Episiotomie: Snit wat saak maak

akkreditasie
Wat is beter: dat jy skeur terwyl jy kraam of dat die dokter 'n episiotomie doen? Hier's die feite. 

Wat is ’n episiotomie en hoekom word dit gedoen? Hoe nodig is dit dat dokters dit soms as ’n standaardprosedure uitvoer wanneer ’n bevalling normaal verloop?

Die prosedure

’n Episiotomie is ’n snit wat met ’n spesiale skêr gemaak word om die vagina kunsmatig te vergroot.

Die perineum, wat die deel tussen die vaginale en anale opening is, word versigtig geknip net voor baba se koppie duidelik sigbaar word. Die area word vooraf plaaslik verdoof en ná die geboorte weer met oplosbare steke toegewerk.

Die snit word op veral twee maniere gemaak: reguit vanaf die vaginale opening in een lyn met die anus (midlynepisiotomie) of skeef vanaf die vaginale opening na enige kant, weg van die anale opening (mediolaterale episiotomie).

Die soort snit hang onder meer van jou dokter se voorkeur af, of hy links- of regshandig is en hoe jou baba se koppie gedraai is.

Hoekom word dit gedoen?

Met die meeste vaginale geboortes is daar in ’n mindere of meerdere mate trauma indie perineale area as gevolg van die drukking op die spiere en weefsel daar.

As jy in die finale stadium van die geboorteproses met ondersteuning wydsbeen kan hurk of staan, werk jy saam met swaartekrag en kan dit die drukking op die vaginale vloer en perineum minder maak as wanneer jy op jou rug lê. Sou die drukking steeds te groot wees al hurk of staan jy, sal jy “natuurlik” skeur.

Afhangend van hoe die bevalling verloop, kan dit egter wees dat jy genoop word om op jou rug te lê. Die hoofrede is dat die dokter kan sien wat aangaan en vinniger en beter kan ingryp indien nodig.

As jy epidurale verdowing gekry het, moet jy ook lê, want jou bene is verlam. In dié posisie druk jy jou baba letterlik teen swaartekrag uit, wat die drukking op die vaginale vloer verder vergroot en dus groter spanning op die perineum plaas. As gevolg van dié drukking en die kans van ’n skeur knip baie dokters die area eerder vroegtydig en gekontroleerd.

In sommige situasies is die kans vir ’n episiotomie groter:

  • Wanneer die baba baie groot is of die geboorte onverwags uitgerek en moeilik is, is die gevaar groter dat die druk op baba se koppie skade kan veroorsaak. Die opening word dan vergroot om dit vir hom makliker te maak.
  • Wanneer baba nie met sy gesiggie na onder uitkom nie, is sy koppie gewoonlik so gedraai dat dit ’n groter omtrek het. Die vaginale opening moet dan vergroot word om plek vir die groter kop te maak.
  • ’n Tangverlossing noodsaak ook vergroting van die vaginale opening omdat daar genoeg plek vir die instrument ook moet wees. Hoewel ’n suigapparaat (vakuum) van buite af op baba se koppie geplaas word, doen dokters dikwels ook ’n episiotomie om die proses te vergemaklik en beveilig. ’n Epidurale verdowing verhoog die kanse op die gebruik van instrumente omdat ’n mens nie kan voel presies wanneer kontraksies plaasvind nie en dus nie hard genoeg druk nie. Die baba moet dan uitgehelp word.
  • Vroeër jare is die snit gemaak om geboortes te vergemaklik by vroue wat bekkenprobleme of -operasies gehad het, stuitliggende babas en selfs vroeggebore babas. Deesdae word keisersneë in dié gevalle gedoen.

Hoe kan jy skeuring vermy?

Gesels vooraf met jou dokter hieroor. Asjy ’n episiotomie wil vermy, is dit beter om ’n dokter te kies wat dit nie as standaard prosedure doen nie en die keuse aan jou oorlaat.

Onthou net dat enigiets tydens die bevalling kan gebeur wat mediese ingryping noodsaak en dan moet jy jou dokter vertrou. Om die kanse op ’n episiotomie of skeuring te verminder, kan jy jou perineum in die laaste vier weke van die swangerskap meer elasties maak deur dit te masseer en strek.

Jou maat kan dit vir jou doen as jy gemaklik daarmee voel, veral omdat dit teen dié tyd moeilik gaan wees om self te sien presies waar dit gedoen moet word. As jy verkies om dit self te doen is dit ’n goeie idee om ’n gemaklike posisie bo-op ’n handspieël in te neem sodat jy kan sien wat jy doen.

Gebruik ’n bietjie watergebaseerde smeermiddel en masseer die perineum elke dag. Plaas dan twee vingers binne-in die vaginale opening en strek dit ’n paar keer op ’n slag sagkens na weerskante. Wees versigtig en werk sagkens.

Die goeie nuus as jy ’n watergeboorte oorweeg is dat water die perineum versag en soepeler maak.

Selfs al het jy nie op ’n watergeboorte besluit nie, is dit nie ’n slegte idee om tot die finale stadium van die kraamproses in water te wees nie om die perineum sagter te maak.

Sommige vroue vind in elk geval dat water ’n strelende uitwerking op kontraksies het.

Genesing van die plekke

In verreweg die meeste gevalle is ’n episiotomie suksesvol en genees die wond vinnig. Dit behoort nie langer as ’n week seer te bly nie. As daar bloeding of ’n slegruikende afskeiding is, moet jy dadelik dokter toe. Dit kan wees dat ’n infeksie ingetree het wat medies behandel moet word.

Soms kan die steke ook te styf ingesit wees en die wond sal dan baie trekkerig voel en sensitief en geswel wees. In so ’n geval sal die middelste stekie geknip word om verligting te bring.

Jy kan die ongemak verlig deur elke dag ’n kort rukkie in ’n lou warm bad te sit waarin growwe sout opgelos is.

Die Feme Pad is ’n jel-doekie van Carriwell wat verligting kan bring. Jy dra dit ná die bevalling in jou doekie en dit koel die area sommer gou af en maak sit baie gemakliker. Belê in een en neem dit saam hospitaal toe op jou kraamdag. Skaf sommer ’n Carriwell-kraambroekie ook aan sodat daar nêrens ’n naat is wat druk nie.

Dit kan gebeur dat die wond nie na wense genees nie. By sommige mense verdik die weefsel rondom ’n wond wanneer dit genees. As jy dié geneigdheid het, is die kanse groter dat jou episiotomie ’n opgehewe, stywe litteken vorm wat ongemak kan veroorsaak.

Hoewel dokters probeer om ’n episiotomie so goed moontlik te doen, gebeur dit tog dat enkele gevalle minder suksesvol is as ander en dan kan jy herhaalde ontsteking in dié area kry.

As die wond nie na wense genees het nie of die litteken ongemak veroorsaak, kan dit met ’n operasie herstel word.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees