe makliker is dit vir hom om vooraf moontlike probleme te voorsien en dop te hou.

  • Bloed- en urinemonsters word geneem en jou lewenstekens word nagegaan. Jou lewenstekens sal deur die loop van jou swangerskap deeglik gemonitor word vir enige verandering wat onderliggende probleme kan aandui.
  • Die dokter vra wanneer jy laas gemenstrueer het ten einde die verwagte geboortedatum te bepaal.
  • Jy word uitgevra oor jou voortplantingsgeskiedenis: vorige swangerskappe, miskrame of aborsies.
  • Hy vra ook oor die duur van vorige swangerskappe (op hoeveel weke die baba gebore is), die manier waarop jou baba gebore is (moes ’n verlostang dalk gebruik of ’n keisersnee gedoen word?), die geboortegewig van jou baba, die soort narkose of pynstillers wat gebruik is, en moontlike infeksies, bloeddrukprobleme of komplikasies met bloeding wat kon voorgekom het.
  • Jou ginekologiese geskiedenis word afgeneem, soos inligting oor infeksies in jou bekken of genitalieë, die uitslag van papsmere, onvrugbaarheidsbehandeling, chirurgie en moontlike seksuele mishandeling.
  • Wat is jou mediese geskiedenis en watter siektes het jy al gehad? Sommige chroniese siektes kan baie belangrik in jou swangerskap wees en kan jou gesondheid of jou swangerskap bedreig as dit nie deeglik dopgehou word nie.
  • Het jy sielkundige probleme, was jy ’n slagoffer van trauma of geweld, moes jy al ’n bloedoortapping kry, is jy allergies vir enige medisyne, moes jy al operasies kry en het jy al in die hospitaal beland (en hoekom)?
  • Jou familiegeskiedenis word ook nagegaan. Is daar genetiese risiko’s in jou of jou man se familie? Jou etniese herkoms is belangrik, want sommige toestande kom meer gereeld onder sekere bevolkingsgroepe voor. Is daar ’n geskiedenis van diabetes en hoë bloeddruk, tweelinge, preëklampsie, eklampsie, herhaalde miskrame of babas wat dood gebore is?
  • Jy sal ook fisiek ondersoek word. Jou algemene gesondheid sal nagegaan word en die dokter sal kyk na jou hart, longe, bors, maag, bekken en na tekens van swelling. Aan die einde van die fisieke ondersoek sal jy en jou dokter dalk verder gesels oor bykomende toetse wat nodig kan wees. Maak seker jy verstaan die verskil tussen normale simptome van swangerskap en dié wat op ’n probleem kan dui.

12 tot 28 weke (die 2de trimester)

Die meeste vroue hoef hul dokter in dié tyd net een keer per maand te spreek, maar moenie huiwer om vrae te vra of dokter toe te gaan as jy oor iets bekommerd is nie.

  • Tydens elke ondersoek word urinemonsters geneem, jou bloeddruk getoets, en gekyk of daar swelling in jou arms en/of bene is. Die dokter kyk ook of daar proteïen in jou urine is, of jy genoeg gewig aansit en of jy enige bykomende aanvullings nodig het.
  • Die dokter sal jou baarmoederhoogte gereeld meet, want dit is ’n aanduiding van hoe lank jou swangerskap sal duur.
  • Hy sal luister na jou baba se hartklop en kyk of hy na wense groei en ontwikkel.
  • Bloedtoetse word gedoen om te bepaal of die ontwikkelende baba enige abnormaliteite het, soos spina bifida, Down-sindroom of trisomie 18 (wanneer daar ’n ekstra chromosoom 18 is, wat ’n dodelike toestand kan veroorsaak).
  • Toetse vir diabetes word gewoonlik op twaalf weke gedoen as jy ’n hoë risiko daarvoor het omdat jy voorheen ’n baba gehad het wat meer as 4,1 kg geweeg het, ’n familiegeskiedenis van diabetes het, vetsugtig is of ouer as dertig is. Ander swanger vroue word op 28 weke vir diabetes getoets.
  • ’n Amniosentese kan gedoen word as jy dit verlang. Die dokter kan baie omtrent jou baba uit ’n amniosentese agterkom, maar daar is ’n gevaar van 0,5 persent dat dit komplikasies kan veroorsaak. Dit word gewoonlik net in hoërisiko-gevalle gedoen of wanneer die bloedtoets ’n probleem uitgewys het.
  • Sonar-aftastings word gewoonlik tussen sestien en twintig weke gedoen en is ’n belangrike hulpmiddel om die baba tydens swangerskap te monitor. Dit help om ’n meer akkurate geboortedatum te bepaal, die ontwikkeling van die baba se skelet en organe na te gaan, te sien waar die plasenta lê en die vrugwater te evalueer.

29 tot 40 weke (3de trimester)

In dié tyd sal jy jou dokter meer gereeld sien; aanvanklik elke twee weke en in die laaste maand weekliks.

  • Urinemonsters word by elke ondersoek geneem en jou bloeddruk word gemeet. Die dokter sal kyk of daar swelling aan jou arms en/of bene is, of daar proteïen in jou urine is en of jy na wense gewig aansit. Hy sal die hoogte van jou baarmoeder meet om te bepaal of die verwagte geboortedatum akkuraat is.
  • Ná 34 weke sal die dokter die posisie van die baba bepaal sodat vroegtydig gesien kan word of die baba in ’n brugposisie of dwars lê.
  • Jou serviks sal ondersoek word om vas te stel hoe jou liggaam hom op die geboorte voorberei. Tydens ’n eerste swangerskap is dit algemeen vir die serviks om dun en sag te wees voor dit begin ontsluit. Jou dokter kan deur ’n serviksondersoek vasstel min of meer wanneer jy sal begin kraam.
  • Jou baba se gewig en lengte sal ook van week tot week dopgehou word en as hy groter as normaal is, sal die dokter waarskynlik aanbeveel dat jy ’n keisersnee ondergaan.
  • ’n Rh-teenliggaamtoets en RhoGAM-toets word gedoen indien jy Rh-negatief is. Dié toets word op 28 weke gedoen sodat daar betyds ingegryp kan word om moontlike probleme te voorkom.
  • Op 32 weke word daar gewoonlik besluit watter soort geboorte dit sal wees – vaginaal of met ’n keisersnee – en watter soort pynstillers of narkose gebruik sal word.
  • ’n Sonar-skandering in die derde trimester sal baba se groei en ontwikkeling monitor en kyk of sy organe reg ontwikkel. In hierdie stadium is baba se gewig en lengte ook ’n taamlik akkurate aanduiding van die verwagte geboortedatum. 

Sonar-ondersoeke

Sonar-ondersoeke word minstens 3 keer tydens die swangerskap gedoen om die volgende te bepaal:

  • Die grootte van die fetus en die verwagte geboortedatum
  • Die posisie van die fetus om te kyk of dit in die regte posisie is vir die geboorte
  • Die posisie van die plasenta om te kyk of dit dalk oor die opening van die serviks ontwikkel
  • Die baba se geslag
  • Teen watter pas die baba groei en ontwikkel
  • Of daar genoeg vrugwater is om as “kussing” vir die baba te dien.
  • Dit word ook ingespan om baba tydens gespesialiseerde prosedures soos ’n amniosentese te kan sien en vermy.

Sommige dokters doen met elke besoek 'n sonar-ondersoek, ander doen dit net 3 maal, tensy daar 'n komplikasie is. Daar is nie 'n reg of verkeerd nie, solank jy net seker is jy's in goeie hande.


Dankie aan dr. Dunestia Prinsloo, ’n algemene praktisyn van Northcliff in Johannesburg, vir haar hulp met hierdie artikel.

Bykomende bronne:

www.healthline.com; www.womandoctor.com; www.howstuffworks.com; www.kidshealth.org; www.medicalcenter.osu.edu; www.mayoclinic.com; www.marchofdimes.com; www.pregnancy-info.net; www.amazingpregnancy.com; www.pregnancy.com

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees