Epidurale verdowing

akkreditasie
As jy natuurlik wil kraam, maar darem iets vir die pyn soek, is epidurale verdowing vir jou die beste keuse. Hier's alles wat jy daaroor moet weet.

Jy het ’n paar boeke gelees, ’n wiegie aanmekaargetimmer en jou hospitaaltassie gepak. Al wat nog oorbly is die geboorte. As jy nie kans sien om soos die vroue in jou voorgeboorteklas-video’s te bulk van die pyn nie, is epidurale verdowing dalk wat jy nodig het.

Dr. Adi Smit, ’n narkotiseur van Kaapstad, beantwoord jou vrae oor epidurale verdowing.

Wat is epidurale verdowing?

Die narkotiseur spuit ’n lokale verdowingsmiddel in die epidurale ruimte tussen die laerug-werwels in. Dit voorkom dat die senuwees daar pynboodskappe na die brein kan stuur en andersom. So verdoof dit ’n spesifieke deel van jou lyf.

Hoewel epidurale verdowing meestal met bevallings verbind word, word dit ook algemeen in heup-, knie- en buikoperasies ingespan.

Hoe werk dit?

Die brein word deur middel van miljoene senuweepunte in die rugmurg met die res van die liggaam verbind. Rondom die rugmurg is die spinale vloeistof, wat in plek gehou word deur ’n dun vliesie wat die dura-membraan genoem word. Die ruimte tussen die werwels en hierdie vlies word die epidurale ruimte genoem (epiduraal beteken letterlik “buite die dura”).

Die epidurale ruimte lê so 4 tot 5 cm onder die oppervlak van die vel. Die narkotiseur verdoof eers die area op die rug met ’n lokale verdowingsmiddel. Dan word ’n dun pypie of epidurale kateter deur middel van ’n dikkerige naald in die epidurale ruimte geplaas.

Die naald word daarna verwyder sodat die kateter in die epidurale ruimte agterbly. Medikasie word vir die res van die kraamproses deur hierdie epidurale kateter toegedien. Jou narkotiseur sal voor die epiduraal al ’n drup insit sodat jou dokter jou bloeddruk kan beheer terwyl jy kraam.

Moet ek dit vooraf reël?

Normaalweg is epidurale verdowing nie iets wat jy vooraf reël nie, bloot omdat geboortes van nature taamlik onvoorspelbaar is. Dis wel belangrik om lank voor die geboorte reeds aan jou opsies vir pynverligting te begin dink.

Kontraksies verskil van vrou tot vrou en dis moeilik om te voorspel wanneer in die kraamproses jy ’n epiduraal gaan nodig kry as jy op een sou besluit. Beplande induksies is ’n uitsonderlike geval waar jy vooraf vir jou ginekoloog kan sê dat jy epidurale verdowing wil hê.

Induksies gaan normaalweg gepaard met meer pynlike kontraksies, sodat baie vroue sterker pyn- verligting verkies.

Wanneer moet ek vir ’n epiduraal vra?

Die kort antwoord hierop is wanneer die pyn vir jou te erg raak. Wanneer presies dit is verskil van vrou tot vrou, maar epidurale verdowing word in die algemeen eers toegedien wanneer die kraamproses goed op dreef is, oftewel wanneer jy reeds 3 of 4 cm ontsluit het en jou kontraksies reëlmatig en sterk is.

Jy sal die meeste voordeel uit jou epiduraal trek as jy vroeër liewer as later daarvoor vra. Baie vroue voel dat hulle deur die pyn moet worstel ter wille van ’n natuurlike geboorte en is dan heeltemal ontsenu en gedaan wanneer hulle ná ure se gespook uiteindelik erken dat hulle hulp nodig het.

Onthou, die geboorte van jou kind hoef nie ’n onaangename ervaring te wees nie.

Is dit ooit te laat vir ’n epiduraal?

Daar is vroue wat nie vreeslik pyn ervaar nie en vir hulle is epidurale verdowing onnodig. As jy egter nie een van hierdie gelukkige minderheid is nie, kan dit te laat wees om vir ’n epiduraal te vra wanneer jy reeds in aktiewe kraam is, dus as die baba se koppie al wys en jy hom nog net moet uitdruk.

Hoe beïnvloed ’n epiduraal die bevalling?

Dis ’n wolhaarstorie dat epidurale verdowing die bevalling langer maak of jou kanse op ’n keisersnee verhoog. Die gebrek aan gevoel kan wel die tweede (aktiewe) fase van die geboorte langer maak omdat jy nie die natuurlike impuls om af te druk so sterk voel soos iemand wat sonder verdowing kraam nie.

Dit kan weer jou kans op ’n tang- of suierverlossing verhoog. Daarom word die medikasie dikwels verminder vir die aktiewe fase van die geboorte sodat jy steeds pynverligting het, maar terselfdertyd voel wanneer jy moet druk.

Wat is die uitwerking op ma en baba?

Dis onwaar dat ‘n epiduraal jou kans verhoog om chroniese rugpyn te ontwikkel. Die invloed op jou is meestal gering en beperk tot ’n ligte hoofpyn en effense ongemak op die plek waar die epiduraal toegedien is.

Wat wel ’n invloed op jou kan hê is die weerhouding van pynverligting. Daar is geen ander terrein van die lewe of mediese veld waar van ’n mens verwag word om bloot vas te byt en geen pynverligting te ontvang nie. Hoekom moet die kraamproses dan anders wees?

As jou bloeddruk en temperatuur binne die normale fisiologiese perke bly, hou die verdowing ook geen slegte gevolge vir jou baba in nie. Dis nie waar dat ’n epiduraal babas meer lomerig maak nie. Inteendeel, die baba is biochemies beter daaraan toe as wanneer jy morfieninspuitings vir verligting van kraampyn kry.

Kan die mediese personeel ’n epiduraal sonder my toestemming toedien?

Nee, net jy kan toestemming vir ’n epiduraal gee. Baie vroue ervaar egter druk om sonder pynverligting aan te sukkel, en dit is net so verkeerd as wanneer iemand namens jou besluit dat jy pynverligting nodig het as jy voel die tyd is nog nie reg nie.

Ons almal ervaar pyn anders en jou vlak van pynverdaagsaamheid kan selfs van baba tot baba verskil. Dit bly egter jou keuse om te sê wanneer jy nie langer sonder pynverligting kan regkom nie. Niemand het die reg om namens jou vir of teen enige pynverligting te besluit nie.

Wat is die verskil tussen ’n epiduraal en ’n spinale blok?

’n Spinale blok is ’n baie digte blok met narkose as doel. Met ander woorde, dit maak die plek waar ingespuit word heeltemal “aan die slaap”. ’n Epiduraal verlig daarenteen net die pyn in ’n sekere deel van jou liggaam.

’n Spinale blok word direk in die spinale vloeistof ingespuit en dit bied onmiddellike verligting van pyn, terwyl dit 5 tot 10 minute kan duur voor die epiduraal werk.

’n Spinale blok is ’n eenmalige toediening van medikasie en daar word dus nie, soos met ’n epiduraal, ’n kateter in die rug gelos waardeur medikasie deurlopend toegedien kan word nie. Tydens ’n bevalling word ’n spinale blok gewoonlik met ’n beplande keisersnee ingespan.

Epidurale verdowing word weer as pynverligting aangewend tydens ’n natuurlike geboorte. As jou dokter ’n noodkeisersnee moet doen, kan die narkotiseur bloot die medikasie van die epiduraal verhoog wanneer jy in die teater gestoot word en het jy dus nie ’n spinale blok nodig nie.

Wat is die neweeffekte en risiko’s?

Daar is ’n mate van risiko verbonde aan enige mediese prosedure en epidurale verdowing is geen uitsondering nie. Daar is ’n verskeidenheid newe-effekte en komplikasies waarvan jy moet weet, maar onthou ook dat ernstige komplikasies baie seldsaam is.

Algemene newe-effekte

  • ’n Effense val in bloeddruk wat jou lighoofdig kan laat voel
  • Hoofpyn
  • Naarheid en braking
  • ’n Jeukerige gevoel om die area van die epiduraal
  • Swakheid in jou bene
  • Jy kan begin bewe as jou liggaamstemperatuur daal.
  • Jy sal ’n kateter moet hê vir die duur van die epiduraal omdat die pynmedikasie ook veroorsaak dat jy nie jou blaas kan voel of beheer nie.

Ernstiger komplikasies

  • Hewige hoofpyn
  • Rugpyn
  • ’n Verlengde verlies aan gevoel

Seldsame, maar baie ernstige komplikasies

  • Epidurale bloeding, wat ’n operasie kan noodsaak
  • Infeksie
  • Neurologiese komplikasies, insluitend permanente verlamming
  • Dit kan gebeur dat ’n stukkie van die epidurale kateter agterbly wanneer dit verwyder word en dit moet dan met nog ’n operasie verwyder moet word.

Enige raad vir nuwe ma’s?

Praat vroeg in jou swangerskap al met jou dokter oor pynverligting. Dis baie moeilik vir ’n dokter om 3-uur die oggend, ná ure van pynlike kraam, met jou hieroor te praat en jou ingeligte toestemming te kry. Moet jou nooit as ’n swakkeling beskou as jy hierdie opsie kies nie!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees