Die stryd om baba no. 2

akkreditasie
Jy het sommer gou met jou eersteling swanger geraak, en daarom behoort 'n tweede bondeltjie vreugde mos nie 'n probleem te wees nie? Maar soms is dit...

Met jou eersteling het jy so maklik swanger geraak dat jou maat soms gespot het dat hy amper net vir jou gekyk het, toe is jy swanger. Al wat nodig was, was ’n romantiese aand en ’n nag van passie, en siedaar!

Natuurlik het daardie bondeltjie vreugde jul lewe op alle vlakke verryk en jy kan skaars wag om ’n boetie of sussie vir jou asjas te kry. Maar dan verloop dinge nie so vlot soos jy verwag het nie.

Om jou raak jou vriendinne swanger met hul tweede en derde kinders en jy hoop om binnekort ook die goeie nuus aan te kondig, maar die maande en dalk jare gaan verby en die tweede strepie op die swangerskapstoets bly weg. Hoe is dit moontlik?

Die dokters noem dit sekondêre infertiliteit: die oënskynlike onvermoë om swanger te raak ná minstens een suksesvolle swangerskap en geboorte. En dit wil lyk asof sulke gevalle ál meer voorkom. 

FISIEKE OORSAKE

Vroue sukkel dikwels om die tweede keer swanger te raak omdat hulle doodgewoon te oud is, sê die Britse vroedvrou en fertiliteitskenner Zita West. Omdat baie vroue eers in hul vroeë dertigs die eerste keer ma word, is hulle aansienlik ouer en dan wil hulle nie te lank vir nommer twee wag nie.

“Dit duur egter gemiddeld sowat 18 maande om van jou kind se geboortete herstel en jou liggaam weer ‘normaal’ te kry. Borsvoeding, ongereelde maandstondes, uitputting veroorsaak deur die versorging van jou baba, ’n bedrywige skedule of moegheid wat seks minder gereeld maak – al hierdie faktore speel ’n rol.”

En as jy uiteindelik gereed is vir jou volgende baba, vind jy uit dis te laat. Benewens ouderdomsfaktore is probleme met die Fallopiese buise ’n groot oorsaak van sekondêre onvrugbaarheid, sê die Ierse ginekoloog dr. David Walsh.

“As jy met jou eerste kind ’n keisersnee gehad het, of agtergeblewe plasenta moes ná die geboorte verwyder word, het jy ’n groter kans om bekkenontsteking te kry. Dit kan skade aan die delikate Fallopiusbuisies aanrig.”

’n Mens besef nie altyd dat jy bekkenontsteking het nie. Jy kry dalk ’n ligte koors, het ’n onwelriekende afskeiding en ervaar bekkenpyn, maar jy herstel vanself sonder dat jy ooit agtergekom het jy het ’n probleem – daar is immers nou te veel ander dinge wat jou aandag verg.

Jou Fallopius-buisies is so broos dat dit nie veel verg om hulle te beskadig nie, en skade kan jou toekomstige vrugbaarheid sleg beïnvloed, sê David.

’n Derde oorsaak van sekondêre onvrugbaarheid is wanneer jy ’n ginekologiese toestand het soos baarmoedergewasse of endometriose.

Jy kry dit die eerste keer reg om swanger te raak, maar die tweede keer sukkel jy omdat die kombinasie van die endometriose en die feit dat jy nou minder eierselletjies oor het omdat jy ouer is, sekondêre infertiliteit veroorsaak.

Moet ook nie vergeet dat jou man nou self aansienlik ouer is nie, sê David. Hoewel die media vol is van ouer manne wat pa word en so die indruk skep dat mans tot aan die einde van hul lewe vrugbaar is, begin die spermgehalte van mans ná hul 40ste verjaardag geleidelik afneem.

In sowat 30% van die gevalle waar paartjies sukkel om weer swanger te raak, kan die probleem by die man lê.

DIEETKWESSIES

Baie vroue steur hulle minder aan gesond eet ná die geboorte van hul eersteling, sê die Ierse dieetkundige Margot Brennan.

Dit duur ’n ruk voor jou liggaam ná die geboorte herstel, maar baie nuwe ma’s raak so vasgevang in hul pogings om seker te maak hul baba is goed versorg dat hulle vergeet om na hul eie eetgewoontes om te sien. Swak voeding kan lei tot verlaagde vrugbaarheid.

As jy gesond eet, duur dit sowat drie maande nadat jy ’n baba gehad het voor die vlakke van jou liggaam se voedingstowwe na normaal terugkeer. As jy nog borsvoed ook, gebeur dit eers drie maande nadat jy ophou borsvoed het.

“As jy daarby die verpligtinge van jou werk, huis en baba moet balanseer, kan jy jouself verwaarloos. Tot ’n derde van vroue kry nie genoeg yster in nie en ’n derde ook nie genoeg kalsium nie,” sê Margot.

Jy moet ’n bietjie rooivleis eet om jou ystervlak te herstel. Foliensuur-aanvullings behoort ook geneem te word as jy beplan om weer swanger te raak. Olierige vis en ’n verskeidenheid vrugte, groente en saamgestelde koolhidrate hoort ook op jou spyskaart.

“Nuwe ma’s of ma’s met jong kinders slaap dikwels te min en is geweldig moeg,” sê Margot. “Hulle is geneig om aan styselrige of suikerige koolhidraatkosse te peusel om hulle aan die gang te hou en vinnig energie te gee.

So kry hulle dikwels te min noodsaaklike voedingstowwe in en raak hulle ook oorgewig – albei goed wat vrugbaarheid beïnvloed.”

EMOSIONELE OORSAKE 

’n Hele verskeidenheid emosionele kwessies kan die stres oor sekondêre infertiliteit vererger, wat weer ’n impak kan hê op jou kans om swanger te raak. Een hiervan kan die onderliggende vrees wees dat as jy probeer swanger raak, dit jul huislike lewe in ’n mate kan oorneem en ’n invloed kan hê op die kind wat jy reeds het, sê Zita.

Skuldgevoelens kan ook ’n rol speel. “Ek vra dikwels vir vroue of hulle die kind wat hulle het geniet, en die meeste sê ja, maar hulle voel skuldig omdat hulle nog een wil hê en nie kan verduidelik hoekom nie,” sê sy.

“Die begeerte na ’n tweede kind is so sterk dat ’n ma kan voel haar gesin is nie volledig daarsonder nie. Baie vroue voel egter verspot om om hulp te vra, of hulle voel hulle is gulsig – so baie ander mense begeer dit om net een kind te hê en kry dit nie reg nie, en nou wil hulle hulp hê vir ’n tweede kind. Hulle voel ander mense sal dink hulle behoort dankbaar en tevrede te wees met die kind wat hulle wel het.”

Party vroue raak ontsteld omdat hul gesin nie presies uitwerk soos hulle dit altyd beplan het nie, sê Zita. Hulle word ook angstig omdat die gaping tussen hul kinders groter rek as wat hulle beplan het, en hulle wonder hoe dit hul kinders se skoolsituasie gaan raak, asook die verhouding tussen die medespruite.

Aanvaar die lewe is onvoorspelbaar, sê Zita, en dat rigiede idees oor wanneer en hoe ver uit mekaar jy jou kinders wil hê uiteindelik teen jou kan werk, want dit veroorsaak stres.

’n Klein persentasie van die vroue wat Zita in haar praktyk sien is getraumatiseer deur probleme of komplikasies wat met die vorige geboorte teenwoordig was, en is onderliggend bang vir die geboorte self. As gevolg daarvan is hulle, dikwels onbewustelik, bang om weer swanger te raak.

Dis onduidelik of hulle onbewustelik hul kans om swanger te raak in die wiele ry, en of hulle sielkundige of fisieke struikelblokke in die pad van ’n tweede swangerskap plaas. Hoe dit ook al sy, dis noodaaklik om oor vorige traumatiese ervarings te praat.

“As hulle daaroor praat, begin hulle dit rasionaliseer en aanvaar dat hulle getraumatiseer is deur wat gebeur het,” verduidelik Zita.

“As jy neerslagtig voel ná ’n moeilike geboorte kan jy postnatale depressie ontwikkel, wat lank kan voortduur. So baie van die werk wat ek met vroue doen hou verband met hulle ingesteldheid: As jy jou vrese kan oorwin, gebeur swangerskap dikwels net. Dit werk ook dikwels so wanneer paartjies ophou om vreeslik hard te probeer om swanger te raak. Ek sê baie vir vroue: ‘Die baba sal kom wanneer hy wil kom.’”

Die goeie nuus, sê dr. David Walsh, is dat paartjies die tweede keer suksesvol kán wees en dit gewoonlik ís, hoewel sommige ouer vroue in vitro-bevrugting nodig het. Vir ander kan gereelde (drie keer per week) seks waarskynlik binne twee jaar vir ’n swangerskap sorg.

Wat ook al jou probleem – moenie skaam wees om hulp, raad of net gerusstelling te gaan soek nie, sê David.

“Praat met jou dokter, en moenie huiwer om ondersteuning by jou vriende en familie te vra nie. Dit sal regtig help.”

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees