Drie miskrame en 'n wonderwerk

akkreditasie
Ná drie miskrame was Ezelle Olivier van Citrusdal in ekstase toe sy uitvind sy verwag 'n tweeling, maar weer het 'n skok gewag. Sy deel haar verhaal met ons...

Ek en my skoolliefde is op 07/07/07 getroud. Ons het besluit om dadelik swanger te raak, want albei
van ons wou baie graag kinders hê. Drie maande daarna vind ons uit ek is swanger. Ons was so opgewonde en het reeds begin drome droom oor hom/haar! Toe kry ek ’n miskraam.

’n Maand ná die miskraam het ons uitgevind ek is weer swanger. Ons het geglo hierdie enetjie gaan bly sit, maar ek het weer ’n miskraam gehad. Ek het daarna vir die derde keer swanger geraak, net om weer die teleurstelling van ’n miskraam te ervaar. Dit het gevoel of ek nooit my eie babatjie in my arms sou vashou nie.

Ek het baie gehuil, gebid en antwoorde in God se Woord gesoek – en gekry. ’n Jaar het verbygegaan, maar ek het geweet die Here het ’n plan met ons lewe. Ek het geglo dat ons, as ek weer swanger raak, ons wonderwerkie gaan kry ... ons eie bondeltjie liefde!

Dubbelle vreugde

En toe die blye dag: Ek is swanger. Ek het besluit om dit stil te hou tot ná my eerste doktersafspraak. Net my ma het my geheim gedeel. Met die eerste afspraak was alles perfek en ek het die oorweldigende nuus gekry dat dit ’n tweeling is! Ek was absoluut oorstelp van vreugde. Almal was verbaas en
opgewonde.

’n Week later kry ek ’n afskeiding en verwag die ergste. Sou ek en my man ooit ’n baba van ons eie kon hê? Ek het die beloftes wat die Here my hieroor in sy Woord gegee het, gelees en beter gevoel. Genadiglik was die afskeiding niks ernstigs nie. Met die 12 weke-ondersoek het alles perfek gelyk en op
16 weke het ons uitgevind dis twee dogtertjies – my grootste droom!

En toe die skok

Toe kry ons die nuus: Daar is fout met die een baba se hartjie. Die dokter het ons na ’n spesialis verwys. By hom het ons finaal die verpletterende nuus gekry: Ons een babatjie het ’n hartafwyking met die naam hipoplastiese linkerhartsindroom. Hulle kon niks vir haar doen nie en sy sou nie lank ná haar geboorte bly lewe nie.

Die nuus het al die seer gevoelens van my miskrame teruggebring. Ons was dankbaar om te hoor die ander enetjie is perfek. Dit het my die moed gegee om aan te gaan. By die ondersoek het die dokter egter gewaarsku dat as die een baba binne my sou doodgaan, die ander een ook kon sterf. Dit het die
swangerskap baie stresvol gemaak: Ek was so bang my baba se hartjie gaan staan en ek verloor albei.

Ek was 25 weke swanger toe die dokter ontdek ek is besig om te ontsluit. Dieselfde dag is ek in die hospitaal opgeneem vir twee en ’n half weke en het medikasie ontvang om dit te keer. Hierna was ek twee weke by die huis en 30 weke swanger toe ek die Saterdagoggend opstaan en besef my water
het gebreek. Ek is dadelik weer in die hospitaal opgeneem. Gelukkig was daar nog genoeg vrugwater om die babas se veiligheid te verseker.

Ons het die tweetjies name gegee: Mieke was die enetjie met die hartafwyking en Lené die gesonde een. Hulle het onderskeidelik 1,5 kg en 1,7 kg geweeg. Ek het in die hospitaal gebly en ons is soos goud opgepas. Hoe verder die swangerskap kon vorder, hoe beter vir die oorlewing van die tweetjies.

’n Dag voor 32 weke het ek ’n verskriklike pyn in my buik gekry. Die dokter was bekommerd dat ons lewens in gevaar kon wees en het besluit om die tweeling met ’n keisersnee in die lewe te bring. Op Saterdag, 27 Maart 2010, is ons pragtige tweeling gebore, amper 2 kg elk.

Twee sussies

Met geboorte was Mieke sigbaar baie blouer as Lené. Haar Apgartelling was 5 teenoor Lené se 9. Hulle is onmiddellik na die neonatale waakeenheid geneem. Mieke se hartjie het baie sleg gelyk en daar was niks wat hulle vir haar kon doen nie.

Ek was dankbaar en bly dat albei lewendig gebore is, maar daar was heeltyd hierdie verwagting dat Mieke enige tyd kon sterf. Tydens die swangerskap het hulle vir my gesê sy kan dalk net drie uur lank lewe. Ná die geboorte het ek geweet Lené sal gesond wees, maar ek kon daardie nag nie slaap nie,
want ek het bly wag dat hulle vir my kom sê Mieke is oorlede.

Toe die eerste nag verby was, het hulle gesê sy is nog flouerig, maar die tweede nag was sy beter en die tweede dag kon ek hulle vir die eerste keer sien. Ek het haar gaan vashou – die susters het vertel
haar toestand het heeltemal verander nadat ek haar vasgehou het.

Ons het begin om ons op die ergste voor te berei en besluit dat, as die Here wou hê sy moet lewe, Hy ’n wonderwerk sou verrig.

Ná drie weke is Lené ontslaan en twee weke later het Mieke huis toe gekom. Daar was tye dat ek met die tweetjies op my bors gelê het en dan het ek half in my agterkop gedink dat ’n wonderwerk sou
gebeur en sy sou lewe. Dan was daar tye dat ek met Mieke gesit het en met haar gesels het oor die dag
as sy Jesus sou sien.

Dit was moeilik. Die onsekerheid was erg: ons het elke oomblik die ergste verwag, maar toe verbaas sy ons en word amper drie maande oud. Dit was klaar vir ons ’n wonderwerk. Toe Mieke en Lené twee maande oud geword het, het ons dit gevier deur ’n koek vir die twee te bak. Ons het hulle so geniet en was dankbaar vir elke dag wat Mieke by ons kon wees.

Ons het die tweetjies laat doop. Dit was roerend. My oupa en ouma het al die pad van Hartswater af gekom om hulle in te bring.

Afskeid, maar ook vreugde

Twee weke later, op Vadersdag, is sy weer in die hospitaal opgeneem. Haar suurstoftelling was baie laag en sy het verskriklik gehuil, selfs in haar slaap. Die dokter het gesê dis omdat haar organe opgeswel was. Dit het drukking en pyn veroorsaak.

Die Dinsdagoggend het ek en my man by haar in die kamer geslaap toe ek en die suster agterkom iets is nie reg nie. Sy het nog gelewe, maar geen reaksie getoon nie. Ek het haar opgetel en terwyl ek haar so vashou, het sy haar laaste asempie gegee. Ons moes afskeid neem van ons pragtige babadogtertjie.

Ons harte was stukkend, maar aan die ander kant was ons verlig, want ons het so magteloos gevoel terwyl sy siek was: Ons het geweet sy kry verskriklik seer en ons kon niks daaraan doen nie. Nou was
ons net bly dat sy nie meer so ly nie.

Lené is nou ’n jaar oud en blakend gesond. Sy lag en “gesels” (haar eerste woordjie was ‘Pappa’!), skop en gryp opgewonde, die lyfie gedurig in afwagting vir die volgende ontdekking. Sy kruip die wêreld vol en staan ook al ’n paar sekondes lank alleen. Ek kyk na haar en besef: Sy is ons wonderwerkie, die kindjie vir wie ons so lank gebid het.

Ons vertel haar nou al  van Mieke ... Ek glo Mieke is gelukkig daar waar sy nou is.

Feite: 'n Seldsame harttoestand

Hipoplastiese linkerhartsindroom is ’n gevaarlike genetiese afwyking waar die linkerkant van die baba se hartjie onvolledig ontwikkel of misvorm is.

Die linkerhartkamer is die hart se belangrikste pompkamer. Kinders met dié sindroom se bloedvloei
is dus beperk en daarom ook die suurstoftoevoer na hul lyf. Dit veroorsaak dat sowat 20 persent van
babas met hierdie sindroom binne die eerste paar maande ná geboorte sterf.

In sommige gevalle kan ’n reeks van drie operasies help en die eerste operasie word dan byna dadelik
ná geboorte gedoen. Die kinder-hartspesialis het vir Ezelle verduidelik dat ’n operasie in sommige gevalle moontlik is, maar dat die kanse op oorlewing baie skraal is en daar baie faktore is wat in ag geneem moet word.

Hipoplastiese linkerhartsindroom is gelukkig seldsaam en kom slegs by sowat twee uit elke 10 000 kinders voor. Gaan na www.hopeforhlhs.com vir meer inligting en besonderhede van ’n ondersteuningsgroep.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees