Eerste skoppies in die baarmoeder

akkreditasie
Wag jy angstig op jou baba se eerste skoppie, en wonder jy of daar iets verkeerd is omdat jy dit nog nie gevoel het nie? Of het jy ’n woelige willewragtig in jou maag en wil jy weet of dit normaal is? Hoe kan jy jou ongebore baba wakker genoeg kry sodat jou man hom ook kan voel beweeg? En hoe kan jy toestande in die baarmoeder ná baba se geboorte naboots om hom rustiger maak?

Ons beantwoord al jou vrae oor baba se bewegings in die baarmoeder.

Vraag
Ek is twintig weke swanger met my eerste baba, maar ek het hom nog nie voel beweeg nie. My vriendin is skaars sewentien weke swanger met haar tweede kind en kan al haar baba voel. Is daar iets met my swangerskap verkeerd?

Antwoord
Eerstekeer-ma’s voel gewoonlik die eerste beweging in hul baarmoeder tussen agttien en 22 weke. Vroue wat ’n tweede baba verwag, soos jou vriendin, voel die eerste bewegings vroeër, bloot omdat hulle meer ondervinding het en weet hoe dit moet voel.

Die ligging van jou plasenta bepaal ook wanneer jy daardie eerste fladdering in jou maag ervaar. As jy ’n anterior plasenta het (die plasenta lê voor teen die maagwand), sal jy jou baba eers van 22 weke af voel beweeg.

Dit kan ook gebeur dat jy ná daardie eerste bewegings vir weke lank weer niks voel nie. Dit is ook normaal en gebeur gewoonlik wanneer jou baba van posisie verander of omdat sy piepklein voetjies (op 22 weke is hulle skaars 8 mm lank!) en vuisies teen ’n minder sensitiewe deel van jou baarmoeder skop en slaan.

Vraag
Hoe voel bababeweging in die baarmoeder? Hoe kan ek dit onderskei van maagkrampe en hongerpyne?

Antwoord
Lugborreltjies, springmielies wat skiet, ’n klein gouevissie wat binne-in jou maag swem of ’n fladderende skoenlapper. Dít alles is al gebruik om bababeweging in die baarmoeder te beskryf. Die antwoord is egter soortgelyk aan die een oor hoe jy weet wanneer jy jou groot liefde ontmoet: Jy wéét net.

Vraag
Hoe gereeld moet ek my baba voel beweeg?

Antwoord
Jy hou dalk nie van stilsit nie, maar jou suster kan ure lank roerloos op die bank voor die televisie lê. Dieselfde geld babas in die baarmoeder. Sommiges is eenvoudig meer aktief as ander. Oor die algemeen gebruik dokters en vroedvroue minstens tien bewegings per dag (vanaf ongeveer 25 weke) as ’n maatstaf. Jy kan ook werk op vier bewegings per uur.

Onthou egter dat die eerste bewegings baie liggies is. Teen die derde trimester raak dit kragtiger. Daarná kan jy weer ’n afname in jou baba se beweging ervaar omdat dit effe beknop raak daarbinne. Dit bly egter belangrik om bedag te wees op jou baba se patrone van beweging (sien die volgende vraag en antwoord vir meer inligting hieroor).

Vraag
Ek is 28 weke swanger en my baba het die afgelope 24 uur nog glad nie beweeg nie. Ek is bekommerd. Wat moet ek nou doen?

Antwoord
Hou ’n skoptelling. Sit of lê rustig agteroor, hou jou hand op jou maag en tel hoeveel keer jou baba in byvoorbeeld twintig minute beweeg. As jy geen beweging gevoel het nie, staan op, stap rond en gaan sit of lê weer na ’n paar minute. Tel dan weer jou baba se bewegings. Dit kan wees dat jou baba gedurende jou eerste skoptelling geslaap het. Babas slaap tot sestig minute op ’n slag en beweeg dan min of glad nie.

Dis ’n goeie plan om ’n skoptabel op te stel, selfs al is jy nie bekommerd oor jou baba se beweging nie. En as jy hoë bloeddruk het, is dit veral ’n goeie idee.
Doen dit só:
Knyp dertig minute of ’n uur op ’n spesifieke tyd van die dag af. Teetyd tussen 15:00 en 16:00 is ’n goeie idee, mits jy altyd hierdie halfuur of uur kan afknyp. Hou dan telling van hoe gereeld jou baba in dié halfuur of uur beweeg. Skryf dit neer. Meet dan altyd jou baba se beweging aan sy beweging in dié tydperk.

Dít sal jou help om jou ginekoloog meer akkurate inligting te gee as jy bekommerd is oor jou baba se beweging. Dit is baie meer waardevol om te kan sê met hoeveel of hoe drasties jou baba se beweging afgeneem het as om bloot te sê jou baba beweeg minder.  

As jou baba se beweging aansienlik afgeneem het, raadpleeg jou ginekoloog . Hy of sy sal jou baba se hartklop monitor en as dit bevredigend is, jou met ’n geruste hart huis toe stuur.
Onthou egter dat dit nie abnormaal is om jou baba vir lang tye nie te voel beweeg nie. Ma’s wat besig is deur die dag voel selde hul baba voor sononder. Onthou ook dat nie net lekker harde skoppe as beweging tel nie.

Vraag
Kan ek my baba se beweging beïnvloed?

Antwoord
Ja. As jy jou baba wil voel beweeg (of dalk net vir jou man of ’n vriendin wil wys hy beweeg regtig), kan ’n paar slukke Coke of ’n koppie koffie byna onmiddellik resultate oplewer. ’n Groot hap sjokolade sal hom ook wakker maak en dalk lei tot ’n bollemakiesie of twee.

Moet egter nie dié raad volg voor jy gaan slaap nie. Jou baba sal jou heelnag wakker hou! Die meeste babas word wakker en begin beweeg ’n rukkie nadat jy geëet het. Kafeiënryke drankies en kos bespoedig dit net.
Jy kan ook op jou maag druk om reaksie uit te lok.  

Vraag
Waarmee is my baba besig as ek hom voel beweeg?

Antwoord
Jou baba hou daarvan om sy armpies en hande te gebruik om vuishoue uit te deel, kompleet soos ’n bokser. Hy skop ook graag, veral in die rigting van jou ribbes. Die klein gimnassies maak ook gereeld draaie van 180 en 360 grade. Hulle draai selfs so laat as 34 weke nog rondomtalie!
Jou klein volmaakte babatjie sluk al van twaalf weke af vrugwater en iewers tussen 25 en 28 weke kan hy begin hik, wat jy ook sal kan voel.

Vraag
Kan my baba verstrengel raak in die naelstring?

Antwoord
Die naelstring kan om jou baba se nek draai, maar dit hou geen gevaar vir hom of jou in nie. Dit kan wel komplikasies veroorsaak tydens geboorte. Dit is (ongelukkig) ’n mite dat jy nie wasgoed mag ophang of met ’n besem mag vee terwyl jy swanger is nie omdat dit kwansuis die naelstring om jou baba se nek kan laat draai.

Vraag
Ek is 36 weke swanger en my baba lê steeds met sy boudjies na onder. Met ’n vorige besoek aan my vroedvrou het sy voorgestel dat ek hom op 37 weke moet help om uit dié ligging te draai deur twee maal per dag vir tien minute op my rug te lê met my boude deur twee kontinentale kussings gestut. Is dit ’n goeie plan en kan my baba seerkry?

Antwoord
Die ideale geboorteposisie van baba is met die kop na onder, ken teen die bors gedruk en die rug teen die moeder se buikwand. ’n Stuitligging (waar jou baba óf met sy kop boontoe óf met sy voetjies of boudjies ondertoe lê) is egter algemeen. Hoewel daar geen bewys is dat dit werk nie, gebruik vroedvroue al vir baie lank die tegniek waar ma’s twee maal per dag vir tien minute op hul rug moet lê met hul boude deur kussings gestut. Volgens vroedvroue kan dit tot twee weke duur voor dié tegniek werk. Sommige babas draai egter nooit uit die stuitposisie nie.  

Soms word die ma ook aangeraai om vir ’n paar minute op haar hurke te sit met haar sitvlak na bo en dan die baba te help draai deur die boudjies liggies in een rigting te du en die kop in die teenoorgestelde rigting. As jy vermoed dat jou baba gedraai het, moet jy so gou moontlik vir ’n sonarondersoek gaan om dit te bevestig. En as jou baba gedraai het, moet jy die oefening staak.
Raadpleeg egter jou dokter voor jy enige van dié twee tegnieke beproef.

Jou ginekoloog kan ook help om jou baba uit die stuitposisie te lig. Hulle gebruik ’n tegniek genaamd eksterne kering en oefen dit gewoonlik eers vanaf 37 weke uit. Soos die naam aandui, keer hulle letterlik die baba om van die buitekant af deur sy boudjies te lig en ondertoe te druk. Ginekoloë sal egter eers ’n paar faktore oorweeg voor hulle eksterne kering doen. Die grootte van jou baba, jou plasenta-ligging en hoeveel vrugwater jy het, is van dié faktore.

Vraag
My ginekoloog sê ek het taamlik min vrugwater in my baarmoeder. Kan dít ’n invloed hê op hoe gereeld en gemaklik my baba beweeg?

Antwoord
Dink aan die baarmoeder as ’n swembad. Sommiges is vol water en ander net halfvol. ’n Baba wat in ’n halfvol swembad lê, gaan natuurlik nie so vrylik en gemaklik beweeg soos een in ’n vol swembad nie. As die vrugwater in jou baarmoeder aan die min kant is, het jou baba minder water om in te beweeg. Dit behoort egter nie die hoeveelheid bewegings te beïnvloed nie, maar wel die gehalte van jou baba se bewegings.

Vraag
My baba beweeg baie meer in die aande as gedurende die dag. Beteken dit dat hy meer slaap in die dag en gevolglik meer wakker is in die nag?

Antwoord
Dit is taamlik algemeen dat ma’s meer beweging in die aand te voel as gedurende die dag. Dit is omdat die meeste van ons in die aand begin afskakel en minder aktief raak. Dit is ook waar dat jou baba heerlik gesus word wanneer jy aan die gang is. Wanneer jy rustiger raak of gaan slaap, stop die beweging en kan jou baba wakker word en begin woel.

Vraag
Ek het gelees dit is belangrik vir my om die baarmoeder-omgewing na te boots wanneer my baba eers gebore is. Hoe weet ek hoe dié omgewing vir my baba gelyk, gevoel en geklink het?

Antwoord
As jy verstaan watter sensoriese insette jou baba in die baarmoeder gehad het, kan jy sy oorgang na die buitewêreld – wat ’n enorme skok is – gladder maak deur in die eerste weke ná sy geboorte dié omgewing sover moontlik na te boots.

Hier is ’n paar wenke:

  • Om jou nuwe baba in ’n toedraaikombersie toe te wikkel, is die beste manier om die stewige drukking (ook genoem diepdrukking) van die baarmoeder na te boots. Dit sal ook voorkom dat hy snags van ’n skrikrefleks wakker word, wat dikwels gebeur. In die baarmoeder was sy handjies meestal naby sy gesig. Probeer dit ook naboots wanneer jy jou baba toewikkel.
  • Naas jou stem (wat jou baba al van twintig weke af taamlik goed kan hoor), sal stil, ritmiese witgeraas help om jou baba te kalmeer, want dit klink soos die gedempte klanke en geruis in die baarmoeder. Koop of maak ’n kasset van die gedreun van ’n stofsuier of statiese radioseine. Kassette met kalmerende musiek gemeng met die ritmiese geluid van ’n hartklop, of Barokmusiek sal ook jou baba sus.
  • Hoe mooi al die helderkleurige babakamer- tooisels ook al is, moet jy liewer die babakamer vir die eerste paar maande in gedempte kleure versier. Jou baba se gesigsintuig is die een sintuig wat nie goed ontwikkel word in die baarmoeder nie. Hoewel sy oë al teen week 21 oopgaan en ligsensitief raak, is gedempte, taamlik donker lig al waaraan hy in die baarmoeder gewoond was.

Dankie aan Dr. Karen Norman van die Fetal Assessment Clinic by die Kingsbury-hospitaal in Claremont; Darryl Wilmot , vroedvrou en aanbieder van voorgeboorte- klasse vir byna twintig jaar; en dr. Janneman de Bruijn, verloskundige, vir hul waardevolle hulp met dié artikel.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees