"Ek sal dit beslis weer by die huis doen"

akkreditasie
07:50, 28 Augustus 2010
07:50, 28 Augustus 2010
Angélique Mac Mahon Meyer was nie so seker oor die pyn-ding nie en wou net 'n epiduraal hê. Tot sy hoor dis te laat, sy moet druk...

"Toe ek en my man in Januarie 2010 uitvind ons is swanger, was ons baie opgewonde maar die eerste gedagte wat by my opgekom het was... GEBOORTE GEE!!! Met al die ervarings en stories wat ek al gehoor het, het ek en my man besluit dit gaan sommer ‘n keiser wees want dit is die maklikste en minste pyn!

"So op 6 maande het ons voorgeboorte klasse bygewoon en daar het ons geleer van al die tiepe geboortes. Van daar af het ons heeltemal anders na my hele swangerskap gekyk! Het op die einde besluit op ‘n normale vaginale watergeboorte sonder enige medikasie, as dit moontlik is, by die Genesis Kliniek in Saxonwolrd! Toe begin die groot wag...

"Dit was Vrydagaand, 27 Augustus 2010, so 11-uur toe ek en my man (Rudi) besluit dis tyd om in die bed te gaan klim. Terwyl ek in die bed rondskarrel om my lê te kry, voel my boepie skielik net anders. Ek dink toe dis net Madam wat rondskuif om haar lê ook te kry.

"'n Paar minute later spring ek op toilet toe met die vreeslikste maag krampe. Ag nee, die wegneemete wat ek die middag gehad het was af!

"Net terug in die bed waar liefie al lankal in droomland is, moet ek weer op... toilet toe! Na dié toiletsessie besluit ek ek gaan maar op die bank in die sitkamer lê, wil nie liefie steur met sy beauty sleep nie.

"Net my lê op die bank gekry, toe wil ek piepie... ag tog... waggel-waggel af in die gang toilet toe. Nogsteeds krampe op my maag besluit ek om maar in ‘n warmbad te klim om te kyk of die krampe sal weg gaan. Ná die bad was die die krampe weg, so nee, dis nie kontraksies nie. En in elk geval is baba se tyd eers September...

"Net weer terug op die bank toe begin die krampe. So het dit gegaan tot 3-uur die Saterdagoggend... ek op en af toilet toe as gevolg van ‘n wegneemete! Ek dink toe die pyne op my maag kom en gaan, so ek gaan kyk wat die tyd intervalle is... so 15min uitmekaar. Kan nie kontraksies wees nie, my water het nog nie gebreek nie (dit het in die bad gebreek sonder dat ek dit weet). En baba kom eers September! Dis alles net toevallig!

"So teen 4-uur sms ek my vroedvrou (Sue King) net om by haar te hoor wat sy dink en ja, sy sê dit is die vroeë fase van die geboorteproses maar sy sien my later die oggend vir my weeklikse opvolg besoek.

"Teen 5-uur begin die kontraksies erger word en begin ek opbring. Intussen het my man wakker geword en my gehelp in die badkamer. Hy bel die vroedvrou en sy's oppad na ons toe om net vas te stel hoever ek al ontsluit het. Ons kan dan saam kliniek toe gaan, wat normale prosedure is.

"Intussen besluit ek maar om op die toilet te bly want ek voel die gemaklikste daar! Die kontraksies is nou baie erg... voel elke keer of ek net die dak kan af skreeu! Maar byt maar op my handdoek en sit op die toilet!

"Op dié staduim voel dit dat ek nie meer die pyn kan vat nie want ek moet heel moonlik vir nog so 7 tot 10 ure met die kontrakisiepyne loop. So ek sê vir my man, 'Bel die kliniek nou en se hulle moet die epiduraal reg hê, ek kan nie meer die pyn vat nie!'

"Hy is op die foon met die kliniek toe die vroedvrou hier aankom, 7:15. Ek wyer eenvouding dat sy my moet ondersoek want ons moet ry... ek soek my epiduraal nou! Maar sy sê sy moet my ongelukkig eers ondersoek voor ons ry.

"Op ons bed lê ek... en vroedvrou begin met haar inwendige ondersoek. Tot ‘n skok deel sy ons mee dat ek al ten volle onsluit is en baba se koppie is al amper besig om te kroon! WOW!

"Dan het ek nie ‘n epiduraal nodig nie... pyn gaan nou-nou oor wees. Ons gaan die baba by die huis moet hê... daar is geen ander opsie nie! Die vroedvrou gaan haal haar mediese toerusting uit die kar, my man kry ou handdoeke bymekaar, en hier is ons in ons kamer!

"Sue verduidelik vir my hoe ek moet maak met elke kontraksie, wanneer ek moet ophou druk en weer moet druk. Die seerste is toe die baba se kop kroon, maar toe die koppie deur is, is die lyfie ook deur.

"En so is Amoré om 7:50 gebore op 28 Augustus 2010. Sy het 4 kg geweeg en was 57 cm lank! Sue laat haar dadelik op my lê en ons wag dat haar naalstringetjie ophou klop voor my man die stringetjie afsny.

"Sue help my tot by die bad sodat ek net kan bad, en bring toe vir Amoré dat ek net die meeste nageboorte kan afwas. Gaam klim terug in die bed, waar ek, my man en Amoré rustig saamlê.

"Alles was so 'n wonderlike ervaring. Daar was niks negatief omtrent my hele geboorte ervaring nie, die Maandag het ek al wasgoed gewas en huis aan die kant gemaak. Ek sal beslis weer daardeur gaan en dit weer by die huis doen, al was dit nou nie so beplan nie!

"By die huis is jy in jou eie omgewing en ek het baie meer gemaklik gevoel. Later het my man vir ons lekker ontbyt gemaak en verder het ons die heeldag in die bed spandeer, met Amoré op my bors, en DVDs gekyk! Nou waar gaan jy dit in 'n hospitaal kan doen?"

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees